‘Ek steun nou op God, nie op my kwalifikasies nie,’ sê mediese dokter wat nou ook boeke uitgee

ARTIKEL EN FOTO DEUR DAWID YZELLE

“Die Here is so goed vir my. Ek is daarvan oortuig dat Hy nog altyd geweet het waarheen ek op pad is,” sê dr Lynette Basson van Bethlehem in die Oos-Vrystaat.

Lynette is ’n algemene praktisyn, maar sy is die afgelope ses jaar ook aan die stuur van HCM Publishers, ’n uitgewer van boeke met ’n sterk Christelike boodskap.

Om in gehoorsaamheid te wandel

Die verhaal van dié twee uiteenlopende loopbane in ’n enkele mens se lewe is iets besonders:

Tydens ’n wegbreekgeleentheid in April 2015 het Lynette se geestelike leier, Eugéne Marais van Haima Christou Ministries, haar met dié boodskap geskakel: Die Here het aan hom gesê dat hulle ’n uitgewery van stapel moet stuur. Dat die uitgewery in Bethlehem gesetel moet wees. En dat sy aan die hoof daarvan moet staan.

“My eerste reaksie was eers een van ongeloof,” vertel Lynette. “Ek het gereken hulle soek bloot iets vir my om te doen …

“Maar ek het die opdrag onmiddellik by my Vader se voete gaan neerlê. En ek het Hom gevra hoe dit moontlik kan wees. Ek is dan nie hierin opgelei nie.”

Die Here se antwoord aan haar was baie duidelik: “Ek gee HCM Publishers aan jou omdat jy dan op My gefokus sal wees en op My sal steun en nie op jou kwalifikasies nie.”

Sedertdien, getuig sy, het HCM Publishers begin groei, en ál groter geword. Alles volgens die Here se Woord, en in sy tyd en krag. “Ons het nie minder nie as agttien boeke in agttien maande gepubliseer. En dit met ’n klein Gideonsbende wat al die werk doen.

“Tans is daar 24 boeke op ons publikasielys. Al ons boeke en opdragte word heel eerste by die Here se voete gelê. En ek geniet elke oomblik daarvan om in gehoorsaamheid te wandel.”

‘Elkeen uniek in sy oë’

Lynette (56) se mediese loopbaan is lank nie iets van die verlede nie. Sy vertel dat sy altyd ’n passie vir die operasieteater gehad het. ’n Hele paar jaar gelede het sy haar werk in die praktyk gestaak en begin om onder andere haar man Niël (55), ’n ginekoloog, in die teater by te staan.

Lynette Basson
Te midde van Lynette Basson en haar man Niël se mediese loopbane, staan hulle albei ook in die bediening. Foto verskaf

“Dit bied my die ruimte om my vrye tyd te bestuur. My man en my kinders – Jonathan (23), Carine (21) en Philip (19) wat almal reeds uit die huis is – ondersteun en motiveer my baie. Te midde van my mediese loopbaan staan ons ook in die bediening.

“Met al die baie hooi op my vurk werk ek lang ure. En dikwels begin my agt ure in die kantoor eers om vyfuur die middag.”

‘Hy weet presies …’

By HCM Publishers word elke boek as ’n unieke opdrag van die Here beskou. Dis ’n opvatting wat eiesoortige uitdagings meebring. Lynette vertel: “Dis vir ons belangrik dat die skrywer se hart behoue bly. Dis belangrik om die waarheid volgens die Woord van God te versprei.

“Die tydfaktor is ook ’n reuse-uitdaging, en ons doen ons bes om die skrywer met finansiële uitgawes tegemoet te kom, sodat elke boek bekostigbaar kan wees.”

Die ongewone balanseertoertjie om ’n loopbaan as dokter én uitgewer te volg, het Lynette geleer dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie. “Sy hart is sag vir ons almal. Elkeen is uniek in sy oë.

“Hy weet presies watter boeke wanneer gepubliseer moet word. Dan is die hart van die ontvanger reeds daarop voorberei. Deur die getuienis van sy kinders word mense gestig, bemoedig en bekeer.

“Die lewe gaan nie oor ons nie, maar oor al sy kinders. En sy hart vir die nasies.”

Lewensbly, ten spyte van Covid-sterftes

In Junie vanjaar het Lynette albei haar ouers weens Covid-19-verwante oorsake verloor. Haar ma Kate is op 10 Junie oorlede, en haar pa Tommie die volgende dag. In die tyd ná hierdie oorweldigende verlies het Lynette se lewensvreugde dikwels die mense om haar verstom.

Hoe jy die lewe ervaar, hang af van hoe jy daarna kyk, sê sy.

“Ek het nog altyd, my lewe lank, die klein dingetjies in die lewe raakgesien en vreugde daarin gevind. Daar is nie regtig lelike dinge nie; daar is altyd iets moois in alles. As ons net lank genoeg kyk.

“Deur die jare, soos wat my persoonlike verhouding met die Here gegroei het, het daar ’n innerlike vreugde gekom. Dis net altyd daar. Daar gebeur baie dinge om ons, hartseer dinge, maar wanneer ons fokus op die Here is, kan niks sleg wees nie.

“Die Skrif sê dat die Here goeie dinge beplan vir ons wat Hom liefhet, nie slegte dinge nie. En dit ís so.

“Dit wat vir ons sleg lyk, is nie sleg nie. Die Here se denke is anders as ons s’n – en dit staan ook so in die Skrif. Wat vir ons dwaas is, is vir die Here wysheid, en andersom. Ons moet net die invalshoek van ons denke verander.

“Ons moet mekaar deur sy oë sien. Ons moet met sy ore na mekaar luister. Dan sal ons ook mekaar kan liefhê soos wat Hy ons liefhet.

“Dit mag nie net by woorde en denke bly nie; dié woorde moet lewendig in ons word. En ons moet ’n vaste geloof hierin kry, want dan is dit ’n krag. Die leemte wat my ouers se dood laat, bring hartseer, ja. Maar ek weet dat die dood sy angel verloor het.”

’n Dringendheid

Lynette se geloofspad strek terug tot in haar kleintyd. “Vandat ek kan onthou, wou ek altyd graag kerk toe gaan,” vertel sy. “Dit was vir my die lekkerste lekker om Sondagoggende op te staan en reg te maak vir kerk.

“In die jaar 2000, net voordat ons Bethlehem toe getrek het, het die Heilige Gees ’n ernstige soeke in my aangewakker. Daar was ’n dringendheid in my om meer en meer te leer.

“In 2010 is ek en Niël in ’n yskoue Loch Athlone, ’n dam hier buite Bethlehem, gedoop. Kort daarna het ons by ons huidige kerkgroep, Haima Christou, aangesluit. Dis hier waar ek geleer het dat Jesus waarlik leef. Dat ons Hom mag liefhê met alles wat in ons is.

“Dit is só belangrik om ’n lewende verhouding met Hom te hê en om tyd saam met Hom deur te bring. Daarsonder is ons godsdiens ’n dooie godsdiens. Ons beweeg in die laaste tye in – en ons moet onthou: ‘It is a war and a wedding feast.’ Dié twee is onlosmaaklik van mekaar.”

Die water van die lewe – en dit verniet!

Met Kersfees om die draai en ’n nuwe jaar wat voorlê, is Lynette se uitkyk in Jesus geanker.

In dié tyd, so glo sy, sluk die wêreld en die dinge van die vlees ons dikwels in en dit het tot gevolg dat ons die ware boodskap misloop. “Ons fokus op Kersfees en ons vergeet om te fokus op die Here wat tyd en tye in sy hande het. Ons behoort altyd ’n boodskap in ons hart te dra – een van geloof, hoop en liefde. In oorvloed.”

Lynette se 2022-boodskap vir haarself en vir ander gelowiges is in Openbaring 22:17 se woorde te vind: “En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.”

Sy sê: “Die koring staan wit op die lande en die arbeiders is min. Die tyd om die oes in te bring, is hier. Ons is die arbeiders. Laat ons nie meer dink aan ons eie begeertes nie, maar laat ons die dinge van die wêreld aflê en fokus op die oes. Daar gaan ’n tyd kom dat dit te laat is.

“Wanneer ons egter die werk doen en ons eie begeertes aflê, kan ons dit met vreugde en passie doen, met ’n vooruitsig en ’n verwagting!”

 

 Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img