Sunday, July 25, 2021

‘Ek vind moed en inspirasie in Bybel,’ sê 21-jarige wat boek uitgee om ander te help

Deur Conette le Roux

“Toe ek gaan dink hoe ek my 21ste verjaarsdag op 2 Desember moet vier, en ek besef watter moeilike jaar ons met die Covid-19-pandemie gehad het, het ’n normale verjaarsdagpartytjie in 2020 nie heeltemal reg gevoel nie,” vertel Thembalethu Seyisi.

Dié derdejaar regstudent aan die Universiteit Stellenbosch het toe besluit om iets te doen wat ’n medestudent sal help om haar uitstaande universiteitskuld te betaal.

Binne minder as vier maande het ’n boek met 21 lewenslesse die lig gesien van bekendes soos voormalige openbare beskermer prof Thuli Madonsela, aktrise Sandra Prinsloo en persoonlike mentors soos sy pa Sithembiso Welcome Seyisi.

Die fondse wat deur die verkoop van die boek ingesamel word, sal dan onder andere vir die 22-jarige Natasha Chigamba se uitstaande universiteitsgeld gaan én hy hoop om ander Suid-Afrikaners boonop te inspireer.

Die 22 bekendes en persoonlike mentors wat bygedra het tot Thembalethu Seyisi se merkwaardige boek. ’n Gedeelte van die inkomste uit die boekverkope gaan ook aan die #ALSgaanOKwees-fonds. Dié fonds is deur vriende vir joernalis Hannelie Booyens gestig wat teen motorneuronsiekte veg. Die doel is om met dié geld vir haar lewensnoodsaaklike toerusting te koop wanneer sy nie meer kan loop of praat nie, het Thembalethu verduidelik.

Thembalethu verduidelik dat Natasha op 7-jarige ouderdom as weeskind vanaf Zimbabwe na Suid-Afrika gekom het. “Haar tragiese kinderlewe maak dit wat sy tot dusver bereik het net soveel meer ongelooflik. Hoewel haar matriekpunte uitstekend was, het sy nie as vlugteling vir NSFAS-befondsing gekwalifiseer nie. Daarom het sy die afgelope paar jaar verskriklik hard gewerk om haar onderrig te betaal. Natasha het tot dusver baie verskillende goed gedoen om haarself te onderhou – sy het kinders opgepas, as kelner gewerk, skoonheidsprodukte verkoop. Maar sy skuld die universiteit steeds R60 000 om in Desember haar graad in tandheelkundige higiëne te verkry.”

‘’n Sterk geloof en verhoudings dra jou in moeilike tye’

Die idee van sy boek 21 Life lessons @ 21 het egter eers in middel-Augustus vanjaar ontstaan. “Dit was harde werk om vir my November-eindeksamen te leer én om die boek finaal te redigeer. Maar ek is so bly ek het deurgedruk. Ek het die ondersteuning van ’n wonderlike groep vriende en familie gehad wat my gemotiveerd gehou het,” vertel dié jongman wat sopas gehoor het hy het al sy vakke geslaag.

LEES OOK: Verskilmakers: Moderne verlore seun se genadepad

Volgens Thembalethu is die belangrikste lewensles wat hý vanjaar tydens die Covid-19-pandemie geleer het dat ’n sterk geloof en verhoudings ons kan dra deur moeilike omstandighede.

“Ek het ook geleer dat die krag van liefde veel sterker is as die krag van haat. Menslike solidariteit is van die grootste belang as ons in ’n vreedsame wêreld wil leef waarna ons almal smag. Want solank daar onreg is, en mense kyk weg, sal daar nooit volhoubare vrede wees nie,” sê Thembalethu.

Thembalethu Seyisi met sy boek 21 Life lessons @ 21.

Sy boek gee die lewenslesse van ’n groot verskeidenheid mense aan die leser. “My pa se inspirerende lewensles gaan oor hoe draf sy lewe gered het. Prof Madonsela het ’n brief aan haar 21-jarige self geskryf oor selfaanvaarding en hoe ons almal vir vrede en geregtigheid moet werk,” vertel Thembalethu.

Sandra Prinsloo skryf weer hoe ons na vrede en balans in die natuur moet soek. “Jy gaan onmiddellik in die natuur wil gaan stap nadat jy haar skryfstuk gelees het,” lag Thembalethu.

Thembalethu sê sý inspirasie vind hy in die Bybel. “Ek sou beslis nie gekom het tot hier sonder God nie. Veral na ek my ma op 13 verloor het. Ek vind moed en inspirasie vanuit die Bybel om liefde en welwillendheid uit te deel en om mense in nood te help.

“My droom is om na my studies vir die wetgewer te werk en politici te help om te besef hoe belangrik grondige wette is. En om eendag my eie regsfirma te besit.”

Besoek https://21lifelessons.co.za om 21 Life lessons @ 21 as gedrukte boek (R250) of as e-boek (R150) te bestel.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img