‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar lange stryd teen kanker. En hoewel sy heengaan ’n onbeskryflike leemte laat, het die Here haar en haar gesin al die pad gedra. Vandag getuig sy: “U, Vader, is vir my genoeg!”

DEUR DEONETTE DE KOCK

“Die nuus dat ons kind kanker het, het vier jaar gelede ons lewe onherroeplik verander,” sê Lelanie. Die oudste van haar kinders, Le Roux (24) – Karlien is 23 jaar oud en Jeanne 19 – is in Junie 2017 met osteosarkoom in sy regterboarm gediagnoseer. Dis ’n soort aggressiewe beenkanker.

“Ons is ’n baie hegte gesin. En kanker tref ’n hele familie. Dit was alles so onwerklik, dit was asof ons ’n fliek gekyk het. Ons almal – my man Herman, ’n tandarts, my dogter Jeanne wat toe in die hoërskool was en Karlien wat op universiteit was – moes eensklaps ’n wêreld trotseer waarin die lewe voortgegaan het asof daar niks gebeur het nie.

LEES OOK: ‘Daar ís ’n beter more saam met God,’ getuig Ina Bonnette

“Ek en Herman het uit die staanspoor vir mekaar gesê ons sal nie toelaat dat hierdie ding ons huwelik vernietig nie. ‘Abba’ het geweet dis ons hartsbegeerte en Hy het ons krag gegee.

“Ons kon saam huil in die nag, saam bekommerd wees en saam treur.”

‘Onverskrokke in sy geloof’

Le Roux se behandeling het drie maande se ingrypende chemoterapie behels, gevolg deur ’n skouervervanging en toe weer drie maande chemoterapie. Die opvolgskanderings was almal ‘skoon’. Tot in Oktober 2018 …

Le Roux Kriel. Lelanie vertel dit was ‘n eer en voorreg om sy ma te kon wees. Foto verskaf

Op 28 Januarie 2020 is sy regterlong verwyder omdat die kanker versprei het. Le Roux moes bestraling ondergaan om die pyn te beheer en die kanker te stuit. In 2021 het die kanker die spinale koord vasgedruk en hy het alle gevoel in sy bene verloor.

Ná ’n operasie moes hy ’n rugstut dra en weer leer loop. Maar ná vyf weke het die kankergewas weer die werwelkolom afgesny, en Le Roux het in ’n rolstoel beland. ’n Hospitaalbed is tuis vir hom voorberei.

Toe het die kanker na sy hart en die ander long versprei.

Lelanie vertel: “Sy liggaam was gebreek, maar hy het nooit sy rug vir God gedraai nie. Le Roux het sy jeug verloor, en die sorgvryheid wat daarmee gepaardgaan. Sy gesondheid was daarmee heen. Hy moes sport prysgee – wat tennis vir die eerstespan ingesluit het, asook rugby en fietsry. Hy moes sy studies opskort, BSc Agric op Stellenbosch. Hy het sy eerste liefde verloor.

“Tog was hy nooit ’n slagoffer nie. Hy was onverskrokke wat sy geloof betref, hy het openlik getuig. Ook op Instagram waar 1 500 mense dit kon lees. Hy was ’n inspirasie vir ons almal, vir die dokters en die mediese personeel.

“Sy geloof het gegroei. Hy het ’n Bybelstudiegroepie saam met sy vriende gestig wat nou nog bestaan.”

‘’n Eer en voorreg om sy ma te wees’

Lelanie sê sy voel skuldig dat haar dogters agter in die ry moes inval om van haar tyd en aandag te kon kry; Le Roux se behoeftes het voorrang geniet. Herman het ure lank fiets gery om te probeer sin maak van dié dinge wat hul hele lewe in beslag geneem het.

Volgens Lelanie het haar oudste seun met die donker hare, wat by Hoër Landbouskool Boland gematrikuleer het, ’n sterk persoonlikheid gehad. Vir hom was ’n saak óf wit óf swart. “En hy was nogal hardkoppig. Jy kon hom nie omkoop nie. Hy was ’n introvert, maar hy was baie lief vir mense, vir musiek. Hy was ’n tipiese student.

“Le Roux het tyd gehad om sy dinge reg te maak. Hy het vir ons elkeen ’n silwer ringetjie laat maak. Op Sondag 2 Mei 2021 is hy in sy kamer by ons huis oorlede. Ons was by hom.

“Ek kan die leemte wat hy gelaat het nie in woorde uitdruk nie. Ek kan net sê dit is ’n eer en voorreg om Le Roux se mamma te wees.

“Ons is hartseer, ons rou, ons gaan deur die hele proses. Maar jy bereik ’n stadium waar jy jou na die lewe moet draai; jy kan nie die dood bly koester nie. As jy so iets deurgemaak het, beskik jy oor die vaardighede om ander mense te bemoedig. Want jy was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is jy weer uit.

“Le Roux was braaf, dapper, ’n legende. Ek het ’n wilsbesluit geneem om te sê: ‘U, Vader, is vir my genoeg!’ En Hy het gesorg dat my emosies en denke in ooreenstemming kom met my besluit.

“Ek het deur my kind ’n Skepper, God en Vader leer ken wat ek andersins nooit sou geken het nie.

“Nou wag Le Roux vir die laaste trompet wanneer hy opgewek gaan word en ’n verheerlikte liggaam sal ontvang, en wanneer hy ons weer sal sien. Tot dan is hy op ’n plek waar daar geen pyn of lyding meer is nie.

“In Johannes 9:3 sê Jesus: ‘Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie, maar die werke van God moet in hom openbaar word.’

“Dit alles is tot eer van die Vader. Ek het nooit gevra ‘hoekom?’ nie. Ek het Hom ook nooit verwyt nie. Want die apostel Jakobus stel dit duidelik: ‘Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk’ (Jak 1:2).

“Hierdie vreugde kom nie van die wêreld nie en dit kan nie gesteel word nie. God het my deur dié beproewing geneem want Hy het geweet ek sal dit deurstaan. Toe ek swak was, was Hy sterk. Die Skepper van die heelal weet hoe dit voel om sy kind af te gee. Hy het dit vir my en jou gedoen.”

‘Nogtans sal ek jubel’

Lelanie het ’n gedig oor Le Roux geskryf waarin sy haar emosies só verwoord:

Die kamer is leeg,

die bed is leeg,

my hart is leeg.

Die tandepasta raak nie op nie,

die handdoek word nie nat nie.

Weg is sy geur.

Die pille is weg, masjiene ook.

Die Bybel bly toe.

Die foto’s wil praat en lewe,

maar is stom.

Die selfoon bly pap in ’n laai,

die beursie lê net daar.

Drome, toekomsplanne – hulle meld nog elke dag aan.

Die trane los my nie.

Die verlange is altyd, altyd daar.

Die vrae bly.

Die raaisels wen.

En as dit weg is,

wat bly dan oor?

Al sou sy stem nie meer weerklink nie

en daar geen seun

in die kamer meer wees nie;

nogtans sal ek jubel,

sal ek juig in God my Redder.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Previous articleRy die langpad om
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img