‘Ek was ma van twee op 14,’ vertel vrou ná twyfelagtige kinderlewe

DEUR SALOMÉ TADFORD

Ek was tussen vyf en ses jaar oud toe ek die eerste keer gemolesteer is.

Ek was nog nie 14 nie, toe het ek reeds twee kinders gehad. Nie omdat dit my keuse was nie, maar omdat ek verkrag is.

Een van my kinders, my seuntjie, is van my weggeneem en ek het hom tot vandag toe nog nie weer gesien nie.

Later het ek in ’n verbeteringskool beland. En ek het nie verder as graad vyf op skool gevorder nie.

Salome tadford
Salomé as 15-jarige tiener. Foto verskaf

Vandag is ek 54 jaar oud, ek woon in Krugersdorp en is reeds 37 jaar lank gelukkig getroud. Ek het twee kinders wat uit my huwelik gebore is, sowel as daardie eerste dogter. Ek kon dit regkry om die negatiewe siklus te breek. En my kleinkinders is in liefde binne ’n huwelik gebore.

Al die ondersteuning

Ek sou nooit sonder ondersteuning uit al die negatiwiteit kon losbreek nie. Die dag toe ek my man Leonard (hy is nou 57) in Gumtree-straat in Alberton ontmoet het, was eintlik die begin van my nuwe lewe. Leonard se ouers, Arthur en Lina Tadford, se Christelike waardes het my die moed en leiding gegee om op te staan.

LEES OOK: 5 mees gelese getuienisse in 2021

My man was wel nie dadelik daarvan oortuig dat ek die regte een vir hom is nie. Hy het aanvanklik weggehardloop vir die meisie wat gerook het en nie skoolgegaan het nie. Hy was ’n gereelde kerkganger en het ook ’n Bybelstudiegroep bygewoon. Ek het nie so iets geken nie.

Salomé en Leonard se troudag. Foto verskaf

Maar sy pa was vol wysheid en hy het anders na my gekyk. Hy het sy seun aangemoedig om saam met my uit te gaan. Sommer gou was ons lief vir mekaar en in 1984 is ons getroud.

Al die goeie dinge oor die lewe wat ek vandag weet, het ek by my man en sy ouers geleer. Ek het ook by hulle geleer hoe ouers hul kinders moet beskerm.

My hartseerstorie

Ek was twaalf jaar oud toe ek deur die toedoen van ’n vriend van my ma die eerste keer swanger geraak het. Hy het na ons huis gekom om kamma na my om te sien nadat ek met witseerkeel in die hospitaal was. Ek was nog siek en het baie medikasie gebruik. Hy het my verkrag, óf terwyl ek geslaap het, óf terwyl ek vanweë die medisyne deurmekaar was. Ek kan niks daarvan onthou nie.

Vyf maande later het ek gehoor ek is swanger – nadat my ma my dokter toe geneem het omdat ek bly kla het dat ek sleg voel. My ma wou dat ons die baba laat aborteer, maar die dokter het gesê dis te laat.

Ek is by die skool uitgeskop en mag nie teruggekeer het nie. Voor die bevalling het my ma my na ’n tehuis vir ongehude moeders geneem, waar ek eensaam en ongelukkig was. Later het sy my daar kom haal en na vriende geneem. Op 26 April 1980 is my dogtertjie gebore.

Ek is terug huis toe, na my ma en stiefpa toe, met my dogtertjie en al.

Kort daarna, ek was dertien jaar oud, het ’n familielid wat vir ’n ruk by ons gewoon het my verkrag. Hy het bedags skelm na my kamer gesluip wanneer my stiefpa, wat nagskof gewerk het, geslaap het.

Ek was doodbang en het dit nooit vir iemand vertel nie. Toe ek maande later besef ek is weer swanger, het ek stil gebly. Later het my ma onraad bemerk. Niemand het my ooit gevra wat gebeur het of wie die pa is nie. Ek vermoed my ma het wel geweet.

Uiteindelik het my ma my voor die bevalling weer na dieselfde tehuis geneem. Dié keer het ek daar gebly tot en met die geboorte.

Daarna het ek weer by my ma en stiefpa gaan woon en na my twee kinders omgesien, al was ek self nog ’n kind. My seuntjie was net ’n paar maande oud toe mense by ons huis opdaag en sê dat hulle van die welsyn is en dat hulle my seuntjie kom haal. Ek was onseker en het gedink hulle weet seker wat hulle doen.

Salomé se seuntjie wat sy sowat 40 jaar laas gesien het. Foto verskaf

Vandag vermoed ek my ma het hom laat aanneem. Die aand toe sy by die huis kom ná haar dag se werk, het sy nie eens gevra waar hy is nie …

Verbeteringskool

Die omstandighede tuis was moeilik omdat my ma en stiefpa baie baklei het. Dit het meestal gebeur omdat my ma ontrou was. Sy was ’n baie aantreklike vrou.

In 1982 is hulle uiteindelik geskei. Ek en my jonger boetie en my babadogtertjie het by my stiefpa gaan woon. Kort ná die egskeiding het die welsyn ons egter kom haal. My dogtertjie en jonger boetie is kinderhuis toe en ek is na ’n verbeteringskool gestuur.

Met my aankoms daar is ek deursoek en in ’n kamer toegesluit. Dit was geweldig traumaties. Ek het eenvoudig besluit dat ek nie daar sal bly nie, dat ek op ’n manier moet wegkom. Ek kon in elk geval ook nie verstaan waarom ek daarheen moes gaan nie, ek het geen misdaad gepleeg nie.

’n Paar weke later kon ek dit regkry om te ontsnap. Ek het ’n vriend gevra om my op te laai en na my pa in Alberton terug te neem.

Ek moes kort-kort vlug. Ek moes ’n tyd lank op ’n ander plek gaan woon omdat die polisie my opgespoor het en my na die verbeteringskool wou terugneem. My dogtertjie het naweke kom kuier en ek het haar gereeld gesien.

Keerpunt

Kort hierna het ek die man ontmoet met wie ek later sou trou. Leonard se pa het gehoor dat ek vir die gereg vlug en hy het aansoek gedoen om as voog op te tree aangesien ek nog minderjarig was.

Ek was 17 toe ek en Leonard in 1984 getroud is. Ons het na KwaZulu-Natal verhuis omdat hy daar werk as veiligheidsbeampte by ’n klerevervaardiger gekry het. Ons het ’n dogtertjie en ’n seuntjie gehad.

Ons het ons kinders in ’n beskermde, gelowige huis grootgemaak. Ek glo dis hoekom hulle vandag suksesvolle mense is.

Salome Tadford en gesin
’n Onlangse foto van Salomé en haar gesin. Hoewel sy elke dag wonder oor haar seuntjie wat destyds van haar weggeneem is, is sy baie dankbaar vir haar familie wat sy het en hulle ondersteuning. Foto verskaf

In 1994 is my ma in ’n motorongeluk oorlede. Daarna het my man my oudste kind wettig aangeneem en sy het by ons kom woon.

Ongelukkig leef Leonard se ouers nie meer nie.

Ek het ’n goeie verhouding met my kinders. My groot hartseer is my seun wat van my weggeneem is. Hy sou vanjaar 40 geword het.

Ek wil help

Ek wil meisies help wat gemolesteer is. Hiervoor het ek Kids in Distress SA (KIDSA) in 2019 gestig. Ons fokus op swanger meisies van 16 jaar en jonger wat seksueel mishandel of aangerand is.

Ek wil hulle eerstens aanmoedig en ondersteun om hul skoolloopbaan te voltooi. Ek wil hulle ook wys daar is ’n alternatief, daar is hoop.

Geld is egter ’n kwessie. Tydens verlede jaar se eerste inperking het my man sy werk verloor. Hy was in die toerbedryf. Tans kan ons slegs, met die hulp van Grace Factory in Vanderbijlpark, pakkies uitdeel aan jong vroue wat by die Yusuf Dadoo-hospitaal geboorte gee. So ’n pakkie bevat ’n baba se eerste uitrusting, doeke, boudsalf en ander dingetjies wat ’n mamma en haar pasgebore baba benodig.

Ek en my man wil egter baie graag soveel meer doen. Ons wil ’n sentrum begin waar swanger meisies wat seksueel aangerand en mishandel is met hul skoolwerk gehelp word. Ons droom ook van ’n plek waarheen so ’n meisie en haar baba na ons kan terugkeer sodat ons hulle kan ondersteun.

Dit was omdat ek deur Leonard en sy ouers ondersteun is dat ek kon opstaan. Dat ek ’n beter lewe kon leef. Dat ek vandag is waar ek is.

* Besoek KIDSA op Facebook https://www.facebook.com/KidsInDistressSA of gaan na www.kidsa.org.za vir meer inligting.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

#2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

DEUR ADRI COETZEE So breek my eerste chemoterapiesessie aan. Teen die muur in die onkologie-afdeling staan dié teksvers geskryf: Neh...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img