‘Ek was sonder hoop, maar God en my village het my kom optel,’ getuig vrou ná miskraam

DEUR GRETHE CONRADIE; HOOFFOTO: NANETTE PHOTOGRAPHY

Miskraam.

Ek kyk dikwels na dié woord – en dit bly vir my iets allervreesliks. Dit laat ’n mens wonder of vroue wat dan wel kraam, “reg” kraam, “raak” kraam.

’n Miskraam is nie iets wat in elke paartjie se gedagtes is wanneer die ekstase van swangerskap hulle tref nie. Wanneer dit egter wel gebeur, spoel die gevoel van absolute magteloosheid soos ’n tsoenami oor jou.

Grethe, en haar man Wikus het na die miskraam weer swanger geraak en vandag is Ingo ‘n driejarige kleuter. “Ek was natuurlik baie emosioneel toe ek uitvind dat ek weer swanger is. En baie bang. Sommige dae het die vrees gedreig om my te oorweldig. Maar ek het vroeg-vroeg in dié tweede swangerskap besef dat vrees nie my vreugde hoef te steel nie. Dat die Here my voorberei om ’n mamma vir Ingo te wees,” vertel Grethe. Foto verskaf

Daar is die dokter se woorde wat jou tot in jou fondamente skud: “Ek is jammer; dit was wel ’n miskraam.” Daar is die skok wat jou bene laat wankel, wat al jou drome van ’n wiegie en ’n mooiversierde kinderkamer en ’n warm asempie in jou nek wreed kom wegpluk.

LEES OOK: ‘In ons swaarkry het ek God in al sy grootsheid ontmoet’

My storie kom uit 2017. Ek sou die betrokke dag ’n vliegtuig haal na ’n konferensie in Johannesburg. Maar nadat ek die vorige aand steekpyne ondervind het, het my dokter my aangeraai om by die hospitaal se ongevalle-eenheid te gaan aanmeld. Volgens haar het alles op ’n dreigende miskraam gedui. Ek was ongeveer 11 weke swanger.

By die hospitaal het ’n ginekoloog my ondersoek en gevind dat ek inderdaad ’n gedeeltelike miskraam beleef het. Dié dokter het geduldig, rustig en kalm met my en my man gewerk. Sy het die proses en die prosedures so gemaklik moontlik probeer maak. 

‘Wat as …?’

Maar elke vrou wat al so iets beleef het, weet dat alhoewel almal jou wysmaak dat jy niks verkeerds gedoen het nie, dat dit nie jou skuld is nie, jy steeds miljoene teregwysings aan jouself rig.

Al die “wat as”-vrae …

Wat as ek nie reg geëet het nie? Wat as ek meer geoefen het? Wat as die keer toe ek onseremonieel ’n stukkie grond gekoop het, my hande uitgestrek om my maag te beskerm, my tóg skade berokken het?

Jy spartel in ’n see van selfverwyt.

Dan kom die mediese prosedures. Die keuses. Besluite waarvoor jy nie regtig kans sien nie, maar wat geneem móét word. En die medikasie: Volg ons die prosedure-roete of die natuurlike roete? Elkeen ewe erg, elkeen met dieselfde uiteinde.

Engele, vir mamma én pappa

En so, met ’n waterval wat oor jou wange stroom, moet jy staande bly. Jy moet sterk wees en vorentoe kyk. Ek is nie ’n mens wat daarvan hou dat almal om my kloek nie en daarom het ek versoek: Geen blomme nie, asseblief. En geen kos-aandraery nie (jou vrieskas kan immers net sóveel macaroni-en-kaas huisves). En geen Bybelversies wat my moet kom regtower nie.

‘Al wat ek van hom kon sien, was sy voetjies’

Dan is daar die mense wat veronderstel is om empatie te toon, maar wat jou ignoreer. Of jou ondervinding soos ’n nietigheid laat voel deur hul onsensitiewe kommentaar. ’n Voorbeeld: “Jy was darem nie te ver in jou swangerskap nie; dit kon dus nie té traumaties gewees het nie.”

Gelukkig is daar ook die engele in jou lewe wat jou hart kom heel maak. Die vriende wat dadelik na jou toe ry, wat doodgewoon “daar” is. Die vriende wat bloot ís. Wat aan jou wys dat hulle omgee. Jou ouers wat jou vashou en jou huis kom regruk omdat jy geen greintjie krag daarvoor het nie.

My persoonlike ervaring is dat mense bloot “daar” moet wees vir iemand wat so ’n ellende deurmaak. Jy wil slegs weet dat daar mense is wat omgee. Jy wil geen geykte trooswoorde hoor nie. Jy wil hê dat jou ondersteuningstelsel jou kom toevou, dat hulle beskikbaar is.

Bemoediging en ware omgee is balsem vir jou siel – mits dit opreg oorgedra word.

En moet tog nie die pappa vergeet nie, want ook sý drome is met so ’n gebeurtenis aan skerwe geruk. Hy het dieselfde ondersteuning en omgee nodig as die mamma. 

Dit het my gehelp om vir die Here vrae te vra. Om aanbiddingsliedjies kliphard te luister – só hard dat heavy metal-groepe my sou beny …

En dit het gehelp dat ek myself toegelaat het om te huil. ’n Lelike huil; nie ’n mooi of sagte of ’n vroulike huil nie. Die soort huil wat jou soos ’n opgefrommelde armadillo laat lyk.

Voorts het ek gesorg dat ek wegkom uit die huis, dat ek sommer die pad vat. Ek het gaan fliek of in winkels rondgedwaal.

Uiteindelik word dit tóg beter. Die son skyn weer helder, jou hoop kry weer vlerke en jou hart word stuk-stuk ligter. Jy sal wel altyd onthou …

September sal altyd vir my ’n bittersoet maand wees.

Maar dan …

Maar dan is daar, maande later, die klein gesiggie van jou nuwe bondel vreugde. Julle snoeshaas wat so perfek gevorm is wat jou hart kom vermurwe. Dan weet jy dat hoop springlewendig is. En dat as jy daardie warm lyfie op ’n wintersoggend vashou, die letsels op jou hart so ’n bietjie kleiner en so effens ligter word.

Ek was natuurlik baie emosioneel toe ek uitvind dat ek weer swanger is. En baie bang. Sommige dae het die vrees gedreig om my te oorweldig.

Maar ek het vroeg-vroeg in dié tweede swangerskap besef dat vrees nie my vreugde hoef te steel nie. Dat die Here my voorberei om ’n mamma vir Ingo te wees.

Ingo is nou ’n lewenslustige driejarige kleuter. En al sal September altyd vir my ’n bittersoet maand bly, is Ingo ’n herinnering aan die Here se guns en sy goedheid oor ons lewe.

My boodskap aan mense wat traumatiese ervarings soos hierdie deurmaak, is om daaroor te praat. Ek weet ’n mens wil nie altyd praat nie, maar dis ’n feit dat dit jou laat beter voel wanneer jy jou seer, jou vrae en jou hart met ander kan deel.

Leef dag vir dag, en weet dat hoop leef. Hou aan om, in geloof, te staan vir waarin jy glo. En die son sal weer oor jou begin skyn.

Geen mens se ervaring is ’n duplisering van ’n ander s’n nie; vind dus ’n manier wat vir jou werk om die seer te verwerk – en onthou altyd Jeremia 29:11 se woorde.

Ek wil vir elke vrou wat deur hierdie proses gaan of gegaan het ’n flentertjie hoop kom gee, en ’n drukkie. Ons vorm deel van nog ’n “village” in die “groter village”. Mag jy weer die son op jou gesig voel skyn, en mag jou hoop weer arendsvlerke kry. Mag jou “village” jou optel en jou voete salf, want jy is dit werd.

  • Grethe Conradie en haar rekenmeester-man Wikus en hul driejarige seuntjie Ingo woon in Kleinmond in die Overberg. Sy is bemarkingsbestuurder van die Whale Coast-winkelsentrum in Hermanus.
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img