3 Mei 2021

Sy is ’n ginekoloog wat gereeld moes hoor hoe paartjies se probleme met seks hartseer in verhoudings veroorsaak. Toe gaan studeer sy verder en word ’n seksuoloog. Ontmoet dr Marlena du Toit, ’n gelowige wat daarvan oortuig is dat intimiteit ’n Godgegewe opdrag is.

Deur AMI MOORE

Met ons aanlyn onderhoud vul groot, eerlike blou oë, ’n opregte glimlag en dik, lang heuningblonde hare die skerm. Kort-kort verskyn haar hande. Raakvatter-hande wat reg staan vir wat ook al opduik.

Dr Marlena du Toit is ’n mens wat vir die lewe se ekstra uitdagings kans sien. Daarvan getuig haar persoonlike lewe ook. Sy is eers in haar vroeë veertigs getroud, vertel sy. En met ’n wonderlike man, ’n man uit God se hand vir haar gegee – saam met vier tienerkinders.

’n Nuwe seisoen

Marlena het in 2009 as pasgekwalifiseerde ginekoloog en verloskundige haar praktyk se deure geopen. Daar het sy ’n klomp babas gevang, mín ge­slaap, maar dit alles besonder baie geniet.

Baie vroue het haar van hul seksuele probleme vertel. Dié vroue se slegte erva­rings het haar aan die hart geraak. Sy het ook besef hoe gebrekkig haar eie opleiding in dié verband was. Sy vertel: “Jy wil graag help, maar daar was nie ’n kundige medikus in die Kaap na wie jy hulle kon verwys nie. Boonop kleef daar vir sommige mense ’n stigma daaraan om verwys te word na ’n professionele persoon wat in seksuele probleme spesialiseer.“Om sake te vererger, het sommige kenners se lewensuityk en probleemoplossingsmetodes nie altyd aanklank gevind by die vroue wat ek wel verwys het nie.”

LEES OOK: ‘My man het my met sy vorige meisie verkul’

Maar dag na dag het sy pasiënte te woord gestaan wat regtig swaargekry het. “Dit was asof die Here hul lyding gebruik het om my hart aan te raak. En ek het begin oplees oor seksuologie as mediese studieveld.

“Ek het gou geleer dat dit in Europa, die VSA en selfs in Suid-Amerika ’n hoogs gerespekteerde spesialisgebied is. Seksuele gesondheid word daar as gelyk aan enige van die ander spesialisgebiede, byvoorbeeld interne geneeskunde en chirurgie, beskou. Met ander woorde: Seksuele probleme is net so belangrik soos die behandeling van diabetes, hartsiektes of blindedermontsteking.

“Op ’n dag het ek besef dat die Here ’n mens seisoene in die lewe gee, ook en dalk veral in jou beroep. Ná ’n wonderlike 18 jaar as verloskundige het ek besef my seisoen vir verloskunde is verby. Daar het ’n nuwe seisoen aangebreek, een waarin ek as ginekoloog vroue kan help om seksueel gelukkig te wees.”

“Ons almal – vroue, mans en kinders – benodig ’n vars benadering tot ons seksuele opvoeding. Ons moet die reinheid van seks verstaan, maar ook weet dat outentieke seksuele plesier goed is,” sê dr Marlena du Toit, ginekoloog en nou ook seksuoloog. Foto: Lilac Photography

“Ek leer soveel …”

In 2018 volg sy ’n spesialisasiekursus in seksuele medisyne in Europa. Die kursus word gevolg deur die voltooiing van ’n aantal gevallestudies. Dit duur ’n jaar. In Januarie 2020 skryf sy die Europese eksamen en kwalifiseer “as een van dáárdie soort dokters. Wát ’n ontdekkingsreis  was dit nie vir my nie!

“Die onderwerp is kompleks, want intimiteit betrek die liggaam en die psige in gelyke mate. Seks is deel van intimiteit, en laasgenoemde omvat vyf aspekte by ’n vrou: Sy het ’n behoefte aan intellektuele intimiteit, finansiële intimiteit, geestelike intimiteit, emosionele intimiteit en, natuurlik, seksuele intimiteit. “Ek leer soveel … Ek leer dat intimiteit soveel meer as bloot die tradisionele beeld van seks behels.

“Seksuele intimiteit is iets soos seksuele intelligensie. Dis die insig dat elkeen van ons die vermoë het om ons eie seksuele ervaring te skep, te voed en te bestuur. En dit op ’n manier wat vir ons lekker is, dit waarmee ons gemaklik voel.

“Dink aan die dra van ’n bril wanneer jou visie verswak het. Jy dra tog nie ’n bril sodat iemand anders beter kan sien nie, of omdat iemand anders van die bril hou nie! “Ek besef ook hoeveel vroue nog moet ontsnap uit die eng beeld van intiemwees waarmee ons grootgeword het. Seks word steeds as ’n soort skande beskou, as sonde, as iets wat vuil is. Seks is jou huweliksplig. Dis ’n ongeoorloofde plesiertjie.

“Dit word selde met plesier en pret vereenselwig, as ’n aktiwiteit wat jy mag geniet. Hoeveel vroue beskou dit as ’n reg, ’n voorreg, ’n vaardigheid, ’n verantwoordelikheid?

LEES OOK: Met wie moet ’n man praat?

“Ons almal – vroue, mans en kinders – benodig ’n vars benadering tot ons seksuele opvoeding. Ons moet die reinheid van seks verstaan, maar ook weet dat outentieke seksuele plesier goed is.”

“Ek beskou my werk as koninkrykswerk. Intimiteit met jou maat is ’n mooi, normale deel van die lewe en van gesonde selfliefde. Die Bybel het ons die boek Hooglied gegee, want God wil hê ons moet ons maat koester.

“Hooglied handel oor koestering, en dit behels soveel meer as bloot liefhê. Ja, 1 Korintiërs 13 leer ons deeglik wat liefde is, maar die koestering in jul intieme verhouding kom uit Hooglied. Lees gerus die boek Cherish van Gary Thomas waarin hy onder meer oor dié twee gedeeltes in die Bybel skryf.

“My droom is om vroue te help om ’n hooglied in hul slaapkamer te sing, in plaas van klaagliedere. En dis hoekom ek glo dat ek ’n aandeel in die Here se werk het.”

  • Marlena wys vyf sake uit wat mense se sekslewe dikwels problematies maak. Lees môre op lig.co.za meer oor die eerste kwessie: Die ontwykende orgasme.

*Volg Marlena op Facebook by @drmmdutoit

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *