Wat kán kleintjies onder vier van emigrasie verstaan? Hoe berei jy ’n klein mensie voor op hierdie groot verandering, sodat hy veilig voel en maklik aanpas?

DEUR SALOMÉ DELPORT

Die Impeys van Durbanville het verwag dat 2020 ’n groot jaar sou wees. Hulle het egter nie vooraf kon raai hóé groot nie. Mitzi, Liné (4) en Liam (2) sou in Mei Skotland toe emigreer, waarvandaan Daniel al ’n paar jaar pendelwerk. Dié besluit is maande voor die Covidkrisis geneem, en Daniel is niksvermoedend en opgewonde in Januarie 2020 hier weg. Die plan was dat hy vir ou laas huis toe sou kom om te help oppak. Toe slaan die wêreldwye inperkings toe – en daarmee saam val al hulle planne plat. In plaas van ’n skeiding van drie maande gaan ’n vol jaar verloop voor die gesin kan herenig.

Mitzi moes alles self doen: die huis verkoop kry, oppak, en by haar ouers intrek om te wag tot die inperkings lig. Die aanpassing om by Oupa en Ouma te gaan woon was groot. Toe gebeur nog iets: Oupa sterf. Dit was nie heeltemal onverwags vir die volwassenes nie maar wel vir die twee kleintjies.

“Hoe verduidelik jy emigrasie aan jou kinders?”

“Ons is hartseer, en hulle ook,” vertel Mitzi. “Óns verstaan, maar hoeveel kan húlle begryp van tyd, plek, afstand, afwesigheid en sterfte? Nie net is hulle huis, speelgoed en honde weg nie maar Pappa en Oupa is altwee ook weg. Pappa is net ’n rukkie weg, maar Oupa is vir altyd weg. Pappa is in Skotland en Oupa is wel … Hulle gaan een van die dae na Pappa in Skotland maar hulle kan nooit by Oupa gaan kuier nie. En nee, hulle kan nie met Oupa op die selfoon praat nie maar wel met Pappa.

“Jy vertel jou kinders julle gaan trek, maar jy weet hulle verstaan nie. Ek het dit deeglik besef toe die eerste vliegtuie na die ergste inperkings oorvlieg, en Liam daarna wys en sê ‘Da vieg Pappa’. Vir hom is Skotland en ’n vliegtuig een en dieselfde. Hy is gelukkig klein genoeg dat hy tevrede is solank hy kan eet, speel en slaap.

“Maar op vier is Liné oud genoeg om te besef dat haar goed ‘weg’ is. So het ek besluit om haar bedkassie te verkoop. Ek het vooraf mooi verduidelik iemand gaan dit kom haal en dat ons ’n nuwe mooi een gaan koop wanneer ons in Skotland is. Toe die kopers die kassie kom optel was Liné heel rustig – tot die aand dat sy in haar kamer kom. Die ‘gat’ langs haar bed was net te erg. Dit was ’n tranedal.

“Maar dankie tog vir die internet. Ons is na Ikea se webwerf, waar sy toe vir haar ’n nuwe bedkassie kon uitsoek. Daarna was sy tevrede.

“Ons probeer hulle soveel as moontlik vertel van wat wag, soos die sneeu. Daniel neem baie foto’s om hulle te wys hoe hulle nuwe huis gaan lyk. ’n Mens vertrou maar alles gaan uitwerk, en dat jou eie opgewondenheid aansteeklik inwerk op hulle. Maar jy wonder tog,” mymer Mitzi onseker.

Berei hulle sielkundig voor op emigrasie

Elize Swart, kinderspelterapeut van Durbanville, stem saam dat voorbereiding op emigrasie vir kleintjies noodsaaklik is. “Dit lyk ’n bietjie anders as vir groter kinders. Kleintjies is nie tieners nie. Hulle het byvoorbeeld nog nie ’n konsep van tyd nie. Ons sê ons gaan volgende jaar emigreer, maar dit is vir hulle heeltemal onbevatlik.”

Wat kan jy doen om emigrasie makliker te maak?

  1. Skakel dadelik oor na ’n Engelse speelskool

Dit is onregverdig om jou kind oornag in ’n situasie te plaas waar hy in effek doofstom gaan wees weens ’n gebrek aan taal.

“Die meeste van ons emigreer na ’n land waar Engels die voertaal is. Al leer kinders gou ’n nuwe taal aan neem dit tog tyd. Gelukkig wag mense ses tot agttien maande voor hulle dokumentasie deurkom. Skuif jou kind dus oor sodra julle die besluit geneem het, en begin ook tuis Engels praat.

“Vanaf drie leer kleintjies geweldig baie van mekaar, soos hoe om interaktief te speel en hoe om hulleself te handhaaf teenoor boelies. Hiervoor het hulle woordeskat nodig. Taal bemagtig jou kind op ander maniere ook.

  1. Bou veral sy emosionele woordeskat

“Tussen drie en vyf jaar kan kleintjies hulle emosies begin identifiseer. Dit sal hulle baie met verwerking van al die nuwe gebeure help as hulle hul emosies kan benoem, soos ek is kwaad, bly, alleen of bang, want dan kan hy aan jou verduidelik wat pla.

LEES OOK: Die onreg van alleen sterf

“Ons neig om te fokus op ‘vaktaal’, soos dat hy kleure, syfers en diere in Engels kan benoem. In werklikheid gaan hy hierdie tipe woordeskat maklik optel omdat die skool die konsepte met hulle deurwerk en goed vaslê. Die leemte lê eerder by ’n emosionele woordeskat.

“Hy leer veral van jóú as jy self jou emosies omskryf met woorde soos ‘happy, sad, angry, bored, excited, afraid, unsure, jealous, calm, confused, lonely, missing someone, satisfied’ en so aan gebruik soos julle deur die dag gesels.”

  1. Vul jou kind se emosionele beker

“Kinders kan baie en groot veranderings hanteer, solank hulle gebonde voel. Dink daaraan as hulle emosionele bekertjie wat jy opvul wanneer jy tyd met jou kind spandeer – ’n vaste tydjie elke dag alleen met hom, al is dit net tien minute. Wees bloot by hom in sy ruimte, op sy voorwaardes. Laat hom toe om te besluit wat julle moet doen en waaroor hy wil gesels. Dit gee hom op ’n baie kragtige manier die boodskap dat hy geliefd en veilig is, wat sy selfvertroue in sy eie vermoëns bou.

Nog wenke as julle emigreer

  1. Gee hom soveel gepaste inligting as wat jy kan. Meestal gaan een of altwee ouers vooraf die nuwe omgewing verken. Neem baie foto’s en wys vir hom hoe dit daar lyk.
  2. Gebruik die internet en Google Earth om hom te wys hoe julle nuwe blyplek lyk.
  3. Kinders vind aanklank by diere, en geniet dit om te hoor van die natuurlewe in die nuwe land, soos jakkalse en die Loch Ness-monster in Skotland, of koalabeertjies en kangaroes in Australië.
  4. Watter kinderverhale en tradisies geld in julle nuwe land? Ysskaats almal? Swem hulle? Weet almal van goblins, soos in Ierland?
  5. Maak ’n album en bewaar julle herinneringe. Neem baie foto’s van julle ou omgewing, van hulle speelgoed, speelplekke, troeteldiere, en van al die maatjies en familie wat agterbly. Sit alles bymekaar in ’n houer of album, sodat hulle daarna kan kyk as hulle terugverlang.
  6. Laat hulle toe om ’n paar baie geliefde items te kies om saam te neem.
  7. Gee hulle keuses om na uit te sien. Laat hulle solank ’n kleur vir hulle kamer of ’n mooi duvet kies. Dit gee hulle ’n gevoel van beheer.
  8. Bevestig hulle suksesrekords, om hulle selfvertroue te bou. Gesels byvoorbeeld daaroor dat hulle nuwe maatjies gaan maak. Die meeste kleintjies moes al by ’n nuwe speelskool of met nuwe vriende se kinders maats maak. Herinner hulle daaraan hoe lekker dit was.
  9. Vertel oor die nuwe skool, skoolklere en skoolwerk, en dat hulle daar ook gaan inkleur, tel, sing en speel, sodat hulle verwag dat hulle die nuwe uitdagings sal kan hanteer.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail