Welkom op ons spesiale safari! Vandag gaan ons sewe diere sien en agt beginsels by hulle leer. Maak oop jou oë en kyk wat alles om jou gebeur. Maak dan oop jou hart, en ervaar wat in jou gebeur … Deur Adèle Botes

1 Wys empatie
“Die watergat aan ons linkerkant laat my dink aan die navorser Marc Bekoff wat ’n paar jaar gelede by die Samburu Nasionale Park in Noord-Kenia besoek afgelê het. By een watergat het hy ’n olifant opgemerk wat sukkel om te loop. Toe hy die gids oor haar uitvra, moes hy hoor dat sy so gebore is.
“Die gids het hom voorts ingelig dat die ander olifante kort-kort tot stilstand kom om vir haar te wag. As hulle haar alleen sou los, sou sy ’n maklike prooi vir ’n roofdier word.
“Sy kan niks tot die trop bydra nie; tog is hulle klaarblyklik vol empatie.”

“As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly.”
– 1 Korintiërs 12:26

2 Luister na mense met kennis
“Saggies, almal! Sjjjjt …
“Vandag is ons gelukkige dag! Hier is ’n trop olifante, net hier voor ons. Navorsing het uitgewys dat olifante se lewe verleng word omdat die trop se matriarg die wysheid het om droogtetekens en ander dreigende natuurrampe vroegtydig te kan herken. En die trop dan daarvolgens te laat aanpas.
“Ons kan baie hieruit leer. Hoewel die hedendaagse tegnologie gevorderd is en ons grootliks daardeur gehelp word, is dit vir ons van wesenlike belang om ook op die kundigheid van ons voorgeslagte te fokus. Ons oupas en oumas het meer lewenservaring as enigeen van ons, en hulle kan mense en situasies ontleed op ’n manier wat ons nog moet leer. Gaan vra gerus by hulle raad.”

“Luister na raad, aanvaar wat jou geleer word, sodat jy uiteindelik wysheid kan hê.”
– Spreuke 19:20

3 Werk hard
“Ons gaan nou stilhou vir ’n piekniek. Oppas vir die miere! Hulle is lief daarvoor om die kos weg te dra. En sommer groot happe! ’n Mier kan tien tot vyftig keer die gewig van sy lyf dra.
“Die flukse mier is ’n goeie voorbeeld van ’n harde en passievolle werker. In navorsing wat aan die Gothenburg-universiteit in Swede onderneem is, is vasgestel dat iemand wat hard werk nie net ’n bepaalde doel bereik nie, maar dat dit hulle ook gelukkig maak. Die Gothenburg-span het honderde onderhoude regoor die wêreld gevoer en het bevind dat mense vervuld voel wanneer hulle hard werk om ’n doel te bereik.
“Harde werk het nog nooit iemand doodgemaak nie; dit maak wel mense gelukkig.”

“Hardwerkende mense kom in magsposisies; lui mense word dwangarbeiders.”
– Spreuke 12:24

4 Wees geduldig
“So ja, ek hoop julle het die piekniek geniet. Ons gaan nou ry waar daar al luiperds gewaar is. Hy is ’n sku kalant; kyk maar mooi!
“Almal wil deesdae alles so vinnig moontlik hê – hul motors, die supermark se betaalpunte, hul internetverbindings. Daarom sal ons dalk sukkel om ’n luiperd se soort geduld te waardeer. Dié dier neem sommer ’n hele nag lank om te besluit wat die beste tyd is om sy prooi te vang!
“In ’n wêreld waar ons ongeduldig raak oor die 15 minute wat ons in ’n ry moet staan, leer ons by die luiperd dat daar erger dinge in die lewe is as om ’n ruk te moet wag. Proff Sarah Schnither en Robert Emmone van die Universiteit van Kalifornië in Los Angeles het lank navorsing gedoen oor mense se relatiewe geduld in hul alledaagse lewe. Hulle het onder meer bevind dat geduld die volgende voordele inhou: Dit maak jou ’n beter vriend en buurman; jy bereik jou doelwitte makliker; jou gemoedstoestand én jou gesondheid is beter as dié van ander, meer ongeduldige mense.”

“Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig.”
– 1 Tessalonisense 5:14

5 Hou moed
“Ai, dis ’n jammerte dat ons nou nie vandag ’n luiperd te sien kon kry nie …
“Maar kyk ’n bietjie: Daar op die koppie aan jul regterkant staan ’n klomp blouwildebeeste. In Meimaand is dit droog in die suide en ooste van die Serengeti-wildtuin. Dan trek blouwildebeeste na die noorde en weste toe, waar daar meer weiding en water is. Dis ’n 800 kilometer lange reis. Baie van die diere oorleef dit nie – uitputting en honger eis hul tol.

“En daar verdrink letterlik duisende. Daar word bereken dat meer as 6 000 wildebeeste uit 250 000 elke jaar in die Grumeti-rivier verdrink. Hierdie karkasse voed die krokodille, visse en aasvoëls in die omgewing.
“Die lewe is ’n reis, en nie altyd ’n voorspoedige een nie. Hou moed. Druk deur. En weet: Niks is tevergeefs nie.”
“Hou moed en wees dapper! …”
– Deuteronomium 31:6

6 Werk saam
“Sien julle daai meerkat? Nie?
“Toemaar, niemand sien eintlik dié ou diertjies raak nie; hulle is nie juis belangrik nie …
“Maar ’n meerkat leer ons ’n belangrike lewensles: hoe om saam te werk. Die woordeboek sê ‘samewerking’ is om jou eie voordeel prys te gee ten einde ’n gemeenskaplike doel te bereik.
“Meerkatte kry dit nogal hotagter in die veld; hulle het báie vyande. Nou werk hulle saam: As hulle eet, is daar altyd een in die groep wat wag hou en wat die ander laat weet as daar ’n vyand in die omtrek is. Die ander meerkatte vertrou die brandwag.”

“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets.”
– Prediker 4:9

7 Aanvaar verandering
“In die boom hier voor ons kan julle ’n arend sien. Arende kan tot 70 jaar oud word. In dié tyd moet hulle noodgedwonge aanpasbaar wees. Hier teen 40 is hul kloue nie meer skerp genoeg om hul prooi te vang nie, die snawel begin krom trek en die vere word so swaar dat hulle sukkel om te vlieg.
“Nou gebeur die volgende: Die arend begin om sy snawel teen ’n klip te skuur totdat dit uitval. Hy wag nou dat die nuwe snawel uitgroei en dan gebruik hy dit om sy kloue te verwyder. Wanneer die nuwe kloue uitgroei, gebruik hy dít om sy vere uit te pluk sodat nuwes kan uitgroei. Dié proses duur vyf maande.
“Dis soos ’n hergeboorte. Hierna kan die arend nog 30 jaar lank lewe.
“Verandering is ’n lewensfeit. Aanvaar dit, en hanteer dit. En moenie verbaas wees as jy in die proses meer groei as wat jy gedink het moontlik is nie.”

“Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd …”
– Prediker 3:1

8 Maak tyd vir speel
“Dankie! Ons het die wildrit voltooi. Maar voordat ons groet, wil ek julle voorstel aan Roxy, my Jack Russell-hondjie.
“Roxy is baie lief vir speel – of dit nou bloot is om sy eie stert te jaag, of voëls, of ’n bal. Was ons maar meer soos honde …
“Navorsing het uitgewys dat mense wat gereeld ’n blaaskans neem en iets doen wat hulle geniet, kreatiewer is as die res. Die bietjie asemskep is goud werd!
“My raad? Kry iets waarvan jy hou – en doen dit! Doen dit gereeld.
“Mooi loop!”

“Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ’n gawe van God.”
– Prediker 3:13

Bronne:
• https://www.psychologytoday.com/us/blog/the-soul-all-living-creatures/201501/10-things-animals-can-teach-us-about-being-human
• https://www.huffingtonpost.co.za/entry/proof-that-animals-are-wa_n_4255262
• https://www.theodysseyonline.com/5-things-animals-could-teach-us
• https://blog.rhinoafrica.com/2017/04/24/important-lessons-learn-animals/
• https://www.news24.com/MyNews24/Lessons-that-one-can-learn-from-an-
eagle-20150711

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail