’n Pan vol geroosterde groente is baie meer as bloot ’n bygereg. Speel met ’n verskeidenheid geurmiddels om dit interessant te hou – en kyk net wat jy alles met dié gawe gereg kan doen! DEUR HELEEN MEYER; FOTO’S: BERNA COETZEE

’n Pan vol geroosterde groente
Hier is ’n klompie nuttige wenke:

  • Sny die groente min of meer ewe groot sodat dit egalig gaar kan word.
  • Rooster die harder groente eerste, en die meer delikates (soos tamaties en blomkool) tydens die laaste deel van die roosterproses.
  • Pak die groente in ’n enkele laag. As dit bo-op mekaar lê, gaan dit begin stoom en dan word dit maklik pap.
  • Die regte temperatuur is belangrik. Tussen 180 °C en 200 °C werk die beste. Dit het tot gevolg dat die groente geleidelik gaar word en nie begin brand voordat dit gaar is nie.
  • Moenie die groente bedek nie; die vog moet kan verdamp.
  • Moet dit nie skil nie, tensy dit regtig nodig is. Ongeskilde groente het meer geur en dit behou meer van die vesel en die voedingswaarde.
  • Moet dit nie tot oorgaar rooster nie. Dan gaan baie van die smaak, kleur en tekstuur verlore.

GeurmiddelsGeurmiddels

  • Jy het áltyd olie nodig – en dan saam met ’n lekker asyn, soos balsamiese, appel- of rooiwynasyn. Of doodgewone suurlemoensap.
  • Speserye soos komyn, paprika, ’n knypie kaneel, neutmuskaat of gemengde speserye werk goed. Brandrissie, gerasperde vars gemmer, knoffel en suurlemoenskil is ook heerlik, veral wanneer dit saam met vars koljanderblare voorgesit word.
  • Harder vars kruie soos roosmaryn, origanum of tiemie is ideaal vir die rooster-proses. Sit die groente met sagter en meer delikate kruie soos basiliekruid, roket, kruisement of Italiaanse pietersielie voor.
  • Kreatiewe kombinasies werk lekker as afwisseling. Hoe klink suurlemoen saam met komyn of kaneelstokkies? Of probeer ’n kruiemengsel saam met knoffel en repe suurlemoenskil.

Onthou ook:

  • As die oond reeds warm is, en dit is groot genoeg, verdubbel die gereg. Hierdie resep sorg maklik vir nóg ’n ete.
  • Groente uit al die kleurgroepe bevat ’n verskeidenheid vitamiene, minerale, antioksidante en ander gesogte voedingstowwe.
  • Daar is ander groente as dié in die resep wat ook geskik is om gerooster te word. Dink aan patats en blomkool. En mielies-aan-die-stronk wat in kleiner stukke gesny is.
  • Die meeste skille en pitte is ideaal vir ’n kom-poshoop of ’n wurmplaas. Daar is dus heelwat om te herwin. Onthou net dat geen sitrus, knoffel of uie wurmplaas-materiaal is nie.

’n Pan vol geroosterde groente: die resep
Lewer 4-6 porsies’n Pan vol geroosterde groente

Jy benodig

  • 2 mediumgrootte botterskorsies, geskil en in dun wiggies gesny
  • 2 mediumgrootte eiervrugte, eers in kwarte en daarna in wiggies gesny
  • 3 murgpampoentjies, diagonaal in dik skywe gesny
  • 2 uie, gehalveer en in wiggies gesny
  • 1 rooi soetrissie, ontpit en in repe gesny
  • 250 g portabellini sampioene, in repies gesny
  • 2-3 wortels, diagonaal in dik skywe gesny
  • 125 ml (½ k) pampoensaad
  • 10 ml (2 t) komynsaad
  • 60 ml (¼ k) balsamiese asyn
  • 60 ml (¼ k) olyf- of avokado-olie
  • sout en peper
  • 200 g kersietamaties
  • 2 groot hande vol vars roketblare

Jy maak só:

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit of gebruik ’n groot, vlak oondbak. Maak seker dat die groente in ewe groot stukkies gesny is sodat dit egalig gaar word.
  2. Plaas die groente (behalwe die tamaties) in ’n enkele laag op die bakpapier of in die bak en strooi die pampoen- en komynsaad bo-oor.
  3. Klits die asyn en olie saam en giet dit oor die groente. Roer dit deur, en geur na smaak.
  4. Rooster die groente 40 minute lank of totdat dit amper sag en goudbruin is. Roer een keer deur tydens die roosterproses. Voeg die tamaties by en rooster dit nog 10 minute lank – of totdat alles net gaar is maar nie pap nie.
  5. Sit die groente warm of teen kamertemperatuur saam met die roketblare voor.

Om voor te sit
Hier is baie moontlikhede:

  • Wat van lepels vol pesto, hoemoes of ongegeurde jogurt, gegeur met harissa-pasta of vars kruisement? En met gerasperde suurlemoenskil as sous? Verdun ook die hoemoes met olyf- of avokado-olie of ongegeurde jogurt, en proe dán daardie sous!
  • En jy kan maar weet dat neute, sade en verskillende soorte kaas – feta, bloukaas, pecorino, mozzarella of bokmelkkaas – heerlik is saam met geroosterde groente.
  • Maak dit ’n vullende ete deur hoender of lamsvleis by te voeg. Of bone of kekerertjies vir ’n vegetariese moontlikheid.
  • Roer die geroosterde groente deur koeskoes, en voeg vars koljanderblare of basiliekruidblare en geroosterde sade by.
  • Die groente is lekker as ’n pizza-bolaag of ’n toebroodjievulsel.
  • Of wat van saam met pasta?

Toegevou, met avoGroente toegevou, met avo

Vul ’n volkoring-wrap met vars avokado, hoemoes en selfs repies vleis saam met die groente. Dit is ideale piekniekkos, en lekker vullend.

Eier en geroosterde groenteEier en geroosterde groente

Hier is ’n lekker ligte maaltyd of ’n heerlike ontbyt:  Verhit ’n blikkie of twee gekapte tamaties en geur dit na smaak. Laat prut die geroosterde groente daarin, maar sonder dat die groente pap word. Skep alles op klein spinasieblare en plaas ’n gebakte eier of roereier bo-op. Die groente is ook lekker as vulsel vir ’n omelet, en met kaas wat jy verkies.

As ’n slaai

’n Slaai hoef nie bloot uit blare, tamatie en komkommer te bestaan nie. Selfs diegene wat nie dol is oor slaai nie geniet geroosterde groente wanneer dit as ’n slaai voorgesit word. Dit is ook ’n gesonde alternatief vir ’n witstysel-bygereg.

Jy maak só:

Pak ’n klompie slaaiblare op ’n groot slaaibord uit en skep die groente (teen kamertemperatuur) bo-op. Vul dit aan met geroosterde sonneblomsaad en bokmelk- of fetakaas. Dit klink eenvoudig, maar dit is regtig treffend.Groenteslaai

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail