Die COVID-19-pandemie het die kollig op ’n ander gruwel laat val: gesinsgeweld. Vir diegene wat hieraan blootgestel word, bring die inperkingstyd nuwe vrese en uitdagings.

DEUR SUSAN GOOSEN

Sedert die begin van die inperkingstyd is daar ’n skerp toename in die gevalle van gesinsgeweld wat in Suid-Afrika aangemeld word. Marise Swart, kliniese sielkundige in Pretoria, verduidelik die implikasies hiervan: “Die sosiale inperkings, wat veronderstel is om ons veilig te hou, veroorsaak terselfdertyd sosiale isolasie. Vroue en kinders wat aan gesinsgeweld blootgestel word, is dus in hierdie tyd selfs meer weerloos omdat hulle vir die tydperk deurgaans in dieselfde huis as die oortreder moet bly. Daar is min kans om te ontsnap, of om uit te reik na hulp.

“Vir baie is die moontlikheid vir ’n beter heenkome, buite bereik. Kinders is baie uitgelewer omdat hulle sonder die ondersteuning van onderwysers en ander vertrouensfigure moet klaarkom.

Dogtertjie wat agter haar hande skuil

Foto deur Caleb Woods by Unsplash

“Navorsing dui daarop dat geweld toeneem en meer intens word in tye van nood. Die huidige onsekerheid kan veroorsaak dat iemand wat ander mishandel, gedurig in veg- of vlug-modus is.”

Marise verduidelik verder: “Vlug is weens die inperkingsmaatreёls nie ’n opsie nie, en die hoё vlakke van frustrasie bring dan ’n vegreaksie na vore wat kan lei tot gesinsgeweld. Middelmisbruik, – afhanklikheid en onttrekking van verdowingsmiddels kan hierdie situasie drasties vererger.”

Onthou ook: Ekonomiese en sosiale faktore beïnvloed die emosionele kapasiteit en besluitneming van diegene wat hieronder ly. Gesinslede kan vanweё die baie stressors angsbevange, impulsief of gewelddadig reageer.


LEES OOK

Die Grendeltyd – help, my kinders baklei!

Wat moet my kleuter van Covid-19 verstaan?


Wat is gesinsgeweld?

Gesinsgeweld kan baie vorme aanneem. Dit sluit onder meer fisieke, seksuele, emosionele, verbale en sielkundige mishandeling in. Mans, vroue of kinders kan almal slagoffers wees. In sommige gevalle word ekonomiese of mediese ondersteuning geweier, of word slagoffers verbied om familie of vriende te kontak.

Marise verduidelik: “Mense wat ander mishandel misbruik die inperkingstyd om byvoorbeeld persoonlike kommunikasie, kinders se gedrag, toegang tot sosiale media en persoonlike privaatheid te beheer. Sommige doen dit onder die vaandel van ‘ek wil net die beste vir jou gee’ of ‘ek wil jou beskerm’.”

Wat moet ek doen?

Marise gee die volgende riglyne vir diegene wat oor hul eie of hul kinders se veiligheid bekommerd is:

  • Indien jy jou in ’n gewelddadige situasie bevind, is dit noodsaaklik dat jy die isolasie sal verbreek. Julle veiligheid is belangriker as die tuisbly aksie. Reik uit na bure, familie, vriende en professionele gesondheidsdienste.
  • Stel ’n veiligheidsplan op vir julle gesin se spesifieke behoeftes. Bespreek die plan met ’n vriend, familielid, professionele berader, sielkundige of maatskaplike werker.
    • Skryf die stappe neer en steek dit weg.
    • Sorg ook vir ’n Plan B indien jou eerste plan nie uitvoerbaar is nie. Jou plan kan behels om ’n vriend of familielid te kontak indien julle huishoudelike situasie gewelddadig of onveilig raak.
    • Besluit op ’n kodewoord wat jy kan uitroep of vir iemand kan Whatsapp of SMS.
    • Verduidelik wat hulle moet doen indien hulle die kodewoord ontvang, byvoorbeeld om die polisie te bel of jou te kom haal.
  • Sorg dat jou selfoon gelaai is en dat jy weet waar dit is. Sorg vir genoeg data en lugtyd en stoor belangrike nommers op jou foon.
  • Pak ’n sak of tassie met persoonlike dokumente, (ID’s en geboortesertifikate), geld en kroniese medikasie, en steek dit weg. Oorweeg ook ’n gunsteling speelding of teddiebeer vir kinders.

Belangrike noodnommers

  • SAPS misdaadlyn:                                             0860 10111/sms 32211
  • Vrouemishandeling-hulplyn                0800 150 150
  • Lifeline se gesinsgeweldeenheid        0800 150 150
  • Childline:                                                 0800 055 555
  • Verkragting krisislyn:                             021 447 9762
  • Selfmoord hulplyn:                                            0800 567 567
  • SA Depressie en Angs Groep (SADAG)
    • 0800 21 22 23
    • 0800 456 789
    • 0800 20 5026

Marise Swart is ’n kliniese sielkundige in Pretoria. Sy is tydens die inperkingstyd beskikbaar vir aanlyn konsultasies. Kontak haar by 076 500 0303, of besoek haar webwerf www.marise.co.za

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail