‘Gesonder eet is makliker as wat jy dink’ – LiGter se koskenner + bonusbygereg

LiG het by LiGter – ons aanlyn tydskrifprogram wat binnekort plaasvind – se koskenner, Heleen Meyer, gaan inloer. Heleen gesels oor haar smaaklik-maar-boonop-gesond-fokus en gee ’n bobaas bygereg vir die feesseisoen wat wink.

Waarom het jy so ’n groot passie vir die kosbedryf?

Ek is dol daaroor om lekker te eet. Om resepte en idees op verskillende maniere met ander te kan deel, is deel van die dinge wat my werk vir my lekker maak. Met my fokus om mense aan te moedig om ook gesonder te eet, is dit dikwels vir mense ’n verrassing hoe maklik dit eintlik is. As ek hulle met die proses kan help, gee dit my baie werksbevrediging. Die kosbedryf is ook altyd besig om te verander, so om op hoogte te bly van dit waarvan mense hou, wat in die nuus is en met nuwe geure of bestanddele te kan werk en kreatief te moet wees daarmee, bly ’n lekker uitdaging.

Watter twee wenke sal jy vir dié wat vir gesinsmaaltye sorg, gee?

Beplan jou week se etes om seker te maak dit is gebalanseerd en maklik genoeg om ná ’n werksdag nog te kan voorberei. Op dié manier is die versoeking vir voorafbereide of kitsetes net soveel minder. Hou dit eenvoudig, geur kos met natuurlike bestanddele en gebruik gaarmaakmetodes wat die bestanddele se geure die beste na vore bring. ’n Beproefde resepteboek is ’n aanwins as jy nie so handig in die kombuis is nie.

Wat is jou gunsteling-bygeregte by ’n braai?

’n Braaibroodjie met kaas, tamatie en gekarameliseerde uie en ’n groot slaai.

LEES OOK: Ligvoets in die lente

Heleen se bobaas bygereg vir die feesseisoen:

Geroosterde kool en spek met heuning-mosterd

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele

30 ml (2 e) korrelmosterd

30 ml (2 e) heuning

30 ml (2 e) appel- of witdruiwe-asyn

30 ml (2 e) avokado- of olyfolie (probeer Plain Westfalia Avokado-olie)

1 elk klein rooi en wit kool, in dik wiggies of agtstes gesny

250 g spek, oortollige vet verwyder en spek in dik repe geskeur

sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Metode

  1. Voorverhit die oond tot 220 °C.
  2. Meng die mosterd, heuning, asyn en olie in ’n groot mengbak saam.
  3. Plaas die kool en spek in die mengsel en roer versigtig deur tot alles met die sous bedek is. Geur met sout en peper.
  4. Skep alles in ’n vlak oondbak of op ’n bakplaat. Rooster vir 20 minute of tot die kool net gaar is en die spek begin bros word. Die kool moenie pap wees nie.
  5. Sit dadelik as ’n bygereg voor. Dit sal heerlik wees met hoender- of varkvleis.

LEES OOK: Geroosterde groente!

Wenke

  1. Vervang mosterd met komyn- of karwysaad.
  2. Sit met lepelsvol ongegeurde of Griekse jogurt voor.
  • Heleen Meyer gaan tydens LiGter, LiG se aanlyn tydskrifprogram, ‘n resep ideaal vir die komende vakansietyd voorberei. Kom kyk saam, kuier saam en gesels saam op Saterdag, 30 Oktober. Dis gratis, en jy kan hier registreer: https://bit.ly/LiGregistreer
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img