Deur René Badenhorst

“’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.” Matteus 4:4

Op ’n gebedsreis na ’n land waar Christene vervolg word, ’n klompie jare gelede, het die idee van volkome afhanklikheid van God vir my nuwe betekenis gekry. Hierdie groep gelowiges, insluitend volwassenes en jongmense, het maar min besittings gehad. Baie van hulle kon nie werk kry nie, omdat hulle gelowiges is, en sommiges is summier uit hulle ouerhuis geskop.

Wat egter van hulle uitgestaan het, was oë wat blink van vrede en ’n vaste vertroue dat God hulle tot die volgende dag sal deursien. By een geleentheid was daar ’n groepie wat vol blydskap hulle enigste kos vir daardie dag vir ons aangebied het.

Die naaste wat ons gesin aan daardie vlak van gestroop-wees gekom het, was in 2020. Midde-in ons immigrasieproses, is alles tot stilstand gebring. ’n Week na ons ons huis verkoop het en byna al ons besittings verkoop en weggegee het, het die inperkings begin. Desnoods moes ons plek vind in ’n gastehuis, terwyl dokumentasie en werkspakette wat al afgehandel moes wees, stilgestaan het.

In hierdie tyd het ons geleer dat God werklik genoeg is. Ons grootste vrees moenie wees om sonder die sekuriteit van aardse besittings en veilige gemaksones te wees nie. Die ergste wat met ons kan gebeur, is eerder om verwyderd van God te wees. Dit sal nooit deur sy toedoen gebeur nie.

Ons hoop is nie in sterk bankrekeninge of koskaste vol gestoorde kosblikkies nie. Ons hoop is in God!

As jy van alles gestroop sou word, sou God vir jou genoeg wees?

Gebed:

Here, wanneer dinge wat nog altyd standvastig was, begin wankel, word ek bang. Waaraan kan ek dan vashou en wat gaan my deursien as alles waarop ek vertrou ineentuimel? Versterk tog my geloof, sodat ek kan weet dat U ’n betroubare God is. Saam met U is ek in staat om alle omstandighede te hanteer. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail