God gaan haal sy kinders – selfs in ’n Hillbrow-stegie

Op ’n dag beland daar ’n groterige wit koevert in my posbus. Binne-in was ’n getikte nota, en ’n kleiner koevert, ’n bloue. In die nota verduidelik LiG se redakteur dat die blou koevertjie by die tydskrif se kantoor in Wellington afgelewer is. Dis aan my gerig, Hillbrow-adres en al.

DEUR ELISE BOSCH

Ek maak die blou koevert oop. Dis ’n smeekbriefie van ’n ouma, met ’n foto van ’n kleinkind daarby. Sy vra of ek dan nie die kind iewers gesien het nie. Hier is haar nommer, ek moet haar tog bel as ek hom raakloop. Dit was nie die eerste sodanige briefie nie en sou beslis ook nie die laaste een wees nie. Daar was al etlike e-posse en telefoonoproepe, almal met dieselfde hartseer strekking. Dis so asof Hillbrow die eerste adres is wat by mense opkom wanneer ’n kind wegraak of wegloop … Eendag gaan stap ek en my man Pieter. In ’n stegie langs ’n verlate gebou hoor ons ’n gekreun in die donker. Dit klink na ’n vrou. Ons gaan kyk, en Pieter krap in ’n hoop rommel. Dit ís toe ’n meisie. Haar gekraakte brilgase steek nie die besmeerde gesig weg nie. “Help my,” prewel sy. In Afrikaans. Dit lyk asof sy nie lekker fokus nie. Pieter buk oor die jammerlike bondeltjie. Sy beur weg. “Kan Tannie nie my ma bel nie, asseblief?” My hart wil breek. Sy prewel ’n nommer en ek bel. Dis ’n man wat antwoord. Ek verduidelik. Hy is kwaad. “Moet ek nou Hillbrow toe ry? Weet julle hoe gevaarlik is dit daar?” Ek sê maar niks. ’n Halfuur later sien ons die motor. ’n Man klim uit en slaan die deur toe. Daar is ’n vrou wat binne bly sit en net na ons staar. Hy kyk skaars in ons rigting, hy lig sy dogter uit haar vuil lêplek op en dwing haar om self na die motor te loop. Daar stamp hy haar in die agtersitplek in en klap die deur hard toe. Die voorste ruit word afgedraai en ’n sagte stem sê: “Dankie. Baie dankie.” Ek het tot vandag toe nog nie die oumatjie van die blou brief se kleinseun gewaar nie. ’n Paar maande ná die voorval in die stegie neem ons een van Hillbrow se bekende dwelmgebruikers na ’n rehabilitasiesentrum.

LEES OOK: God het flentermense lief

Pieter hanteer die papierwerk by die ontvangstoonbank – en hier kom ’n vrou na my toe gestap. Sy spreek my in Afrikaans aan. “Mevrou,” sê sy, “ek ken jou. Jy het ons eendag gebel en ons gesê om ons dogter te gaan haal. Julle het daar by haar gewag.” Dis ’n mooi, goed versorgde mens wat voor my staan. Een wat sommer haar hart oopmaak: “My man het geweier om haar na ’n sentrum soos dié te stuur; hy het gesê dis net geldmors, sy wil nie hoor nie, sy hét nog nooit na enigeen geluister nie.” Toe bars sy in trane uit en so tussen die snikke deur vertel sy: “Ek het dag en nag tot God geroep en elke keer Lukas 18:16 vir Hom opgesê: ‘Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.’ “En een oggend, heel onverwags, het my man opgestaan en aan ons dogter gesê sy moet aantrek, hy sal haar na die rehabilitasiesentrum toe neem. “Ek is nou juis op pad om haar hier binne te gaan besoek.” Ja, dink ek, só kom die kindertjies by Hom uit. As hulle nie self wil nie of as iemand hulle verhinder, gaan haal Hy hulle, in watter stegie hulle ook al wegkruip.

  • Elise Bosch is ’n geliefde rubriekskrywer en omgee-mens. Sy werk al dekades in Hillbrow, waar sy Jesus se liefde en sorg aan swaarkrymense bring. Hier vertel sy hulle stories. Sy kan by 083 484 9088 gekontak word vir skenkings of optredes.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

#2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

DEUR ADRI COETZEE So breek my eerste chemoterapiesessie aan. Teen die muur in die onkologie-afdeling staan dié teksvers geskryf: Neh...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img