Deur Anneri Naude

“Ons kom kuier, want jou pa sê hy verlang!” kom die boodskap van my ma deur op my foon. Ek glimlag, want dis altyd lekker as hulle kom kuier. Ons sien mekaar gereeld, ons is ’n baie hegte gesin. Ons het heerlik saamgekuier en mekaar die volgende oggend, 14 Februarie 2019, gegroet. Ek onthou nog my woorde aan my pa: “Aitsa! Mooi getooi in rooi!” want dit was Valentynsdag. Die dag van liefde. Min wetend dat dit met gebroke harte sou eindig. Dat hy ons sou agterlaat in sy mooi getooide rooi hemp …

Dit was so bestem deur die Here dat hulle kom kuier. Dit het as troos gedien later. Ek hou vas aan my en my pa se ontbyt saam daardie oggend. Net ons twee. Pa en dogter. Die Here het geweet ek gaan dit nodig hê. Hy het dus seker gemaak dat ons daardie “devine appointment” gehad het.

Daardie aand word ons met die verskriklike nuus wakker gemaak. “Jou pa is dood. Hartaanval.” Dit voel of al die bloed wat in my liggaam is, by my voete uitloop. Iemand het my wind uitgeslaan en my hart uit my borskas geruk.

Dis my pa.

Mý pa.

My pá.

“Ons vier altyd elkeen se verjaarsdag saam as ’n gesin. Sy afwesigheid is tasbaar. Dit laat jou maag draai en na jou asem snak. Vadersdag is soos ’n dolk deur jou hart. Dis ’n mensgemaakte dag, maar wat maak dit saak. Ek soek my pa en ek soek hom nóú. Daar is niks wat ek kan doen nie. Daar is geen bedrag geld wat ek kan betaal nie. Daar is nêrens waarheen ek kan ry of vlieg nie. Ek kan níks doen om hom nou te sien nie. Ek wil hom net ’n drukkie gee. Ek wil net vir hom sê ek het hom so lief en dat ek na hom verlang. Die naaste wat ek aan hom kan kom, is sy graf,” sê Anneri Naude oor die alleenpad na haar pa se dood. Foto verskaf

Dit is die laaste ding wat ek verwag het. Dis die aakligste gevoel. Dit laat jou magteloos. My liggaam het ingegee en ek het in die fetus-posisie gaan lê. Dis my pa. My grootste aanhanger van geboorte af, my steunpilaar, my raadgewer en mentor, my draf “partner”, my kinders se oupa … weg. Sommer net so.

LEES NOG ‘N GETUIENIS.

Die dae wat volg is moeilik en verwarrend. Ek is van mening dat die skok en die gebruik van slaappille jou deur die eerste week (eintlik die eerste maand) kry. Ek maak my pa se begrafnisboekie, ek praat op sy begrafnis en ek dra sy kis. Ek wou so naby as moontlik aan hom bly. Ek wou vir oulaas so veel as moontlik vir hom doen. My hart breek verder as ek na my ma kyk – wat haar sielsgenoot, haar hoërskoolliefde, verloor het. Die ironie daarvan om deur die rouproses te gaan, is dat daar so baie mense daar buite is wat geliefdes aan die dood afstaan, maar tog voel jy so alleen. Niemand voel soos jy nie, want niemand ís jy nie. Dit is ’n alleenpad. Wat net jy kan stap. Veral wanneer die dae weke word en die weke maande … Mense gaan aan met hulle lewe terwyl jy met hierdie seer sit. Die lewe gaan aan, maar joune gaan nooit ooit weer dieselfde wees nie. Dit het onherroeplik verander.

Soos die maande verbystap tref sy dood ons al hoe dieper. Ons vier altyd elkeen se verjaarsdag saam as ’n gesin. Sy afwesigheid is tasbaar. Dit laat jou maag draai en na jou asem snak. Vadersdag is soos ’n dolk deur jou hart. Dis ’n mensgemaakte dag, maar wat maak dit saak. Ek soek my pa en ek soek hom nóú. Daar is niks wat ek kan doen nie. Daar is geen bedrag geld wat ek kan betaal nie. Daar is nêrens waarheen ek kan ry of vlieg nie. Ek kan níks doen om hom nou te sien nie. Ek wil hom net ’n drukkie gee. Ek wil net vir hom sê ek het hom so lief en dat ek na hom verlang. Die naaste wat ek aan hom kan kom, is sy graf. Dit voel onregverdig. Ons moet Vadersdag, met sy verjaarsdag en Kersdag langs ’n graf gaan staan. Magteloos. Ek het verlede jaar besef dis die aakligste gevoel. Die gevoel van magteloosheid. Niks gaan hom terugbring nie. Die leë stoel tydens elke ete, sy swembroek wat nog op sy plek hang en sy draftekkies wat daar lê, is pynlike tekens van ’n kosbare mens wat eens op ’n tyd tussen ons gewandel het. Dit word soms donker om jou. Ek onthou ’n baie donker dag. ’n Dag toe gedagtes deur my kop gemaal het wat nie daar moes wees nie. ’n Dag wat ek net nie meer wou lewe nie en net na hom toe wou gaan …

Anneri wys die begrafnisboekie wat sy gemaak het na haar pa dood.

Dan kom die Here en Hy vind jou. Terwyl jy magteloos voor jou uitstaar en wonder of die lewe enigsins die moeitewerd is, tel Hy die stukkies van jou hart ongemerk op en begin dit heelmaak. Maar jy moet Hom toelaat. Hy gaan dit nie forseer nie. Hy is ’n gentleman. In die verte sien jy ’n liggie brand – is daar tog hoop? Die Here belowe dat Hy alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet. Ja, die afgelope jaar was swaar. Ongelooflik swaar. Die leemte wat hy laat is onbeskryflik en die verlange na hom is party dae onhanteerbaar. Maar daar is hoop! Ons Skepper lewe en Hy het die dood klaar oorwin. Ons kies om op Hom en die ewige lewe te fokus. In 2019 het ek my aardse pappa verloor, maar ek het my Hemelse Pappa weer gevind. Hy het my kom wys dat Hy my Trooster is. Dat Hy my hart met vreugde en vrede kan vul ongeag my pyn of omstandighede. Dat my verhouding met Hom eintlik al is wat saakmaak, want as ek Hom dien en liefhet, gaan ek na Hom toe as ek my laaste asem uitblaas. Dit is waar my pa is, want sy liefde vir sy Skepper was sigbaar in sy lewe. As ek terugkyk kan ek die Here se hand oral sien. Hy het ons elke oomblik vasgehou en gedra. My grootste begeerte nou is om vir die wêreld te wys dat Hy lewe, dat Hy omgee en dat Hy heelmaak. Roep Hom aan in jou grootste storm – Hy sal jou vind!

Valentynsdag lê voor en dit gaan my herinner aan my gebroke hart wat die Here steeds heelmaak. Ek dink aan ons laaste oomblikke saam. Kosbare herinneringe wat ek vir altyd sal koester. Die laaste saamkuier, die laaste saamlag, die laaste drukkie, die laaste glimlag en die laaste “lief vir jou”.

Valentynsdag gaan moeilik wees, maar dit gaan my herinner aan God se liefde vir ons en dat ek, danksy daardie liefde, my pa eendag weer gaan sien.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail