DEUR ESME SONNEKUS

Esme Sonnekus en haar man Philip.

My hart was nog altyd oortuig om sommer net te skryf – als wat ek voel, als wat vir my mooi is en getuienisse oor wat God in my lewe doen. So ontstaan my “7 Kruike Facebook-blad”. Mense het al baie vir my gesê: “Skryf ’n boek”, maar ek het dit nog altyd net afgelag. Ek is ook baie lief daarvoor om foto’s te neem en so het ek begin om die foto’s saam met die geskryfde stukke op Facebook te deel.

Ek het net gedoen wat in my hart is, maar God was besig met ’n groter plan. Net voor grendeltyd het mense weer begin vra wanneer skryf ek my boek. My bestuurder se pa kom een oggend by die werk na my toe en sê: “Ek lees jou stukkies op Facebook en dit raak regtig my hart. Jy moet ’n boek skryf.”

Die Here sê duidelik: “Skryf jou boek”

Ek lag dit maar weer af, maar die volgende dag is hy weer by my met ’n voorbeeld van ’n boek. Hy sê as hiérdie vrou ’n boek kon maak, dan kan ek ook. “Lees daardeur en ek gaan jou daarby hou om jou eie boek te skryf.”

Hy herinner my dat sy vrou ’n drukkersbesigheid het en dat hulle my kan help met die uitleg en om die boek te druk. In dieselfde tyd kry my man ’n pragtige handgemaakte pen by iemand, maar hy gee dit vir my. Nog ’n vrou by die werk bring vir my ’n boek met die mooiste foto’s en geskryfde stukke. En dis asof God vir my sê: “Skryf nou jou boek.”

Wanneer ons gehoorsaam is

God laat my skryf en soms wanneer ek bestuur, kom die woorde net in my gedagtes en ek trek van die pad af om alles neer te skryf. So begin ek al die stukkies wat ek skryf en die foto’s wat ek neem bymekaar te sit.

Ek neem dit na die drukkers wat my gaan help met die uitleg en om ’n kwotasie te kry. Die bedrag beloop R24 852. Ek sê vir die Here: “Waar gaan ek daardie groot bedrag geld kry? Ek weet dat U hierdie boek wil laat druk… Maar hoe?”

 

Eers kry ek die skrif: (Job 39:3) Wie gee vir die kraaie kos as hulle rondskarrel omdat daar nie kos is nie, wanneer hulle kleintjies na God roep om vir hulle kos te gee? Daarna herinner die Here my aan my effektetrust waar ek al vir ’n geruime tyd elke maand geld wegsit, om vir my broer-hulle in Nieu-Zeeland te gaan kuier of vir ’n noodgeval. Ek vra vir iemand by die werk om asseblief te gaan kyk hoeveel geld in die trust is en om dit vir my op ’n papiertjie te skryf. Sy kom sit die papiertjie op my tafel, die bedrag: R24 836. God is só getrou en ek moes net gehoorsaam wees.

Esme se ‘Grondpad’ sien die lig

Die dag voor grendeltyd gaan die boek na die drukkers, maar as gevolg van die inperking kan die boek nie dadelik gedruk word nie. In my hart begin ek skuldig voel oor die groot klomp geld wat ek gaan uitgee om ’n boek te laat druk.

Ek vra vir die Here: “Daar is so baie nood daar buite, moes ek nie eerder die geld gevat en iemand wat swaar kry daarmee gehelp het nie?” God gee vir my ook ’n antwoord daarop, in Markus 14, die vrou met die Nardus-olie. En God sê: “Moenie jou steur aan die geld en wat die mense gaan sê nie”. Hy praat so duidelik met my: “Hou jy net aan om olie oor my te gooi… Om My naam te verheerlik.”

En ek publiseer ‘Grondpad’ vir familie en vriende. God gebruik ons gawes, talente én ons seer om Sy storie te skryf… Alle eer aan Hom. (Markus 14: 3-9)


Lees nog getuienisse hier.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail