‘God leef!’ vertel ma ná aanneemseun haar opspoor

DEUR MARTHA LOUW

“Wat is die naam van jou kind?” vra die dame agter die lessenaar vir my.

“Wilhelm Louw,” sê ek met ’n bewerige stem.

Martha en haar seun Wilhelm se eerste fisiese ontmoeting na 40 jaar. By hulle is Wilhelm se seun. Foto verskaf

“Alles sal goed afloop,” sê sy.

“Dankie,” antwoord ek. My oë is vol trane.

Wilhelm Louw is op 2 Desember 1980 gebore. Die geboorte het goed afgeloop. Wat nie goed was nie, was dat ek Wilhelm vir aanneming moes afgee. Ek was 21 jaar oud.

Ná sy geboorte het ek hom vasgehou, hom op sy voorkop gesoen en gesê: “Ma is lief vir jou.”

LEES OOK: ‘Deel van my sterf saam met my baba, maar God bring weer vreugde deur surrogaatma’

Ek het my oë toegemaak en my bondeltjie liefde vir die verpleegsuster gegee. Mag die Here hom beskerm, het ek vir myself geprewel.

Drie dae later het my ouers my kom haal en my plaas toe geneem.

Saans, as ek alleen in die bed lê, kom die vrae. Dit teister my. Al die waaroms en hoekoms, die verwyte. Selfverwyt. Sal ek ooit vergifnis kry? Ek pleit: “Here, vergewe my.”

Die volgende jaar begin ek werk. Ek trek dorp toe, kry ’n woonstel. Dis ’n nuwe lewe, ’n nuwe begin. Alles sal oukei wees – of so het ek gedink. Sport en vriende bring ’n bietjie verligting, maar saans as dit stil is om my, begin alles weer van voor af. Gaan dit goed met Wilhelm? Is hy warm? Dis so koud …

Ek dink aan sy eerste tree, sy eerste wisseltand. Wie hou hom saans vas as hy huil?

Hoe het alles dan so uitmekaar geval? Hoe gaan ek dit weer bymekaar maak? Waar begin ek?

Ek is later getroud en twee seuns is uit die huwelik gebore.

Jare later open ek ’n antiekemeubelwinkel in die Oos-Kaap. Hier in my winkel hoop en bid ek steeds, en soek na die onmoontlike.

LEES OOK: ’n Geskenk van God

Een oggend lui die foon. Dis ’n onbekende persoon wat sê: “Jou aangenome seun wil kontak maak met jou.”

Kan dit waar wees? Dis 40 jaar …

’n Paar weke later is daar nog ’n oproep. ’n Man praat en sê: “Hallo, Moeder. Dis Ma se verlore seun. Hoe gaan dit?”

Trane van blydskap rol oor my wange. Dankie, Here!

Boodskappe word uitgeruil, foto’s word aangestuur en familie word uitgelê. Wat ’n vreugde!

Ek sê aanhoudend: Dankie, Heer, vir u genade. Dankie dat U gebede verhoor.

Wilhelm woon in Noordwes en is gelukkig getroud. Hy het ’n pragtige vrou, en ’n seuntjie wat nou tien jaar oud is. Hulle is ’n liefdevolle gesin en God is deel van hul lewensreis.

Wilhelm het ’n hele familie bygekry, onder wie twee broers. En ooms, tannies, neefs, niggies en ’n ouma.

Ons reël om mekaar te ontmoet. Wat ’n vreugde om my seun ná 40 jaar te omhels! En ek het geweet alles is reg. My sirkel is voltooi.

Dít is dan my verhaal – van ’n bondeltjie liefde tot 40 jaar later. Dis die verhaal van ’n reis vol hoop en gebede.

Ek wil sê: Jesus se vergifnis is volledig. Moenie opgee nie.

God leef!Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img