God se ekonomie van genoeg

DEUR FRANCINE PRINS

Toe die Here die Israeliete uit hul slawerny bevry en aan hulle die Tien Gebooie as riglyn vir hul nuwe lewe saam met Hom gegee het, was daar nêrens ’n gebod te vind soos “jy moet dankbaar wees” nie. Tog is daardie tien beginsels van God se verbond, sy kontrak met sy volk, deurweef met dié boodskap: “Wees dankbaar!”

Dink byvoorbeeld aan die vierde gebod, dié oor die sabbatdag. Die Israeliete moes dit eerbiedig: Ses dae mag hulle gewerk het, maar op die sewende dag moes hulle rus.

Vir die Israeliete was dit iets nuuts; hulle het sopas uit ’n situasie gekom waar hulle met die sweep gedryf is om harder te werk, om meer te lewer. Hulle was die Egiptiese farao se slawe en ruskans was nie ’n opsie nie. As hulle nie telkens hul produksie verhoog het nie, was daar moeilikheid.

LEES OOK: Inspirasieminuut: ’n Briefie, ’n dankie en dubbele vreugde

Hoor dan: “Dieselfde dag nog het die farao die slawedrywers van die volk en hulle opsigters beveel: ‘Julle mag nie meer soos vroeër vir die volk strooi gee om bakstene mee te maak nie. Laat hulle self gaan strooi bymekaarmaak, en julle moet van hulle dieselfde hoeveelheid stene as tevore bly eis. Julle mag niks verminder nie! Hulle is net lui, daarom hou hulle aan met neul: ‘Ons wil vir ons God gaan offer’” (Eks 5:6-8).

Die farao se ekonomie was gebaseer op die klaarblyklik onversadigbare behoefte na meer en meer. Dit wat jy doen of gee, was nooit genoeg nie. En toe is daar die Een wat sê: “Ek is nou jul Eienaar. Daar is nie meer ’n farao wat ’n slawedrywer is en meer as sy pond vleis eis nie. Ek is nou jul God en Ek sê dat ses dae se werk genoeg is. Dat jy nie lui of onproduktief is as jy op die sewende dag rus nie. Inteendeel: Ek eis dat jy sal rus.”

LEES OOK: God gee alles wat nodig is vir hierdie lewe

God se ekonomie is gebaseer op die beginsel dat ses dae se werk genoeg is. Op die sewende dag sal julle rus. Want daar is genoeg. Nie net die mense moes rus nie, maar ook die slawe, die donkies, die vreemdelinge wat by hulle bly – almal en alles. Die sabbat, God se rus, is vir almal.

Ondankbaarheid maak ons onvergenoeg. Ons bly pal op soek na meer en meer. Ondankbaarheid plaas ons reg in die middel van die farao se soort ekonomie.

Dankbaarheid doen die teendeel: Dit trek ons tot binne-in God se ekonomie-van-genoeg. Dit bring ons tot in sy rus.

Die farao se ekonomie van ons-wil-meer-en-meer-hê maak ons slawe. God se ekonomie van genoeg is almal beskore, dié wat die vryheid van sy liefdesverbond vir hulleself toe-eien.

Here, help my om te sien dat daar binne u verbond genoeg is om van te lewe.

Hierdie stuk is deel van 100 dae van dankbaarheid, ’n dagstukkieboek wat hier te koop is.

  • Francine Prins is redakteur van LiG se gedrukte tydskrif en sosiale media. Volg haar skryfwerk by #weeslig en #francineprins.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img