DEUR MADELÉ KLINGENBERG

Soos baie ander vroue het ek van kleins af oor my Prins Charming gedroom. Vir die een uit wie se ribbebeen ek gevorm en gemaak is, maar hý wou net nie kom nie.

Ek het ‘n baie nou pad met God op die reis gestap. Soms het ek gewens die stemmetjie binne my kan op “silent” gestel word, want gou het ek geweet wanneer ‘n deur moes oop bly of toegemaak word. Soms het ek die stemmetjie self probeer “halt”, maar God se plan het altyd uitgespeel, of ek dit wou insien op die oomblik of nie.

Man en vrou

Madele het op haar geloofsreis selfs ‘n draai op die werklikheidsreeks, Boer soek ‘n vrou, gemaak. Sy het in die 2018-seisoen deelgeneem en was die boer se finale keuse. Sy het intussen haar droomman, Carl (bo), ontmoet.

Na my 200-first-coffee-dates, waar ek baie keer sake en planne soms in my eie hande wou neem het ek oorgegee. Ek het totaal die stuurwiel aan God oorhandig. Dis U plan Here, nie myne nie. As U nog ‘n rukkie aan my of my man wil werk dat ek sy regte “ribbebeen vrou” kan wees, dan wag ek. Die besluit het werklik innerlike vrede in my lewe gebring.

Na vele mislukte verhoudings en klomp lesse geleer deel ek my familie mee dat ek wraggies ‘n boek gaan skryf, met die titel: 200 First Coffee Dates. Ons almal was dit eens dat so ‘n boek nie kan werk sonder ‘n happy ever after nie!

En toe verras God my

Twee maande na my besluit om die stuurwiel totaal aan God te oorhandig het Hy my verras.

Dié dag, soos elke Sondag, pak ek die pad kerk toe alleen aan. Voor my in my eie kerk, sit daar ‘n man wat my vriendelik groet. Ek lees nie veel in die gebaar nie en na die diens haas ek huis toe. Ek vertoef net ‘n oomblik om my waterbottel in die asblik te gooi. Uit die hoek van my oog gewaar ek die man wat voor my gesit het, waar hy oor ‘n paar rye stoele spring. (dalk haastig op pad na sy vrou en kinders, wonder ek?). En toe by die asblik vind ek hom en net dáár ontmoet ek my man (dankie tog geen ander vrou se man nie) Hy is meer as waarvan ek ooit kon dink of droom. Die res is geskiedenis.


Lees nog getuienisse hier.


Ons is 11 maande later getroud. Wat God beplan is regtig beter as ons eie planne. Die lysie (wat soek ek in ‘n ideale man) waarmee almal my geterg het, is van bo tot onder afgemerk. Die belangrikste karaktereienskap op my lysie, ‘n man wat God eerste stel, is bewaarheid.

Ek sal nou moet voortgaan met die skryf van my boek “200 First Coffee Dates”, want my gelukkige einde oortref alle verwagtinge. In my boek sal ek graag ander enkellopendes wil bemoedig en vergesel op hul spesiale reis terwyl hulle wag vir die regte persoon.

Maar vir nou, in die regte lewe, geniet ek my “200+ dates” met my man. Ons het immers baie tyd nodig om op te vang. Wag in vrede. Geniet die vele koffies van die lewe in vele vorms en geure en besluit watter een is jou gunsteling.

Twee koppies koffie

Madelé deel met elke enkelvrou-man 10 lewenslesse wat sy geleer het.

10 lewenslesse na 200-first-coffee-dates

Na “200 first coffee dates” kan ek terugkyk en sien hoe God nie net daar was met elke ontmoeting nie, maar hoe God in beheer was en my geleer en gevorm het. Ek wil met elke enkelvrou-man die volgende 10 lesse deel:

1. Date God eerste.

As jy God eerste stel in jou lewe, sal God se plan en tyd vir jou ‘n realiteit word (Matt 6:33). Onthou God beplan vir jou meer as wat jy kan dink of droom (Eff 3:20). Bou ‘n verhouding met God en sit by God se voete. Leer God ken en luister fyn na God se wil vir jou. Bid gedurig. “What I have in mind for you, is more than you can ever imagine”

2. Leer om geluk in jouself te vind.

Geen man, aardse besittings, mag of geld kan jou gelukkig maak nie, vind jou geluk in God. As iemand jou pad kruis sal hy / sy hierdié eienskap koester en baie waardeer. “The joy of the Lord is my strength” Neh 8:10

3. Luister na God se stem.

Ons dien ‘n God van liefde, hy praat met ons op verskeie maniere. Almal hoor Hom op verskillende maniere. Soms praat Hy deur mense of die natuur. Een ding is seker dat vrees, twyfel, manipulasie, afbreking en geweld is nie van God af nie. Dus, luister na Sy stem en loop weg van rooi ligte wat jou waarsku! Dit is nie jou werk om iemand anders te verander nie, verandering kom van binne.

4. Weet wat God vir jou beplan.

As jy onseker is wat God se plan vir jou is, gaan soek dit in Sy woord. Sy woord is die waarheid waaraan ons kan vashou, ons kompas en padkaart vir die lewe. Hoe meer tyd jy in Sy teenwoordigheid spandeer hoe duideliker word Sy plan vir jou. Hy beplan vir ons voorspoed, ‘n toekoms, ‘n verwagting. Glo dit!

Vrou met koffie

Madele vertel: “Na my 200-first-coffee-dates, waar ek baie keer sake en planne soms in my eie hande wou neem het ek oorgegee. Ek het totaal die stuurwiel aan God oorhandig. Dis U plan Here, nie myne nie.”

5. Omring jouself met gesonde verhoudings.

Die beste leerskool is deur ander se voorbeeld te volg. Kyk waarvan jy hou in jou vriende se huwelike en verhoudings. Stel doelwitte vir jou toekomstige verhouding en bid daarvoor. Die liefde is blind. Ons stel onsself soms bloot aan verkeerde verhoudings of tyd met verkeerde mense, want die alleenheid is erg. Vertrou jou binnekring se raad en toets dit met God se woord. Alleen en gelukkig is baie beter as om in ‘n verhouding en ongelukkig te wees.

6. Bou ‘n sterk verhouding van vertroue en vriendskap (vv).

Enige verhouding het ‘n sterk “vv” nodig. Bou aan julle vertrouensverhouding. Bly by jou woord en doen wat jy sê jy gaan doen. Wees eerlik en nederig teenoor mekaar en deel jou hart. Vertroue is die fondasie van ‘n gesonde en gelukkige verhouding. En dan natuurlik ook vriendskap. Die beste en lekkerste is ‘n gesonde vriendskap.

7. Het die persoon die eienskappe wat jy eendag in jou kinders wil sien?

Jy date jou toekomstige kinders se pa of ma. Is dit die persoon wat jy langs jou wil hê? Die keuse van ‘n lewensmaat is belangrik. Jy kies nie net names jouself nie, maar ook namens jou kinders (as die God se plan vir julle pad is), gebruik jou verstand.

8. Is dit ‘n opbouende of afbrekende verhouding?

Die regte verhouding sal jou sterk punte uitlig, dit sal jou laat blom. Jy sal ontdek dat jy ‘n “meer mens” is. Die verkeerde verhouding vat weg, en sny uit en maak jou ‘n “minder mens”. Dit is ‘n eenvoudige som. Plus die verhouding tot jou lewe of minus dit?

9. Julle moet saam kan lag.

Die lewe is kort maar soms bitter lank. Dit is so lekker om ‘n maat te hê waarmee jy saam kan lag, grappies maak en die lewe geniet! En boonop het lag baie ander voordele soos meer endorfiene (die goedvoel-hormoon), jy verbrand meer kilojoules. So, lag asseblief meer!

10. Beoefen jou stokperdjies.

Kies wie en wat jy toelaat om jou “storie” te bepaal. Waarmee vul jy jou brein en kalender (wat die hart van vol is, loop die mond van oor). Kry ‘n passie vir iets byvoorbeeld sport, kultuur, lees, reis en deel die elemente daarvan met jou maat.


LEES OOK: Kies reg – ook ná die troue

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail