Gouemedaljewenner Anruné: ‘Ek eer God vir wat Hy in my en my pa se lewe gedoen het’

DEUR CONETTE LE ROUX; HOOFFOTO: ROGER SEDRES

Wanneer jy Anruné Weyers vra om die grootste oomblik in haar atletiekloopbaan te beskryf, kry jy hoendervleis.

Die emosie blink in haar oë wanneer sy haar ’n paar oomblikke lank weer op die atletiekbaan in die Olimpiese stadion in Tokio bevind. “Ek het nie geweet wat my tyd is nie,” vertel sy. “Ek het nie eens geweet hoeveelste ek is nie. Ek het die hele tyd gebid vir ’n empty mind. Sodat ek nie elke tree sal oordink nie, maar dat ek saam met God sal hardloop en dit sal geniet.

“In ’n 400 m-wedloop is die laaste 100 m altyd die ergste. Ek het gebid om gemaklik te bly, om tot aan die einde vas te byt.

LEES OOK: Olimpiese prestasie: Geloof dra medaljewenner Bianca Buitendag deur die branders van die lewe

“Baie mense het ná die tyd gesê dit het gelyk asof ek nóg ’n ent wou hardloop. Toe ek agterkom dat ek eerste oor die wenstreep is, het ek op my knieë geval om God te eer.”

Dié emosionele oomblik is deur fotograwe verewig: ’n huilende Anruné in die groen-en-goud van haar land, op haar knieë. Ten tye van ons gesprek is dié foto haar profielfoto op WhatsApp.

‘Hy wil hê ons moet saam met Hom reis’

Dis drie weke ná Tokio. Ek ontmoet die fyngeboude 29-jarige van Durbanville in ’n koffiewinkel in die Paarl. Cappuccino in die hand onthou sy hoe die emosie haar ná haar oorwinning in die T47-kategorie by die Paralimpiese Spele oorweldig het.

“Dis nie net dat ek, nadat ek Covid-19 opgedoen het, ’n gouemedalje kon wen nie. Dis eerder oor wat God in my en my gesin se lewe gedoen het.

“Hy het my gewys gouemedaljes en wêreldrekords is nie waarin Hy belangstel nie. Hy wil hê ons moet saam met Hom reis.”

Die medalje is nie net háár oomblik nie, sê sy. “Dit verteenwoordig my en my gesin se groei saam met God.”

‘Ons lewe nie ’n prentjie van perfektheid nie’

“My pa is ’n alkoholis.”

Ná ’n oomblik se stilte voeg sy by: “Maar hy is nou al meer as ses jaar skoon.” Tróts.

Anruné vertel hoe haar pa, Rudi Liebenberg, in ’n rehabilitasiesentrum was dieselfde jaar (2016) waarin sy by die Paralimpiese Spele in Rio de Janeiro deelgeneem het. Hier het sy ’n silwermedalje in die 200 m verower.

“Dit was vir my sleg dat my ouers en my man nie daar kon wees nie,” vertel Anruné. Maar sy het vir hulle elkeen ’n T-hemp laat maak met die woorde Glory 2 God daarop. Foto: Instagram

“Van toe af tot nou het ons merkwaardige groei as gesin beleef. Ek is trots om na my pa en my gesin te kyk en te sê: Ons lewe nie ’n prentjie van perfektheid nie. Ons erken ons tekortkominge en ons werk daaraan.

“Dit sê so baie as mense hul swakheid met ander kan deel. Of die swaar waardeur hulle gaan. Dis eg, en dit gee hoop.”

Anruné het self swaar gedra aan dié dinge wat sy gedink het nie goed genoeg is nie. “Ek het jare lank met my gestremde handjie (sy is gebore met ’n onderontwikkelde linkerhand) en my sproetjies gesukkel. Ek het gesukkel om myself te aanvaar vir wie ek is. Ek moes dit eers vir God gee, en uitvind waarom Hy my so gemaak het.”

LEES OOK: ‘Ek fokus op die klein wonderwerke,’ sê kwadrupleeg op sy herstelpad

Haar reis saam met God het in haar matriekjaar in 2010 begin. Sy was ’n leerder aan die Hoërskool Jeugland in Kempton Park toe sy haar hart vir die Here gegee het. “Ek het jare lank geglo – maar nie gegló nie. As dit vir jou sin maak. Maar in 2010 het ek werklik ’n pad saam met God en sy Woord begin stap.

“Ja, ek het soms gevoel ek is nie meer naby aan Hom nie, nie connected genoeg nie. En ’n mens se geloof wankel soms. Dit gebeur veral wanneer jy jou eie wil het en jou eie kop volg. Maar God het my altyd weer kom haal.”

My spanmaats, my afrigter, my groot seën

Ná skool het Anruné in ’n onderwysrigting aan die Universiteit Stellenbosch gaan studeer en saam met die ParaSport-span by Maties begin oefen.

Dié span, sê sy, is ’n groot seën in haar geloofslewe. Haar afrigter, Suzanne Ferreira, en haar spanmaats by ParaSport is almal gelowiges. En hulle ondersteun mekaar in goeie én in moeilike tye.

Anruné en haar afrigter Suzanne Ferreira. Foto verskaf

Een van die moeilike tye was toe sy in Juniemaand met Covid-19 gediagnoseer is. Dit was enkele maande voor die Tokio-Spele.

Suzanne het haar elke dag gebel om haar moed in te praat.

LEES OOK: ‘Ek wens Ruben kon hulle sien,’ sê Lize Kruger oor hul dogters

Ook ná die span se tydtoetse die dag voor hulle Tokio toe vertrek het. “Ek het nie goed gehardloop nie en ek was baie teleurgesteld. Ek was emosioneel, ek het gehuil. Ek het regtig gedink ek sal beter hardloop en dat ek heeltemal oukei was ná die Covid-19.

“My man Stefan kon oor die foon hoor ek is ontsteld. Hy het selfs my afrigter gebel om te hoor of ek oukei is.

“Die coolste van als is dat ek dit erken het. Ek het my groep gevra om vir my te bid dat ek nie só Tokio toe moet gaan nie. Ek het gevra hulle moet bid dat die Here aan my werk. Dat ek niks sal forseer nie, dat ek net saam met Hom sal hardloop.”

Anruné saam het haar hondjie Zara toe sy in Junie vanjaar Covid-19 opgedoen het. Foto verskaf

Ek en God hardloop saam

Om haar fokus te behou, het Anruné in Tokio ’n “herinneringsmuur” in haar kamer geskep. Elke oggend het sy met dié  muur voor haar wakker geword. Sy het haar yskasfoto’s van haar geliefdes saamgeneem. Asook ’n pakkie foto’s van spesiale oomblikke wat ’n mede-atleet en vriendin vir haar saamgestuur het.

Sy het dit op die muur geplak en sleutelwoorde “eers net in potlood” daarby geskryf. Ook frases en liedjies wat vir haar baie beteken. En die briewe wat haar mense saamgestuur het – haar geliefdes wat vanweë die inperkingsmaatreëls nie kon saamgaan Tokio toe nie.

Sy kon dit nie mooi lees nie en het later ’n kokipen nader getrek. Toe bring ’n mede-spanlid vir haar ’n goue kokipen …

Bo-aan die muur het gestaan: Me + God run together.

Anruné het haar fokus met behulp van ’n herinneringsmuur behou. Sy het elke oggend met dié muur voor haar in die Olimpiese stad wakker geword. Foto: Instagram

Dié woorde het sy daagliks met haar saamgedra en dit deel van elke wedloop gemaak, ook vir die 100 m en 200 m waarin sy nie medaljes gewen het nie.

Vaarwel atletiek?

Volgens Anruné was dit haar laaste Paralimpiese Spele. Hoewel sy nog nie besluit het presies wanneer sy haar spykerskoene gaan bêre nie.

Op 30 September het Anruné en haar man Stefan hulle vierde huweliksherdenking gevier. Foto: Local Truth Photography

“Ek en Stefan wil met ’n gesin begin. En ek glo ek kan op ander maniere ’n positiewe verskil maak.

“Ek is nou op hierdie incredible high en ek is so dankbaar vir die manier waarop my vriende en geliefdes my bygestaan het.

“Nou wil ek my mense bystaan en hulle celebrate – in die goeie én die moeilike tye in hul lewe!”

Anruné en haar ma het saam ’n besigheid Mejuffrouw wat handgemaakte artikels vir verskeie geleenthede skep. Foto verskaf
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img