Wonder jy soms wat die beste gaarmaakmetode vir ’n spesifieke bestanddeel is? Dis goed dat jy wonder, want die regte metode kan ’n groot verskil aan die eindresultaat maak. DEUR HELEEN MEYER; FOTO’S: BERNA COETZEE

Pangebraaide groente en hoender
Lewer 4 porsiesPangebraaide groente en hoender

Jy benodig

• 60 ml (¼ k) olyf- of avokado-olie
• 20 ml (4 t) korrelmosterd
• 20 ml (4 t) appelasyn of suurlemoensap
• skil en sap van 1 suurlemoen
• sout en swartpeper na smaak
• 4 heel hoenderborsfilette
• 6 middelslag-murgpampoentjies, met ’n aartappelskiller in linte gesny
• 150 g dun groenboontjies, diagonaal gehalveer
• 180 ml (¾ k) bevrore ertjies, afgespoel
• 60 ml (¼ k) grofgeskeurde vars kruisement
• ’n hand vol kasjoeneute, gerooster en grofgebreek

Jy maak só

  1. Meng 45 ml (3 e) van die olie met mosterd, asyn, suurlemoenskil en -sap en geur na smaak. Meng hoender met
    helfte van die mengsel en laat 20 minute lank marineer.
  2. Verhit ’n dun lagie van die orige olie oor matige hitte in ’n braaipan. Panbraai hoender aan albei kante tot goudbruin, maar nog nie gaar nie. Geur na smaak.
  3. Verlaag hitte. Voeg marinade by waarin hoender was en laat prut 5 minute lank met ’n deksel, of tot net gaar en steeds sappig. Skep filette uit en hou eenkant warm.
  4. Verhit orige olie oor matige hitte in dieselfde braaipan. Roerbraai murgpampoentjies tot net sag en steeds helder
    groen. Voeg boontjies by en braai nog ’n paar minute.
  5. Roer ertjies en orige marinade liggies deur en geur na smaak.
  6. Sny elke hoenderfilet in skyfies. Roer kruisement by die groente, sit dadelik met hoender voor en strooi neute oor.

Wenke:

  • Rooster komynsaad ’n paar minute lank in ’n droë pan, tot aromaties. Of rooster dit ’n paar minute lank op ’n aparte bakplaatjie.
  • Oondgeroosterde groente moet eweredig gaar word. Sny dus die groente in min of meer ewe groot skywe of stukke. Pak dit in ’n enkellaag in die bakplaat of oondbak, sodat dit deurgaans rooster en nie bo-op mekaar lê en stoom nie.

Oondgeroosterde wortels, patats en eiervrug met komyn
Lewer 4-6 porsiesOondgeroosterde wortels, patats en eiervrug met komyn

Jy benodig

• 3-4 middelslag-wortels, geskil
• 4 middelslag-preie, deeglik gewas
• 4 klein patats, met die skil
• 1 middelslag-eiervrug, met die skil
• 2 knoffelhuisies, in repies gesny
• 60 ml (¼ k) olyf- of avokado-olie
• 15 ml (1 e) komynsaad
• 30 ml (2 e) heuning
• sout en swartpeper na smaak Hummus-sous

Jy benodig

• 60 ml (¼ k) ongegeurde jogurt
• 125 ml (½ k) gekoopte of tuisgemaakte hummus
• 2,5 ml (½ t) gemaalde komyn
• 5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil
• 15 ml (1 e) elk grofgekapte koljanderen kruisementblare
• 15 ml (1 e) ekstrageroosterde komynsaad om mee voor te sit (sien wenke hierbo)
• ekstra kruieblare vir garnering

Jy maak só

  1. Voorverhit oond tot 200 °C. Sny groente in die lengte in ewe groot wiggies.
  2. Plaas groente met die ander bestanddele in ’n groot mengbak en meng totdat dit deeglik met die oliemengsel bedek is. Geur na smaak.
  3. Voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit of gebruik ’n groot, vlak oondbak. Skep die groente in ’n enkellaag daarin uit. Rooster 30-40 minute totdat groente gaar en goudbruin is. Die gaarmaaktyd sal van die groentewiggies se grootte afhang.

Sous: Meng intussen jogurt, hummus, komyn, suurlemoenskil en kruie saam. Geur na smaak. Sit groente met die sous, geroosterde komynsaad en kruie voor.

  • Die groente is lekker – of dit nou warm of teen kamertemperatuur voorgesit word. Dit kan as ’n ligte vegetariese maaltyd geniet word. Of sit dit met enige vleis, hoender of vis voor, soos jy dit verkies.

Gebreekte aartappels

(Kook en rooster)Gebreekte aartappels

Laat prut sowat 700 g klein aartappeltjies in die skil tot net gaar. Dreineer en skep in ’n enkellaag in ’n oondbak. Druk elke aartappel met ’n vurk sodat dit net oopbreek. Giet 20-30 ml olyf- of avokado-olie oor en geur met sout en peper. En ’n paar takkies vars kruie, soos tiemie of origanum. Rooster onder warm oondrooster-element tot goudbruin en effens bros. ’n Bietjie gerasperde wit cheddar- of pecorinokaas is heerlik saam met die kruie.

Aartappels – soos baie ander groente – hoef nie in ’n kastrol vol water te “swem” nie. Dit moet bloot egalig, in ’n paar sentimeter water met ’n bietjie sout daarin, gaar word. Kook aartappels oor ’n matige tot lae temperatuur, anders bars dit oop (blus) en absorbeer onnodig water. Aartappels in die skil behou meer voedingswaarde en blus nie so maklik nie. Toets vir gaar met ’n skerp groentemessie se punt of ’n toetspen. Nie met ’n vurk nie, want ook dit kan die aartappels laat oopbars. Klein en groot aartappels word so gekook.

Groenboontjiebredie
Lewer 6 porsiesGroenboontjiebredie

Jy benodig
• 30-45 ml (2-3 e) olyf- of avokado-olie
• 1 kg skaapstowevleis aan die been, byvoorbeeld skouer, nek of skenkels, in skywe gesny
• 2 uie, in wiggies gesny. Of 8-10 piekel-uitjies, in kwarte gesny
• 250 ml (1 k) droë witwyn of hoenderaftreksel
• 30 ml (2 e) vars tiemie of 15 ml (1 e) gedroogte tiemie
• 3 wonderpeperkorrels
• 3 heel naeltjies
• 2 heel lourierblare
• 15 ml (1 e) druiwe- of witwynasyn
• 3 knoffelhuisies, gekneus
• 1 brandrissie, fyngekap. Of ’n knippie cayennepeper na smaak
• 300 g groenboontjies, in derdes gesny. Of waterblommetjies, skoongemaak
• 2-3 middelslag-aartappels, geskil en in blokkies gesny
• Sap van 2 suurlemoene
• 2 heel kaneelstokkies
• Sout en swartpeper na smaak

Jy maak só

  1. Verhit olie oor ’n matige temperatuur in ’n groot kastrol en verbruin vleis in sarsies tot goudbruin. Skep met ’n gaatjieslepel uit en hou eenkant.
  2. Plaas uie in dieselfde pan en soteer tot amper sag. Roer wyn of aftreksel, kruie, speserye, asyn, knoffel en brandrissie of cayenne by. Bring tot kookpunt oor matige temperatuur. Skep vleis terug in kastrol, verlaag hitte en laat ongeveer 1 uur lank baie stadig prut, met die deksel op, of totdat die vleis feitlik sag is.
  3. Voeg groenboontjies (of waterblommetjies), aartappels, suurlemoensap en kaneelstokkies by en laat prut nog 30 minute lank stadig, of totdat die groente sag maar nie pap is nie.
  4. Geur na smaak met sout en peper en nog suurlemoensap indien nodig. Sit op rys voor.

Elke stap in die maak van ’n bredie speel ’n belangrike rol in die geur daarvan. Hierdie groenboontjiebredie het ’n eenvoudige resep, maar met die regte geurkombinasies en metode sorg dit vir ’n wonderlike ete. As jy gelukkig is en jy kan hierdie tyd van die jaar waterblommetjies in die hande kry, kan jy dit gerus in plaas van die boontjies gebruik.

Mielies aan die stronk
Mielies aan die stronk moet verkieslik net in ’n paar sentimeter water gaar stoom. Plaas die mielies in genoeg water om oor ’n matige tot lae hitte sowat 8-10 minute lank te kan prut en genoeg stoom te vorm wat om die mielies sirkuleer. Die gaar pitte moet heldergeel wees en nie begin verskrompel nie. Laasgenoemde beteken dit kook te lank.

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail