Om in die voorhowe te kom

Deur Barend Vos; Sketse: Fred Mouton

Sarel Dirkse se vrou het skielik siek geword en ek het nie geweet wat om daaraan te doen nie.

Ek weet, liewe ouers, ek weet: In ’n gemeente waar dit die dominee se plig en voorreg is om siekes te besoek, is dit ’n ongehoorde toedrag van sake.

Maar die waarheid is dat ek dadelik met die tyding na my vriend en vertroueling Sakkie Skool toe gery het. “Ek is in die knyp,” het ek met die deur in die huis geval. “Ou Sarel-sonner-sonde se vrou is glo baie siek, en ek weet nie wat om te doen nie.”

Sakkie het my so skuinsweg bekyk, en my (opsetlik, ek sweer) verkeerd verstaan en gesê ek moet maar sorg dat ek my masker opsit, ver genoeg van haar af staan, nie eens daaraan dink om aan haar hand te vat as ek met haar praat of vir haar bid nie. En ek moet sorg dat die siekekamer se vensters wyd oop is.

“Jy weet dis nie wat ek bedoel nie, Sakkie,” het ek gebrom. “Jy weet ek het niks om vir daardie mense te sê nie, jy weet tog van hul jare lange veldtog …”

“Ek weet dit, ja,” sê Sakkie – en toe gaan hy meedoënloos voort: “Ek weet ook jy het dit toegelaat. Jy het jou láát boelie, jy het nooit op hul kwaadpratery en goedkoop geskinder gereageer nie. Jy moes mos geweet het daar sal ’n dag kom dat jy nie meer vir konfrontasie kan weghardloop nie.”

Wat kon ek doen, liewe ouers? Natuurlik was Sakkie reg.

Toe steek ek my trots nóg dieper in my sak en vra hom, nee, ek pleit by hom: “Jy sien nie kans om saam met my te gaan as ek die sonner-sonde-sieke gaan besoek nie? Jy ís immers ’n ouderling …”

My eerste emosie toe ek haar daar in die siekbed sien, liewe ouers, was een van skaamte. Klein lê sy daar, weerloos. Die gesig wasbleek, die oë diep versonke.

En sy kyk na my soos sy in al die jare nog nooit na my gekyk het nie. Daar was iéts in haar oë wat ek nog nie daar gesien het nie. ’n Soort … soebat.

“So asof ek die een of ander wonderwerker is wat haar uit die dal van doodskaduwee uit moet bid,” blaker ek my gevoelens teenoor Sakkie uit toe ons ná die besoek in my blou bakkie klim en ry.

Sakkie het niks gesê nie. Net voor hom gesit en staar.

Toe ek hom by sy huis aflaai, het ek dankie gesê dat hy saam met my gegaan het. Veral dat hy Sarel te woord gestaan het terwyl ek in die siekekamer my plig gedoen het.

En toe vra ek maar: “Wat gesels jy en ou Sarel-sonner-sonde toe?”

Sakkie het my in die oë gekyk. “Ek het hom net een vraag gevra.”

Ek het gewag. Dis maar Sakkie se manier. Rustig, bedaard, laat hom nie aanjaag nie. Dink diep oor dinge.

Oplaas het hy vertel: “Nee, ek vra hom toe hoe hy onthou wil word. Hy bly reeds sy lewe lank op dié dorp, hy was jare lank op die stadsraad en seker 60 jaar op die kerkraad. Hoe, vra ek hom, hóé wil hy hê moet hierdie gemeenskap hom onthou?”

“En wat antwoord hy?”

“Ag, net die gewone, die voorspelbare,” het Sakkie gesug. “Hy sê hy wil niks anders doen as siele wen nie. Hy sê hy sal nie rus voordat ál die sógenaamde gelowiges in die gemeente – dit was sy woorde én sy beklemtonings – wáárlik en oprég bevind word nie. Sodat hulle saam met hom teen die Bose kan stry, en saam met hom kan déúr bid tot in die voorhowe.”

Ek was Sondagmiddag weer by die sieke – en ek is dankbaar om te kan berig, liewe ouers, dat ek hierdie keer alleen gegaan het.

Wat my die moed gegee het, weet ek nie. Dalk maar Sakkie se vertelling dat niks nog verander het nie, siekte in die huis ten spyt.

Ek was toe ook nie verras deur Sarel-sonner-sonde wat opsluit saam met my siekekamer toe is nie. Ek was wel dankbaar oor die glimlag en die opsigtelike beterskap wat my daar begroet het.

Ek was effens senuagtig toe ek ná ’n kort gesprek met die sieke aanbied om vir haar te bid. Terwyl haar eggenoot eenkant toekyk, stilswyend alles beluister.

In my sondigheid het ek gewonder: Sal hierdie gebed wáárlik en oprég bevind word? Sal ek daarin slaag om déúr te bid, tot in die voorhowe?

Gelukkig, het ek geweet, hoef ek nie teen die Bose te stry nie, nie in hierdie huis nie. Daar is mos net die voortdurende geveg teen die boosheid in myself …

En ek hoef niemand se siel te wen nie, nie in dié deurlugtige geselskap nie. Ek moet bloot my eie siel bewaar.

So sê ek “amen” en groet en ry met ’n ligte gemoed huis toe, oortuig daarvan dat ek alle moontlike toetse geslaag het.

Totdat Saartjie Skriba my gister bel en klik dat oom Sarel Dirkse se bure vertel daar was laas Sondagaand ’n hele sinodesitting by oom Sarel se huis. “Hulle sê al wat ’n priester en profeet en pastoor is was daar. Hulle sê hulle het gewonder waar is dominee se blou bakkie dan.”

Toe weet ek: Ek het inderdaad die toets gedop. Ek kon nie daarin slaag om wáárlik en oprég en tot in die voorhowe déúr te bid nie; daar moes ander, meer bedrewe, bidders ingeroep word.

Ek gaan beween my kleinserigheid voor my vertroueling. “Jy moet weet,” sê Sakkie Skool stilweg en nadat hy goed geluister het, “dat sondeloosheid ’n sware las is. Jy moet jouself voortdurend herontwerp. En dít is ’n genadelose opdrag.”

Ek verneem toe ook vroegoggend wat ek reeds kon vermoed: Sarel-sonner-sonde vertel aan al wat leef en beef hoe dankbaar hy is vir die vele voorbidders wat hy Sondagaand ontbied het se kragtige gebede. En hoe sy vrou asof oornag wonderbaarlik herstel het.

Terwyl Sakkie se trooswoorde steeds in my ore weerklink, bly ek aan my wonde lek. Waar het ek gefaal? Hoekom kan ek nie daarin slaag om déúr te bid nie? En waar presies is die voorhowe?

En toe, liewe ouers, word ek vanmiddag uit my selfkastyding geruk deur ’n deurklokkie wat lui. Ek skrik toe ek die voordeur oopmaak: Sarel-sonder-sonde se vrou, tot by haar kuiltjie in ’n swaar jas toegewikkel. Serp om die nek en halfpad oor haar mond.

Maar haar gesig is hoogrooi, soos ’n mens met koors – of iemand wat vinnig gestap het. En toe ek vinnig kyk, sien ek dit: Sy het plat stapskoene aan.

“Dominee,” sê sy kortasem, “ek kan nie inkom nie.” Sy kyk om, straat se kant toe, asof sy bang is iemand het haar agtervolg. Daar is nie ’n voertuig in sig nie.

“Ek het net vinnig kom dankie sê. Vir alles wat jy vir my beteken het. Die twee keer wat jy by my was. En … eintlik deur al die jare. Jou boodskappe oor God se onbeskryflike groot genade.”

Toe haal sy ’n botteltjie uit haar jassak. Konfyt.

Ek neem dit by haar. Oorbluf. Sprakeloos.

Maar, nee, ek hoef haar nie huis toe te neem nie. Sy het net gou dié gebring, die huis is nie ver nie, sy sal regkom, dankie.

En dit was toe ek die strompelende figuurtjie agterna kyk, liewe ouers, dat ek vir die eerste keer in my lewe die belewenis gehad het dat ek sopas in die voorhowe was.

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail