‘Gryp die dag – môre is minder gewaarborg as ooit’

“Avontuur is na aan jou, jy moet net jou oë daarvoor oopmaak. Jy moet kies om dit raak te sien.” Só sê ’n bekende aktrise wat reeds die wêreld vol gereis het en wie se drome klaarblyklik alle grense oorskry. Daar is wel ’n hartewens of twee wat nog wag om vervul te word …

DEUR MARTJIE ROOS; FOTO’S: ANNEMARIE WICHMANN 

Die aktrise Pascal Pienaar (32) wat ons destyds as die bedorwe snip Karli in die sepie Binnelanders leer ken het, reis nie net die wêreld plat nie; sy is ook ’n knap sakevrou en ’n aktiewe omgewingsaktivis wat dwarsoor die land bome plant.

Daarby maak sy wyn, en haar naam staan selfs op die bottels.

Haar lewenslus is onblusbaar en, vertel sy, sy het nog baie toekomsdrome. “As daar een ding is wat die Covid-19-pandemie my geleer het, is dit carpe diem. Ja, gryp die dag! Want môre is nou minder gewaarborg as ooit.”

Reisiger soos min

Op sosiale media lyk Pascal se lewe na een groot, lang, avontuurlike vakansie. Noem maar ’n land se naam, en Pascal was al daar – Italië, Marokko, Kroasië, Malta, Peru, Jordanië, Spanje, Amerika, Israel, Libanon, Turkye, Colombië. Om maar ’n paar te noem. Daar is reeds 45 sulke bestemmings op haar kerfstok.

Haar reisjoernaal staan bult van al die hoogtepunte en sy sukkel om sommiges uit te sonder. Sy sê darem: “Een groot hoogtepunt was om in 2019 die historiese Machu Picchu-roete in Peru saam met goeie vriende te gaan stap. Om bo die wolke wakker te word en elke dag ’n ander soort landskap te aanskou.”

Dan was daar haar reis deur die suide van Italië in 2018. “Ek het drie weke lank saam met Italianers in Puglia deurgebring. Die kos in daardie streek is uit die boonste rakke. Die tamaties smaak soos sonskyn en die see is warm. En almal lag. Smiddae is dit tyd vir ’n siësta, twee ure lank.”

En wat van 2017, toe Marrakesj in Marokko haar hart verower het?

“Ek het iewers in ’n binnehof in daardie woestynstad op tipiese Sahara-musiek gedans. Dit was pure betowering. Geen geld ter wêreld kan goue oomblikke soos daardie koop nie.”

Haar wanderlust sal nooit geblus word nie, sê sy. “Ek sukkel om aan die lewe versadig te raak. Gelukkig werk ek vir myself, en daarom maak ek sulke goeie tye ’n prioriteit in my lewe.”

Reis is in haar gene, daarvan is sy oortuig. “My voorvaders was Franse Hugenote wat na Suid-Afrika gevlug het. Die Pienaars het ook in die vroeë 1800’s oor die berge getrek.

“Ek het onlangs alleen na Kimberley gereis en daar ontdek dat ek ook ’n delwersgees het,” skerts sy. “Ja, daar is definitief ’n pioniersdrif in my.”

Pascal sê sy verkies om op eie houtjie te reis. “As jy alleen reis,” sê sy, “leer ken jy nuwe mense. En jy kan kom en gaan soos jy wil. Dis wel ook lekker om saam met vriende te reis. Dis net nie altyd haalbaar met almal se verskillende behoeftes en wense en tydraamwerke nie.”

Foto: Annemarie Wichmann

Meer as ’n reisiger

Pascal se lewe bestaan egter nie bloot uit tasse, paspoorte en padkaarte nie; sy is ook ’n suksesvolle sakevrou. Sy bestuur haar eie onderneming, NuSkin, wat velsorg bevorder. Sy lei ook konsultante binne en buite Suid-Afrika op.

Omgewingsbewaring lê haar na aan die hart. “Ek het in 2018, nadat ek heelwat gereis het, besluit om ook verantwoordelikheid vir my koolstofvoetspoor te aanvaar en ek het begin bome plant. Ek het op sosiale media navraag gedoen of daar vrywilligers is wat my sou wou help. Daarna het ek by verskeie plekke toestemming verkry om daar bome te plant.

“Ons het begin deur inheemse bome in die informele nedersettings naby Hammanskraal te plant. Ek het toe ook gekyk hoe ons die projek kan befonds. So het ek die idee gekry om my eie T-hempies met ’n spekboom-logo te ontwerp en te verkoop.

“Vir elke T-hemp wat ek so verkoop het, het ek twee bome geplant.”

Dié projek het van krag tot krag gegaan. “Ons het by verskeie kantoorkomplekse bome geplant, by ATKV-oorde, by verskillende universiteite en langs ’n snelweg in Kaapstad. Asook by die groot spekboomlabirint naby Stellenbosch.

“Met al die bydraes wat ons ontvang het, kon ons reeds meer as 2 000 bome plant. Die Covid-19-pandemie het ons wel ’n bietjie gekortwiek, maar ek maak reeds planne om voortaan baie meer bome te plant.”

Drome en werklikhede

In Augustus 2020 het Pascal by Joanne Hurst gaan aanklop. Joanne is die eienares van Wildehurst Wines by Koringberg in die hartjie van die Swartland, en Pascal wou by haar weet of daar dan nie vir haar ’n geleentheid in die wynbedryf is nie.

Pascal vertel: “Joanne het my toestemming gegee om my eie etiket te ontwikkel – en ‘Pascal’ is gebore. Nou het ek reeds drie etikette in die Pascal-reeks. Ek het dit na my drie honde vernoem: Ned (’n rooiwyn) wat na my skaaphond vernoem is; Luka (’n rosé) wat na my Wire Fox Terriër vernoem is; en Nandi (in die vin blanc-styl) wat na my ander wit en swart skaaphond vernoem is.

“Ons beplan ook om iewers ’n vonkelwyn in die method cap classique-styl te ontwikkel en beskikbaar te stel.”

En verdere planne?

“Ek wil in die nabye toekoms met ’n YouTube-kanaal oor die gholfbane in Suid-Afrika begin. En ek wil eendag my eie reisprogram vervaardig en aanbied.

“Ek wil ook ’n koffiewinkel in Johannesburg open. En ek en my vriendin Anelle beplan om werksessies by die Fynbos-gholfbaan te hou.”

Fotograaf: Annemarie Wichmann

Familie en ander liefdes

Maar haar lewe is nie net vol mooi drome nie. In April vanjaar moes sy ’n liefdesteleurstelling verwerk nadat sy haar verlowing verbreek het.

”Dit was die moeilikste besluit in my lewe,” vertel sy. “Ek was baie lief vir hom, en dit sal nog lank so wees. Ek glo net dat totale vrede die eenvoudigste bestanddeel is om te weet of jou keuses reg is vir jou. En hierdie vrede het my bly ontwyk, al het ek in my gebede daarvoor gepleit.

“Maar met die lente nou amper hier, kom daar altyd weer hoop. En hopelik iemand oulik …”

Hoe moet haar droomman wees?

“Avontuurlustig, vredeliewend, entoesiasties, gelowig en ambisieus. En hy moet common sense hê.”

Pascal is baie familievas. “My suster Yente (33) en my ma Jeanne, wat vanjaar 60 geword het, is twee bitter eerlike mense. Hulle is op ’n manier die quality control in my lewe. Reg en verkeerd is vir my ma baie belangrik. En soms kry ek ’n bietjie van die waarheid by haar in, net om my in toom te hou.

“Yente het ook my lewe help vorm. Sy het die droogste humorsin denkbaar, en sy is ’n regte fashionista. Ek is nooit te oud om klere by haar te leen nie. Yente se liefdestaal is ‘bederf’. Ek wil meer soos sy wees.”

Foto: Annemarie Wichmann

Kreatiwiteit en geloof

Pascal was in Maart 2019 laas voor die kamera toe sy die rol van Karli in Binnelanders gespeel het.

Het die toneelgogga dan nog nie weer gebyt nie?

Sy antwoord: “Ek mis dit geweldig om daagliks saam met kreatiewe mense te werk. Ek het baie lief geword vir die Binnelanders-span, en ek sal graag weer in ’n sepie, ’n film of ’n reeks wil speel.”

Geloof, sê sy, speel ’n prominente rol in haar lewe. “As ek nie in geloof lewe nie, bevind ek my gou op donker plekke. Ek voel leeg en alleen.

“Tog weet ek ook in sulke tye dat die Here my sien en van my weet. Geloof is iets wat ’n mens moet voed, soos jy ’n plant water gee. Dit wys gou in jou lewe as jy dit nie doen nie.

“Ek ken myself in die Here. En as ek afdwaal, word ek ’n vreemdeling. Eintlik is dit so eenvoudig: Lees jou Bybel en bid. Elke dag. ’n Bietjie water en ’n bietjie kos, en jou geloof sal gesond wees. Dit wat jy voed, is dit wat groei.”

Roger Federer

Toe die kampioentennisspeler Roger Federer verlede jaar in ’n vertoonwedstryd in Kaapstad teen Rafael Nadal gespeel het, het hy saam met Pascal in een van haar spekboom T-hemde op sosiale media geposeer.

Sy vertel: “Ons is verlangs familie van mekaar, ons is baie goeie vriende met sy ouers. Roger en sy mense het ná die wedstryd by ons kom tee drink en toe ek hom vra of hy in een van my T-hemde sal poseer, was hy heel inskiklik. Hy is met ’n paar daarvan terug Switserland toe.”

Kortliks …

Watter teks in die Bybel is vir jou ’n rigtingwyser?

Spreuke 31 gee my die riglyne vir hoe ek wil wees en hoe ek wil leef.

Watter raad het jy vir mense in hierdie uitdagende tyd?

Dit gaan dalk vreemd klink … Maar as ’n mens seer het, as jy sukkel met hoop, as jy in sak en as sit, wil die Here hê jy moet Hom dien. Hy is naby aan diegene wat seer het. Om Hom in die seer tye te aanbid en te loof, verander ’n mens se hart. Dis die klein geskenk wat ons kan gee. Die Here laat wonderwerke in ons lewe gebeur wanneer ons ons hart oopmaak en ons hande lig.

Wat doen jy om jou gemoed te lig?

Ek gaan stap. Dit verrig wonders! En dan vra ek die Here om my te help met dit wat my ontstel. Dat Hy my swaar hart weer lig maak.

Was jy al in situasies waartydens jy gevoel het dat die Here se hand duidelik sigbaar was?

Die Here het my reeds ’n klomp keer gered. Daar was tye toe ek gevoel het ek moes eintlik dood gewees het. Hy was by my toe ek heeltemal hulpeloos en swak was en gewonder het wie sal voorsien.

  • Die artikel is in die Lente-uitgawe van die gedrukte LiG.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img