Die destydse TV-advertensie vir kleefplastiek het my sesjarige verbeelding aangegryp. Ek het verwonderd gekyk hoe ’n vrou koeldrank in ’n glas skink, die glas se oop kant met kleefplastiek bedek – en die glas met ’n sierlike boog die lug in gooi.

Elke keer het die kleefplastiek verhoed dat ’n enkele druppel gemors word. Die adverteerder het dan ten slotte gespog oor hoe goed dié soort kleefplastiek kan klou.
My ma het daardie einste soort in haar kombuiskas gehad, en ek het besluit om self te probeer. Ek het gerek tot by die rak waar die glase gebêre is, een daarvan versigtig met koeldrank gevul, en toe ’n stuk kleefplastiek om die glas se bek getrek.

Met my voete wyd geplant en gereed vir aksie het ek die glas hoog die lug in gegooi. Maar my korrel was ’n bietjie uit: Die glas het op die vloer beland en gebreek.

Ek het die stukke, so met die nat kleefplastiek en al, onder my bed gaan wegsteek sodat my ma nie moes weet ek het een van haar glase gebreek nie.

Maar ’n dag later kon ek die skuldlas nie meer dra nie. Snikkend het ek haar gaan vertel wat gebeur het.

Tot vandag toe onthou ek dat sy nooit met my geraas het soos ek verwag het sy sou nie. Ek was vergewe nog voordat ek my laaste traan afgevee het.

 

Op my lewensreis saam met God het ek al dikwels hierdie soort genade beleef. Daardie versigtige nader tot God met die vrees dat Hy my gaan straf, maar dan is daar elke keer die heerlike ontdekking dat Hy vergewe. Dat Hy my daarna nóg nader aan Hom trek.

My heerlikste belewenisse op my pad saam met God is egter die uitwerking wat sy genade op my het. Sy genade is nooit goedkoop nie; dit is ’n dryfveer wat ons dieper in sy heiligheid en liefde in trek. Sodat ons daardeur verander kan word.

God se genade is nie net vergifnis nie; dit is ook heel maak. Daar waar geen mensehande die skerwe weer bymekaar kan sit nie, dáár kom God se hand by en genees.

Die Paasgebeure benadruk God se heelmakende krag: Jesus se liggaam is vir ons gebreek, maar God maak sy liggaam weer nuut en heel. Ons breek die nagmaalbrood en onthou dié gebeure, en word dan deur sy Gees en sy bloed – en ja, ook deur sy vergifnis – heel gemaak.

Die Een wat herstel wat stukkend is, roep deur die kruis: Ons mag maar ontdek. Ons mag maar nuwe dinge probeer. Ons mag maar waag. Ons mag lewe! Want in Hom is daar altyd die belofte dat stukkend weer heel kan word.

Lees nog redakteursbriewe hier

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail