Hoender bly vir baie ’n familie-gunsteling. En die belofte van oond-hoender op ’n Sondag lok menige kind huis toe vir die naweek. DEUR ATEL STREICHER;
FOTO’S: THIRDREPUBLIC

Suurlemoen-en-tiemiehoender
4-6 porsiesSuurlemoen-en-tiemiehoender

Jy benodig

  • ’n Heel, vars hoender, ongeveer 1,6 kg, afgespoel en droog gedruk
  • Sout en varsgemaalde swartpeper
  • 75 ml (5 e) sagte botter
  • 30 ml (2 e) tiemieblaartjies (knip die tiemietakkies fyn met ’n kombuisskêr)
  • 1 suurlemoen, in die helfte deurgesny
  • 6 aartappels, geskil en in kwarte gesny
  • 12 klein uitjies, geskil
  • 6 takkies suurlemoen-tiemie
  • 375 ml (1½ k) hoenderaftreksel, berei van 15 ml (1 e) ekstrak-poeier
  • ’n hand vol roket- of bronkorsblare, afgespoel

Jy maak só

  1. Plaas die hoender in ’n oondpan met die bors-gedeelte na bo. Geur dit goed met sout en peper, ook in die holte. Voorverhit die oond tot 180ºC.
  2. Meng 60 ml (4 e) sagte botter met die tiemie en geur dit met sout en peper. Maak die hoendervel versigtig los, en vul dit op met die bottervulsel. Sorg dat dit goed versprei is. Plaas die suurlemoenhelftes in die holte en maak die hoender se bene met kombuistou aan mekaar vas. Smeer die orige botter oor die hele hoender, en geur dit weer met sout en peper.
  3. Vul die res van die oondpan met die aartappels en uitjies, asook die tiemie en die aftreksel. Plaas dit in die oond en laat dit 75 minute lank bak, of totdat die hoender en die aartappels gaar is. Die aartappels kan halfpad deur die gaarmaak-tyd omgedraai word. Voeg nog van die aftreksel by as die dis vir jou te droog lyk.

Brandrissie-en-suurlemoen-hoender met koljander-mayonnaise
6 porsiesBrandrissie-en-suurlemoen-hoender met koljander-mayonnaise

  • 8 hoenderporsies, byvoorbeeld dye en boudjies, gewas en droog gedruk
  • sout en gemaalde swartpeper
  • 2 knoffelhuisies, fyngemaak
  • 60 ml (¼ k) olyfolie
  • 2,5 ml (1,2 t) tot 5 ml (1 t) brandrissievlokkies (na smaak)
  • sap van een groot suurlemoen

Koljander-mayonnaise

  • 375 ml (1½ k) goeiekwaliteit mayonnaise
  • 125 ml (½ k) vars, gekapte koljanderblare
  • Sap van ’n halwe suurlemoen
  • 5 ml (1 t) olyfolie
  1. Plaas die hoender in ’n oondbak. Geur dit met sout en peper, en voorverhit die oond tot 180ºC.
  2. Meng die knoffel, olyfolie, brandrissievlokkies, suurlemoensap en skep dit oor die hoender. Plaas dit in die oond en laat dit ’n uur lank bak.
  3. Meng die bestanddele vir die koljander-mayonnaise en sit dit voor in ’n bakkie met gaar hoender.

WENK: Jy kan ook die mayonnaise vervang met gelyke dele mayonnaise en suurroom; dit sal die tekstuur gladder maak.

Geroosterde knoffelhoender met roketsous
4-6 porsiesGeroosterde knoffelhoender met roketsous

Jy benodig

  • 2 knoffelbolle, geskil en in huisies gebreek
  • olyfolie
  • sout en varsgemaalde swartpeper
  • een heel, vars hoender, ongeveer 1,6 kg, afgespoel en droog gedruk

Roketsous

  • ’n hand vol vars roketblare, afgespoel
  • 30 ml (2 e) suurlemoensap
  • 60 ml (¼ k) olyfolie

Jy maak so

  1. Voorverhit die oond tot 180ºC. Plaas die knoffelhuisies in ’n oondbak. Sprinkel die olyfolie oor en geur dit met sout en peper. Plaas die hoender op die knoffel en besprinkel dit met olyfolie. Geur alles met die sout en peper. Bind die hoender se bene met kombuistou vas. Die hoender word nou ’n uur lank in die oond gelaat, of totdat dit gaar is.
  2. Maak intussen die sous.  Verpulp al die bestanddele saam en geur dit met sout en peper.
  3. Sit die hoender met die roketsous voor saam met ciabatta-brood. Smeer die brood met die pansappe en uitgedrukte knoffel.

Prettige, plat hoender
As jy ’n heel hoender wil gaar maak maar jy weet nie of daar genoeg tyd gaan wees nie, maak hom … plat.

Doen dit só: Plaas die hoender op ’n skoon oppervlak met die borskant na onder. Gebruik ’n skerp skêr of mes en knip/sny al langs die borsbeen. Draai die hoender nou om (maw met die borskant na bo) en druk hard op die borsbeen.

Siedaar: Plat hoender! Druk die vlerkies nou onder die hoender in voordat dit in die oond geplaas word.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail