‘Here, leer ons bid!’

Gebed is ’n persoonlike saak, en is dikwels ook omstrede. Daar is gelowiges wat met hul onfeilbare resep vir gebed te koop loop; daar is moedeloses wat lankal ophou bid het. Hoe behoort ons te bid? Wat sê God se Woord oor ons woorde aan Hom?

DEUR STEPHAN JOUBERT

Klein en groot doen dit. Oud en jonk, ryk en arm, diep gelowig en minder gelowig doen dit.
Bid.

Almal bid. En op baie plekke. Sommige bid baie. Daar word tydens ’n skoolopening gebid, voor ’n vergadering, ’n ete, ’n kerkdiens en stiltetyd. Langs ’n siekbed, by ’n eksamen, voor slapenstyd. Sportmanne sê hemelwaarts dankie as hulle punte aanteken. Selfs niegodsdienstiges erken dat hulle soms bid.

Leer ons bid

So ’n klompie jare gelede het ekerk ’n studie onder Afrikaanssprekendes oor die rol van gebed onderneem. Die meeste het gesê hulle bid tussen vyf en tien minute per dag. Amper 90% van die gebede is versoeke vir die gesin en familie se welstand. Daar is ook gebede vir geestelike groei (67%), vriende se nood (65%), eie gesondheid (65%) en persoonlike veiligheid (57%).

LEES OOK: ‘God verhoor ons gebede, klein en groot,’ sê pensionaris

Baie mense het erken dat hulle steeds met gebed sukkel. Dikwels, so het hulle gesê, voel dit asof hul gebede leweloos op hulle terug plons. Hierdie opmerking het my laat dink aan die woorde van ’n bekende wat een keer by die Klaagmuur in Jerusalem gaan bid het. Ná die gebedstyd vra iemand hom hoe hy dit beleef het. Toe antwoord hy: “It was like talking to a wall.”

Hoe kry ons dit reg om so te bid dat ons gebede verhoor word? Jesus het ons immers geleer om te vra, dan sal ons ontvang. Om te soek, dan sal ons vind. En om te klop, dan sal die hemelse deure oopgemaak word (vgl Matt 7:7-8).

Daar is geen ander uitweg nie: Ons sal moet leer om te bid. Soos Jesus se dissipels gevra het, sal ook ons voortdurend moet vra: “Here, leer ons bid” (Luk 11:1).

Bid U vir ons, asseblief

Ons bevind ons in goeie geselskap as ons nie aldag weet hoe en wat om te bid nie. Paulus sê dis ons almal se grootste swakheid (vgl Rom 8:26-27). Ons sukkel. Ons kry dit nie elke keer reg om reg te bid nie.

Maar hier is die goeie nuus: Ons het ’n Voorbidder in die hemel. Die Heilige Gees, skryf Paulus, pleit vir ons. Hy vertaal ons diepste nood in hemelse woorde. Hy bid vir ons in ’n taal wat God se hart raak.

Die nuus word selfs beter: Ons het ook ’n tweede Bidder in die hemel. Ons lees in Romeine 8:33-34 dat ook Jesus daar vir ons intree.

Dis die belangrikste les oor gebed. Hoor dit asseblief nog ’n keer: Die belangrikste Bidders is in die hemel, nie hier op die aarde nie. Wanneer ons woorde voor God op raak, of wanneer ons geloof min raak, bid die Gees en Christus steeds vir ons.

Dis nie ons eie kragtige gebede of ons groot geloof wat al die deurbrake en gebedsverhoring meebring nie. Nee, dis die hemelse Gebedspan wat ons dra. Daarom nader ons nie heel eerste allerlei gebedsgroepe of gelowige vriende om vir ons te bid nie; ons vra elke dag die Gees en Christus om vir ons te bid. Hul gebede word verhoor, altyd.

U moet meer word …

Te veel mense se gebede klink soos daardie ou ABBA-liedjie: “Gimme, gimme, gimme!” Oftewel: “Gee, gee, gee!”

Sulke mense bid slegs wanneer hulle iets van God nodig het. Of wanneer Hy moet uithelp. Dan moet dit boonop blitsvinnig gebeur. Én op die manier wat hulle verkies. Soos daardie ander liedjie van Queen dit wil hê: “I want it all, and I want it now!”

LEES OOK: Gebede ánderkant woorde

Om reg te bid, is om te weet dat die Here nie bloot die hemelse Verskaffer van religieuse dienste is nie. Gebed werk nie soos ’n versoekprogram oor die radio waar ons hoop ons versoeke word darem iewers gespeel nie. Gebed is ook nie ’n vroom poging van ons kant om aan God raad te probeer gee oor hoe Hy die wêreld moet regeer nie. Of bedekte opdragte oor hoe Hy met almal om ons moet afreken nie.

Nog minder is gebed vervelige godsdienstige resitasies wat ons oor en oor met toe oë moet opsê. Wanneer ons bid, praat ons met die lewende God. Ons praat met Hom wat dikwels in die psalms as die hoorder van gebed aangespreek word.

Ons gebede, soos die res van ons geloofslewe, is allereers op God gerig. Gebed handel altyd en oral oor Hom.

Gebed is om met respek en eerbied in sy heilige teenwoordigheid te wees. Dis om kleiner te word voor Hom. Dis om te bid dat sy Naam geheilig word. Dat sy koninkryk wen. Dat sy wil geskied. Gebed is om meer van God te hê en minder van onsself.

Die gebedsroete

Natuurlik mag ons ook in ons gebede dinge van die Here vra. Ons mag ons eie en ander mense se probleme na die Here bring. Trouens, ons moet dit doen.

Maar dan bid ons vir ons daaglikse brood, nie vir ons selfsugtige behoeftes nie. Dan bid ons in oor­eenstemming met God se Woord, en binne sy wil. Die Here weet in elk geval wat ons en ander mense nodig het nog voor ons dit van Hom vra. Dit leer Jesus ons in Matteus 6:8.

Ons kan dus die fynere besonderhede van ons behoeftes gerus aan Hom oorlaat. Dan werk dit eenvoudig só: Ons smeek Hom, en ons vertrou Hom. Hy sal op sy eie tyd en sy eie manier help. Só leer Paulus ons in Filippense 4:6-7.

LEES OOK: Caroline-Grace se gebed vir klein Iza

In Matteus 7:9-11 sê Jesus dat God nooit vir ons ’n klip sal gee as ons brood vra nie. Hy sê nie dat God daardie spesifieke soort brood wat ons vra vir ons sal gee nie. Paulus sê nie in Filippense 4 dat as ons ons behoeftes aan God bekend maak, dit net so bevredig sal word nie. Hy sê wel dat as ons dit smekend doen, die vrede van God oor ons verstand en ons hart sal heers.

Is dit nie gebedsverhoring sonder weerga nie? Hoor weer: God se vrede sal oor ons lewe heers. Dis die gebedsverhoring van ’n leeftyd. God se vrede is die antwoord waarna ons smag. Hy gee dit aan elkeen wat die gebedsroete van Filippense 4 getrou volg.

Om reg te bid, is om te weet dat God self genoeg is. Hy self is die antwoord. Hy self is die deurbraak. Hy self is die gebeds­verhoring.

Om “gebed-fiks” te wees, is om dit te glo en te beleef. En om gedurig soos Jesus te bid: “Nie my wil nie, maar u wil moet geskied.”

Om só te bid, is om die krag van gebed te ken. Dis om God reg te ken, en om by Hom tot rus te kom. Dis om nooit teen ’n muur vas te bid nie.

  • Dié artikel is tans op winkelrakke in die winteruitgawe van die gedrukte LiG.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img