Herprogrammeer jou brein met God se hulp

DEUR SIMONE GAUCHE

Die bekende alarmdeuntjie weergalm in jou ore. Jy lê onder die warm komberse – en jou eerste gedagte is: “Ek het hopeloos te min geslaap!”

Jy dink aan hoe jy laas nag rondgerol het.

Hoeveel keer het die kinders jou nou weer wakker gemaak?

En dan, die bure se hond wat die héle nag geblaf het …

LEES OOK: Laat Hy jou bouprojekte goedkeur

Nou begin jy dink aan wat jy vandag alles moet doen. Jy gaan die lysie in jou kop deur. Jy besef: Daar is hópeloos te min ure in hierdie dag!

Dis eers later dat jy onthou hoe jou oggend met negatiewe gedagtes afgeskop het. Hoe jy die dag met ’n agterstand begin het. Jy erken aan jouself dat dit nou elke dag se storie is, en dat jy besig is om die stryd te verloor.

Hoe nou gemaak?

Hoe sal dit wees as jy begin nadink oor jou gedagtes? Regtig daaroor te dínk? Doelbewus te dink?

Dalk sou jou dag effens anders verloop het as jy, byvoorbeeld, wakker geword het met dié eerste gedagte: “Dankie, Here, vir hierdie dag wat U gemaak het. Dankie dat ek vanoggend kan opstaan omdat ek nog werk het om vir U te doen.”

Twee scenario’s wanneer ’n moeilike dag voorlê

  1. My kop sê vir my ek het te min tyd om alles te doen wat ek moet. Kyk hoe hoop my werk op! Kyk hoe lyk my lys agterstallige e-pos. Die wasgoed moet gewas word. Die skottelgoed lê en wag vir my. Ek moet kos op die stoof kry vir vanaand. Ek dink nie daar is genoeg in die yskas van dit wat ek wil voorberei nie.
  2. My kop troos my dat ek darem al heelwat uitgerig het. Almal se kosblikke en tasse is gepak. Almal se magies is vol ontbyt. Almal is aangetrek. Dit was nie op my lysie nie, maar ek het ’n tydjie afgeknyp vir ’n vriendin wat ’n moeilike tyd deurmaak en my ondersteuning nodig het. Ek het gisteraand bal gespeel saam met die kinders. Buitendien het ek ’n plan vir aandete, en ek sal dit gou op die stoof kry terwyl ek ’n bondel wasgoed was.

Die eerste scenario verklap niks minder nie as ’n vrees vir die toekoms. En niks daarvan is meer as ’n voorspelling nie, en niks daarvan is binne my beheer nie.

Ek moet begin besef dat “nou” ál is wat ek kan beheer. “Netnou” is ’n nuwe oomblik met nuwe moontlikhede. En “môre” is nie nou so belangrik as wat ek dink dit is nie.

Daar bestaan wel ’n moontlikheid dat ek hierdie vasgelooptheid kan omkeer, dat ek uit hierdie tronk kan ontsnap. Dié moontlikheid kan ’n werklikheid word as ek begin besef dat die menslike brein ’n wonderlike orgaan is. Dat ek dit inderdaad kan herprogrammeer.

Ja, as jy régtig wil, kan jy jou gedagtes verander.

LEES OOK: Wanneer jy worstel …

En as jy jou perspektief net so ’n klein bietjie aanpas, verander jou ingesteldheid ook.

Hier is ’n klompie wenke om dit reg te kry:
* Dink doelbewus na oor die eerste gedagtes waarmee jy soggens opstaan.
* Vervang negatiewe gedagtepatrone op ’n doelgerigte manier met nuwe, positiewe denke.
* Dalk wil jy ’n Bybelversie memoriseer om negatiewe gedagtes te vervang. Wat dan van iets soos: “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees” (Ps 118:24).
* Begin elke oggend met ’n inskrywing in ’n dankbaarheidsjoernaal.
* Herinner jouself daaraan dat om jou denke te verander wel moontlik is. Dat dit inderdaad binne jou bereik is as jy op Christus vertrou om jou te help. Hoor wat skryf Paulus: “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is” (Rom 12:2).
*Fokus voortdurend op wat jy reeds uitgerig het, en nie op wat nog gedoen moet word nie.
* Gun jouself tyd. Nuwe gewoontes word nie oornag gevestig nie.
* Vra die Here om jou met die vernuwing van jou denke te help.

  • Simone Gaucheis ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

#2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

DEUR ADRI COETZEE So breek my eerste chemoterapiesessie aan. Teen die muur in die onkologie-afdeling staan dié teksvers geskryf: Neh...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img