Tuesday, June 22, 2021

‘Hoekom laat leef God my gestremde seun, en my gesonde kind sterf?’

DEUR DESIRE CORBETT

Aan die einde van my matriekjaar word ek swanger. Dit was destyds ’n groot skande en ek is na ’n tehuis vir ongehude moeders gestuur. Berg-en-Dal was die volgende ses maande my tuiste. Op 19 Junie 1987 is my seun Darius gebore. Ek het besluit om hom alleen groot te maak en het na my grootworddorp teruggekeer. Ek het by ’n myn werk gekry, en die lewe het sy gang gegaan.

LEES OOK: Gestremdes en jou kind

Darius was twee jaar oud toe iemand hom soen. Dié persoon het ’n koorsblaar op die lip gehad. Die virus waarvan die koorsblaar ’n simptoom was, het Darius se liggaam binnegedring en, soos ons later sou vasstel, sy brein aangetas.

Darius het baie siek geword. “Flight for Life” het hom inderhaas kom haal en hy is in Unitas-hospitaal se intensiewesorgeenheid opgeneem. Daar het hy ses weke deurgebring.
Die dag toe hy ontslaan is, het die dokters my vertel dat my kind nooit weer sou loop of praat of enigiets vir homself doen nie. Hy is verstandelik gestrem en, het die geleerdes gesê, ek moes ’n inrigting oorweeg. Buitendien was sy lewensverwagting maar agt jaar.
Vir lank maak hy bloot geluide, sy vinger bly in sy mond, die spoegies loop sonder ophou. Hy bring die meeste van die tyd in die fetusposisie deur.
Ek ontmoet my man en ons trou. Darius bly my vernaamste verantwoordelikheid en ek bestee baie tyd en aandag aan hom. Ek raak swanger, en op 6 Maart 1992 word nog ’n seun gebore, Jean-Pierre. Hy sterf egter op 5 Mei 1992 – ’n sogenaamde wiegiedood.
Ek is kwaad en seer. Ek voer ’n oorlog in my hart teen God. Hoekom laat leef Hy die gestremde kind en neem my gesonde seun?

Dié gevegte duur lank. Een aand skrik ek wakker – en ek besef dat God in beheer is. Darius het al my tyd en aandag nodig, en Jean-Pierre sou afgeskeep gevoel het sonder dat ek dit so sou bedoel. God praat lank met my, en ek luister. En ek verstaan ál beter. Só word my woede mettertyd liefde. En daar groei ’n vreugde vir die sonskyn-engelkind wat Hy my gegee het.

Vandag is Darius Desire se sonskyn-engelkind. Haar woede is deur God in vreugde omgeskakel. Foto verskaf

Darius word vanjaar 34 jaar oud. Hy praat en sing my ore van my kop af! Die seuntjie wat niks sou kon doen nie, kan beter onthou as ek. Hy kan hom nie self bad nie, hy kan nie self eet of hom versorg nie, hy is spasties aan die linkerkant van sy lyf. Maar hy beskik oor ’n kennis van rugby en musiek wat almal verstom. Hy is voorwaar ’n ster, én ’n inspirasie vir almal.
Alles het egter nie deurentyd voorspoedig verloop nie. Hy het swaar epilepsie-aanvalle gekry en dit het met erge aggressie gepaardgegaan. Toe hy 21 geword het, moes hy ’n breinoperasie ondergaan, ’n corpus callosotomy wat tot gevolg gehad het dat die epilepsie-aanvalle nou nie meer so intens is nie en die aggressie ook nie. Die tassie vol pille wat ek pal moes rondkarwei, is sedertdien vir slegs twee middels verruil.
Darius is ’n sonskynkind. Elke dag drink hy koffie by sy gunstelingkoffiewinkel in die dorp, en sy teenwoordigheid daar is vir almal ’n vreugde. Hy raak mense aan op ’n manier wat net hý kan.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img