Het jy al ooit jouself afgevra hoekom jy kinders wil hê?

Dis ‘n eenvoudige vraag, en jy het waarskynlik al ʼn paar standaard antwoorde:  Dis maar iets wat ons doen – deel van ons kultuur en die normale verloop van die lewe. Dis die volgende logiese stap.

DEUR JACKIE VAN WYK

As jy langer daaroor dink, sal jy dalk uitkom by antwoorde soos dat jy graag ʼn nageslag wil hê, dat jy vir iemand wil sorg of dat jy die ervaring met jou maat wil deel.

Die meeste van ons begin waarskynlik daar, maar as kinders kry nie so maklik of vinnig gebeur soos verwag nie en jy aan onvrugbaarheid ly, kan die begeerte vir kinders kry mettertyd ongesond raak. Ons gevoelens daaromtrent kan vanweë ons ervaring uiters verwring word en ons redes kan heel besoedel raak.

So dink ek aan my eie begin. Die eerste twee jaar van my en Francois se huwelik was gevul met die onskuldige opgewondenheid dat ons nog soveel het om na uit te sien, waaronder kinders. Ons wou albei nog altyd kinders hê en het ons lewens daarvolgens ingerig. Die meeste van ons besluite was gerig op ‘eendag wanneer ons kinders het.’ Nadat Francois in ons derde huweliksjaar egter met Crohn se Siekte en fase 3b-kolonkanker gediagnoseer is, het ons ‘eendag’ meteens verdwyn en ons het ʼn ongesonde obsessie met kinders kry begin ontwikkel. Selfs tydens sy chemoterapie het ons inderhaas vrugbaarheidsbehandelings ondergegaan. Ons moes net kinders kry voordat hy doodgaan …

Dit is ʼn voorreg om te kan sê dat Francois se behandeling suksesvol was. Ongeag die feit dat hy toe gesond is, kon ons egter steeds nie swanger raak nie. Die jare het verbygegaan en niks het gewerk nie. Daardie jare van onverklaarbare onvrugbaarheid was só moeilik. Dit het my op ontelbare maniere uitgedaag en het ongekende deursettingsvermoë geverg. Die frustrasie en isolasie was met tye eenvoudig te veel. Boonop is alles omtrent wie ek is en wil wees in die proses oopgekrap en ek was gekonfronteer met baie ongemaklike vrae. Die vraag wat egter alles vir my kom openbaar het, was hoekom ons werklik kinders wil hê. Dit klink na so ‘n logiese vraag, maar dit het baie durf, eerlikheid en terapie geneem om die ware antwoorde te ontdek.

Vir Francois sou ʼn baba beteken dat as hy nie die kanker oorleef nie, hy nie ‘weg’ is nie. Op ʼn manier leef hy voort en kan ek nog iets van hom hê, al is hy nie meer daar nie. ʼn Baba het ook ʼn simbool van ons gelukkige einde begin word. Dit sou die teken wees dat alles verby was, dat ons kon vergeet van die moeilike tye en dat ons sou kon aangaan waar ons opgehou het voordat Francois onverwags siek geraak het. Alhoewel dit seker te verstane is, glo ek nie dat dit ons motivering moes wees nie.

Tydens Francois se siekte en ons onvrugbaarheid, was daar baie gevoelens wat ons nie werklik hanteer het nie. Onbewustelik was dit makliker om te fokus op die toekoms en te vergeet van dit wat ons onderdruk het. Daar was woede teenoor God, teleurstelling en verwarring. Ons het gevoel Hy sien ons nie raak nie – inteendeel, ons het Hom by tye as baie wreed ervaar. En ek het skuldig gevoel hieroor. Kan jy identifiseer?

Gelukkig het God die wonderlike manier om selfs die slegste om te keer in iets goeds. Op die ou einde het daardie tyd van onvrugbaarheid vir my beteken dat ek verskeie onverwerkte gevoelens kon hanteer. Dit het begin by die tyd toe Francois siek was, maar dit het baie verder gestrek. Danksy die ontdekking oor wat kinders vir my begin beteken het, het die Here geweldig baie aan my openbaar oor my verlede, identiteit en geloof. Om ʼn ma te word sou nie hierdie sake toesmeer nie, maar om te dink oor hoekom ek ʼn ma wil wees, het juis die deurbrake gebring.

So hoekom wil jý kinders hê? Probeer jy dalk gebeurtenisse in jou eie kinderjare herskryf? Sal dit vir jou beteken dat jou liggaam werk, dat jy normaal is of dat jy weer lief sal kan wees vir jouself? Sien jy dit as die oplossing vir ʼn probleemhuwelik of die antwoord op wat jou doel in die lewe is? Strook die antwoorde hierop met God se wil en plan vir jou lewe?

Ons almal begin iewers op ons reis na ouerskap. Ek kan sien hoe ver onvrugbaarheid my geneem het van waar ek was tot waar ek vandag is. Ek is dankbaar vir wat die Heilige Gees langs die pad kom openbaar het.

Moet nooit die mag van ‘eenvoudige vrae’ onderskat nie – die Here kan dit dalk net gebruik op onverwagse wonderlike maniere.

Hierdie is deel 2 van ‘n reeks oor onvrugbaarheid.
Deel 1:  Onvrugbaar – Jy is nie alleen nie.

Deel3: Hoe om swanger te raak en ander ongemaklike onderwerpe

Deel 4: Moet ek bly wees oor ‘n babatees as ek dalk nooit een gaan hê nie?

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail