Tuesday, June 22, 2021

KYK: Joernalis gee hoop vir seuns met ’n afwesige pa

26 Maart 2021


Die joernalis en oudonderwyser Julian Jansen se tweede boek, Seuns sonder pa’s, het onlangs by Lux Verbi verskyn. Dié boek bied ’n persoonlike kykie in hartverskeurende statistieke, onder meer dat meer as 60% van Suid-Afrikaanse kinders nie hul eie pa ken nie. Daar is ook raad van geestelike leiers en gemeenskapslede oor wat aan hierdie gemis gedoen kan word.

TEKS: ENGELA DUVENAGE; VIDEO: FRANCINE PRINS EN ROBERT CABLE

 

 

Hoe sou jy die boek in enkele woorde opsom?

Slegs ’n pa of plaasvervangende rolmodel kan sekere dinge oordra aan seuns wat besig is om groot te word. Die boek bied wenke en hoop.

Hoekom het jy juis so ’n boek geskryf?

Ek het nog altyd ’n honger in my gehad om oor my eie ouerhuis te praat, maar meer nog oor my ervaring as onderwyser in ’n skool met ’n magdom “hoërisiko”-seuns. Jong leeus van wie die naels altyd ontbloot was.

LEES OOK: Verskilmakers: ’n Moderne verlore seun se genadepad

Ek het die vernietigende impak van ’n fisies teenwoordige maar eintlike afwesige pa eerstehands beleef. Ek het dit aan my lyf (aanranding) en gees (trauma) gevoel. As hoërskoolonderwyser het ek die impak van afwesige pa’s en ’n gebrek aan positiewe rolmodelle op die seuns gesien, en hoe dit hul skoolopvoeding nadelig beïnvloed. Dis ’n krisis, maar ook ’n uitdaging.

“Ek het die vernietigende impak van ’n fisies teenwoordige maar eintlike afwesige pa eerstehands beleef. Ek het dit aan my lyf (aanranding) en gees (trauma) gevoel,” vertel skrywer Julian Jansen. Foto verskaf

Ek het deur beplande ingryping mettertyd beleef hoe onderwysers ’n wesenlike verskil in die gedrag, houding en fokus van die einste seuns kan bewerkstellig. Om met daardie jong leeus te kon werk en die gevolge waar te neem, was baie bevredigend, inspirerend en sielsverrykend.

Wat het jy in die skryfproses geleer?

Die skryfwerk het baie emosies in my losgemaak, en ek het ook van onverwerkte verwonding uit my kinderjare bewus geword. My persoonlike seer en my geestelike reis is ook dié van my vyf sibbe. Sommige van ons se individuele reis na volkome heling is steeds slegs gedeeltelik aangespreek, nie afgehandel nie.

Die skryfproses was terapeuties. Ek reken dit was ook so vir my ma Gladys en my broer Warren, wat elkeen aan ’n hoofstuk help skryf het. Dit het hulle moed gekos om hul storie te vertel. Hiervoor is ek hulle diep dankbaar.

Hoe hoop jy sal die boek ander mense raak?

Slegs die seën van die Here sal die boek vlerke gee. Ek weet ook dat baie lesers ’n lewensreis sonder ’n pa moes aanpak, dat hulle die seer daarvan in hulle dra. Hopelik kan hulle nou daaroor (begin) praat.

LEES OOK: Ontgin geloofsgewoontes van die vroeë kerk deur skrywer se lens

Die behoefte aan ’n meelewende pa of minstens ’n plaasvervangende manlike rolmodel is groot. Ek weet ook daar is baie volwassenes wat steeds seer in hulle dra oor ’n vergange jeug wat oorheers is deur ’n verstikkende verhouding met ’n vader. Daar is ook vaders wat nie die bagasie wat hulle reeds dekades lank slapelose nagte gee, kan of wil neersit nie.

Wil jy mense deur die boek laat “beweeg”, of hulle eerder laat besin?

Albei. Dié twee (beweeg en besin) impliseer emosie én daadwerklike aksie. Daar kan nie nét emosie wees nie; daar moet ook aksie wees. Introspeksie, bestekopname, optrede, uitreiking, verbetering, afsluiting, veerkragtigheid, groei, ewewig. En vrede.

Meer as 60% van Suid-Afrikaanse kinders ken nie hul eie pa nie. Dié boek bied hoop en wenke.

Vertel van ’n stukkie hoop wat in die boek ter sprake kom.

Mense het, al is dit soms diep verskuil, die vermoë en selfs die behoefte om te vergewe. Om te vergewe, is om ander, juis ook jouself, vry te spreek. Ons moet altyd werk na veerkragtigheid. Laasgenoemde woord bring opwinding en energie na my toe.

Gebruik die kans om diegene wat jou te na gekom het, te vergewe. Spreek hulle vry, en gaan vorentoe.

Het jy al terugvoer ontvang?

Minstens vier mense het my van hul reis met ’n afwesige pa vertel, of van ’n pa wat die ma en die sibbe aangerand het. Van dié stories is hartverskeurend.

’n Vrou het my vertel dat sy bepaalde aspekte van haar man se optrede in die boek herken het, en dat sy hom nou beter wil verstaan. Sy glo hy het bepaalde dinge jare lank ver weggebêre. Sy sê sy sal toesien dat hy tot terapie of berading instem.

Ek vertrou dat die boek mense sal help om daardie onafgehandelde trauma uit hul jeug te hanteer, dat hulle daaroor sal praat. Dit beïnvloed grootliks die verhoudings waarin ons as volwassenes is. Ek glo dat die seën van die Here op die boodskap van die boek sal rus. En dat die boek sal help om ’n verskil in mense en gemeenskappe te maak.

In watter mate het jou dagtaak as joernalis tot hierdie boek bygedra?

Ek fokus dikwels op misdaadstories. Ek is intens bewus van hoe ’n misdadiger eens ’n ontspoorde en ’n hoërisiko-jong man was. Ek behoort aan WhatsApp-groepe waar teksboodskappe daagliks opdaag van hoe jong mans op die Kaapse Vlakte afgemaai word. Van onskuldige kinders wat in die kruisvuur beland. In baie van dié stories kom jy op enkelouergesinne af, waar die pa dood, in die tronk, of bloot afwesig is.

Dit alles het my selfs verder aangevuur om ’n boek te skryf wat die kwessie van vaderlose seuns belig, maar ook om wenke vir rolspelers in die gemeenskap te gee. Ek wou veral weet waar ons as enkelinge en gemeenskappe sinvolle ingrepe kan maak in die lewe van ons seuns en jong mans.

Ons kan dalk nie die gety so maklik draai nie, maar ons kan ’n verskil aan daardie spreekwoordelike een sterretjie maak. Die een wat saam met die gety, en op die regte oomblik, weer sy weg na die oop see vind.

  • Seuns sonder pa’s kan hier bestel word.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertisement -spot_img
LEES OOK ....

‘Vader, vergewe my verkragters; hul het nie geweet wat hul doen nie …’

Amanda Labuschagne (43) van Reitz in die Vrystaat is ’n diep gelowige vrou. Sy dra swaar aan die trauma...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img