Hooploos? Jy is gebore met veerkragtigheid …

Mense sê graag dat ons in “interessante tye” leef, of hulle verwys na die “nuwe normaal”. Maar die meeste van ons sal ná dese waarskynlik heel tevrede wees om in oninteressante tye te leef, om die nuwe normaal as slegs ’n nare droom te onthou. Tog word ons in sulke tye juis ál veerkragtiger.

Deur ILSE SALZWEDEL

Ek skryf hierdie artikel in dieselfde week waarin ekonome besig is om die presiese omvang van die skade weens die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng te probeer bepaal. Dis kwalik ’n week sedert die ongekende plundering skokgolwe deur ons land en die wêreld gestuur het.

Daar was wel ook baie goeie dinge wat uit die verskriklike verwoesting na vore gekom het. En heel gou het rou plek gemaak vir herbou. Foto’s en video’s van konvooie voertuie vol noodvoorrade en van vrywilligers wat geboue bewaak, het binne ’n dag die beelde van brandende geboue en strate vol stormende plunderaars begin vervang.

Om die beste uit die slegste te maak

Die onluste kon kwalik op ’n slegter tyd gekom het. Gauteng was in die middel van die derde Covid-19-golf, met rekordgetalle infeksies en sterftes. Die letsels wat die wêreldwye pandemie en die gepaardgaande sterftes, inperkings, finansiële verliese en ander trauma veroorsaak het, lê diep en rou by almal.

Toe gebeur boonop die bykans ondenkbare.

Wat wag nou op ons? Volgens kenners niks minder nie as ’n geestesgesondheid-pandemie weens die ongekende stres van die afgelope agttien maande.

Gelukkig is die situasie nie so hopeloos soos wat dit lyk of klink nie. Daarvoor sorg veerkragtigheid, ’n eienskap waarmee ons almal gebore word, en iets wat die menslike ras se voortbestaan deur die eeue help verseker het.

Maar wat presies is veerkragtigheid, en hoe kry ’n mens dit reg om terug te bons as dit voel of jy wil bly lê omdat die wêreld om jou stapelgek geword het?

LEES OOK: ‘Al moet jy drome laat vaar, hoef jy nie hoop te verloor nie,’ vertel pa van outistiese seun

Veerkragtigheid is nie dieselfde as deursettingsvermoë of die oorlewingsinstink nie, hoewel dié drie baie met mekaar gemeen het. Kenners is dit boonop met mekaar eens dat ’n mens jou veerkragtigheid kan slyp. Dis iets waaroor ek breedvoerig in my boek Floreer uitwei.*

As jy al ooit gewonder het hoe veerkragtigheid lyk, gaan kyk weer na die video’s en foto’s van mense wat ná die onluste ingespring het om te help. Dit is die perfekte voorbeeld van veerkragtigheid.

Die wonderlikste is dat gewone mense, en nie regeringsamptenare of gehuurde werkers nie, daarvoor verantwoordelik was. Die een dag was almal nog verslae slagoffers; die volgende dag was hulle veerkragtige vasbyters wat geweier het om hulle te laat onderkry terwyl hulle opruim, herstel en herbou.

Mans en vroue van alle rasse, klasse, gelowe en ouderdomme het ingespring en gehelp. Ryk én arm. Taxi-eienaars, buurtwaglede, werkloses, sakeleiers, huisvroue. Almal het spontaan saamgestaan en help rommel optel, vloere was en kos uitdeel.

In Vosloorus in Gauteng het die organisasie Wheels of Change se mense, elk in ’n rolstoel, moeisaam glas bymekaar gehark by ’n winkelsentrum, en gehelp om rommel op te tel.

Die kollektiewe boodskap was oral duidelik: Ons sal ook hiérdeur kom, want ons het al erger oorleef.

Emelda Masango (25), ’n ontvangsdame in Soweto, wou iets doen om Soweto ná die plundering skoon te maak, maar sy het nooit kon dink haar Facebook-groep, RebuildSA Volunteers, sou binne vyf dae meer as 53 000 vrywilligers van regoor die land lok nie. Boonop wou mense oral help waar daar skade was, en met alles – van kos tot konstruksiewerk, mediese voorrade en babadoeke. Dit het weereens bevestig wat ons geskiedenis ook uitwys: Aan ubuntu het Suid-Afrikaners nog nooit ’n tekort gehad nie. En aan veerkragtigheid ook nie.

LEES OOK: ‘Ek droom altyd ek loop weer’

Ongelukkig bestaan daar geen kortpaaie na veerkragtigheid nie. Jy staan ook nie een oggend op en is eensklaps veerkragtig vir die res van jou lewe nie. Dis ’n proses. Dis iets wat geslyp en versterk word deur elke nuwe krisis in jou lewe.

Gelukkig leer jy dan telkens iets meer van jouself en van die lewe, en in krisistye soos hierdie ook van jou gemeenskap en jou land.

Praktiese veerkragtigheid

  • Krisistye berei jou voor vir die volgende stukkie grondpad. Met elke daaropvolgende krisis word dit dan makliker om regop te kom en weer te probeer.
  • Of jou probleme finansieel van aard is, of iets met jou gesinslewe te doen het, of jou gesondheid, huwelik of loopbaan, hier is ’n klompie praktiese wenke om jou meer veerkragtig te maak.
  • Begrawe jou trots. Soms bring die lewe iets oor ons pad waarvoor ons hulp nodig het. Sal jy eerder krepeer as om hulp vra? Werk aktief daaraan om te leer wanneer om jou trots in jou sak te steek en raad of hulp te vra. Moenie dat trots die molshopies op jou pad in berge verander nie.
  • Wees realisties, aanvaar die moeilikheid en soek oplossings. Probleme verdwyn nie omdat jy dit ignoreer nie; dikwels vererger dit eerder. Onopgeloste probleme tap jou energie, dit verhoog jou stresvlakke en verdeel jou fokus. Hoe gouer jy jou situasie aanvaar en aan oplossings begin werk, hoe gouer kan jy aanbeweeg.
  • Kalmeer, en doen iets daaraan . Ja, ’n mens wil in krisistye huil en skree – en jy mag dit doen. Maar jy kan nie nét dit doen nie, want dit gaan niks aan jou dilemma verander nie.
  • Verandering en genesing kan eers begin as jý begin.
  • Moenie selfsugtig wees nie. Veerkragtige mense is nie self­gesentreerd nie; hulle sien ook die nood om hulle raak en help waar hulle kan. Gaan kyk gerus hoe het diegene wat met die onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng self groot skade gely het ander mense gehelp, getroos, kos met hulle gedeel, mensekettings gevorm en saam aan die werk gespring.

Verdere eienskappe van veerkragtige mense

  • Hulle beskik oor selfvertroue en ’n gesonde selfwaarde. Hulle is daarvan oortuig dat hulle die vaardighede het om ’n krisis te bowe te kom. Hulle wag nie op ander se goedkeuring of aanmoediging om iets te doen nie.
  • Veerkragtige mense heg groot waarde aan bepaalde persoonlike waardes, hulle is meestal gelowig, en hulle het ’n positiewer uitkyk op die lewe as baie ander.
  • Hulle vra nie hoekom nie, maar hoe. Ons almal ken daardie mens wat altyd vra: “Hoekom ek?” Maar dis die mense wat vra “hoe?” wat dinge laat gebeur.
  • Veerkragtige mense weet die lewe skuld hulle niks en dat môre nie gewaarborg is nie. Hulle leef bewustelik en met groot dankbaarheid.
  • Hulle aanvaar dat verandering, hoe pynlik ook al, deel van hierdie lewe en meestal onvermydelik is.
  • Veerkragtige mense is bereid om hul perspektief aan te pas, hul trots te sluk en vooropgestelde idees en voor­oordele te laat vaar as ’n krisis hulle tref. As jy dit in die praktyk wil sien, gaan kyk gerus weer na al daardie inspirerende video’s. Hulp het dikwels uit onverwagte oorde gekom, oor grense heen, en is met ’n breë glimlag en oop arms aanvaar.

LEES OOK: ‘Dit voel asof ek my een been en my een arm verloor het,’ sê Covid-weduwee oor haar ‘Oukie’

Veerkragtigheid, met ander woorde …

  • Veerkragtigheid is nie dieselfde as deursettingsvermoë nie. Laasgenoemde beteken om aan te hou, om te volhard. Veerkragtigheid is om die skerwe van jou lewe bymekaar te vee en op te tel, om die bloed en die grond van jou af te was, om op te staan en … om aan te hou om aan te hou.
  • Die Engels vir veerkragtigheid (“resilience”) is afgelei van die Latynse woorde resile (die neiging van ’n voorwerp om terug te keer na sy oorspronklike vorm nadat dit gebuig is) en resilere, wat beteken om terug te bons. Die HAT omskryf veerkragtigheid as die wilskrag of vermoë om te herstel.
  • Sielkundiges definieer veerkragtigheid as aanpasbaarheid by ’n situasie ten spyte van swaarkry, trauma, tragedie, bedreigings of stres. Veerkragtige mense herstel vinniger ná trauma en kan gouer weer optimaal funksioneer te midde van die probleme wat hulle ervaar.
  • Veerkragtigheid bevat ook ’n element van persoonlike groei, van nuut dink. En om dinge op ander maniere te probeer doen as dit die eerste keer nie gewerk het nie.

*Floreer deur Ilse Salzwedel (Lux Verbi, 2021) is ’n praktiese gids wat jou leer hoe om moeilike tye te oorleef en meer veerkragtig te wees. Dit bevat kennersraad en inspirerende ware verhale en kan hier bestel word.

Ilse is ook beskikbaar om met groepe landwyd oor hierdie onderwerp te gesels. Sy kan gekontak word by [email protected] of via www.veerkragtigheid.co.za.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img