DEUR HALRIKA BREYTENBACH

My voete stap onwillekeurig na dieselfde plek op ons stoepie. Dis my gunsteling gedeelte van ons agterplaas. As ek hier staan en myself mooi posisioneer, sien ek in die verte ‘n stukkie van die bergpieke uitsteek wat die buitewyk van ons voorstad aankondig. Daar waar ‘n paar beeste wei en die groen gras geil staan na die onlangse Kaapse reën. Daar waar platteland en stad reikhalsend ontmoet tussen die teerpad en die oop vlaktes wat na asem snak.

My oë gly oor die lyne van die bietjie berg wat sigbaar is. En ek verlustig my aan die wattewolke wat sagkens speel in die helderblou lug. Daar waar land en lug mekaar ontmoet. Op die horison.Landskap

Die horison, een van my gunsteling landskap-prentjies, is beslis op die lysie van dinge wat ek geweldig mis tydens hierdie grendeltyd. As kind van die Klein Karoo, smag hierdie stadsjaap op ‘n gereelde basis na oop vlaktes, die reuk van Kambro-bossies en die groot blou skaduwees van die Swartberge.

Ons kan elkeen ‘n lang lysie saamstel van “dinge wat ek tydens grendeltyd mis”, dié dinge waarna jy met verwagting uitsien om weer te doen, die mense wat jy graag wil sien en die plekke waarheen jy graag wil gaan.

Vir ‘n oomblik gaan my gedagtes terug na die wêreld soos ons dit geken het vier weke gelede. Die gejaagde een waarin jy vinnig kruideniersware gaan koop nadat jy vir Sussie by die ballet afgelaai het en in ‘n rekordtyd moet terugvlieg in die spitsverkeer om haar betyds weer op te laai.

Die gejaagde een waarin jy ‘n reeds gaar hoender en mikrogolfoondgroente koop vir aandete, want daar is nie tyd vir kosmaak nie. Die gejaagde een waarin jy vir manlief sê julle kan bietjie later verder oor sy werkskrisis gesels, want jy moet nou net eers gou vir kermende Boetie gaan bad – en dan as later wel aanbreek, val jy en manlief stokflou op die bed neer met vyf onafgehandelde gesprekke.

Die een waarin jy soggens verslaap as jy eintlik vroeër wou opstaan vir stiltetyd – die alleentydjie tussen jou en Abba Vader, daar waar jy jou vrede en krag kry voor die gejaagdheid van die dag.

Hierdie dagstukkie is deel van ‘n reeks. Ander dagstukkies:

Die skottelgoedwasser en dankbaarheid

Stories, prinsesse en dankbaarheid

Juwele, ‘n nuwe normaal én dankbaarheid

Terwyl ek staan en die stukkie berg indrink op ons stoep, begin my gedagtes skryf aan ‘n lysie van “dinge wat ek tydens grendeltyd leer”. Ek dink aan ons dankbaarheidsfles waarin ons gesin elke aand ‘n briefie ingooi met sy of haar dankies vir die dag. Hoe dit my gedagtes elke dag rig om te soek vir dinge waarvoor ek vanaand vir God ‘n dankie-briefie kan skryf.

Ek dink aan ons gebede elke aand om die tafel – vir ons land en die wêreld, almal wat siek is en almal wat essensiële dienste verrig gedurende die inperking. Ek dink aan al die speletjies wat ons saam as gesin geniet en al die gesamentlike bak en brou. Die uitdraf van ‘n voetpad in ons tuin en die tent waarin ons kamp in die agterplaas.

Sonder uitdagings sal die tyd wat voorlê nie wees nie. Dit besef ek. Maar ek sal die lysie van “dinge wat ek tydens grendeltyd geleer het” vasmaak in my hart. En my oë, my oë sal die horison meer gereeld soek.

Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen. En God se vrede, wat meer is as wat ’n mens dink, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou omdat julle aan Christus Jesus verbonde is. (Filippense 4: 6-7, NLV)

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail