Sunday, July 25, 2021

‘Jongmense wat ernstig siek word van Delta-variant en mense wat entstof weier ’n bekommernis,’ vertel dokter van Mosselbaai

Dr Simone Gauche, ’n gereelde rubriekskrywer vir LiG, is ’n dokter by die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal. In hulle stryd teen Covid-19 bring twee dinge geweldige bekommernis: mense wat inenting teen Covid-19 weier en jongmense wat ernstig siek word van die Delta-variant. Maar bande wat op snaakse maniere gesmee word, bring tog ’n tikkie hoop, vertel sy.

DEUR CONETTE LE ROUX

“Dit was vir ons baie goeie nuus om te verneem dat niemand wat in ons verwysingshospitaal (George Provinsiale Hospitaal) se intensiewe sorgeenheid lê ingeënt is nie. Dit is ’n aanduiding dat die inenting werk.

“Maar dit is ook hartseer nuus dat die oorgrote meerderheid pasiënte mense is wat die entstof om een of ander rede geweier het,” vertel Simone tussendeur haar besige dagtaak by die Mosselbaai Provinsiale Hospitaal.

Volgens Simone ontstel dit haar en haar kollegas landwyd dat soveel mense besluit om hulleself nie te laat inent nie. “Inligting is vryelik beskikbaar, maar mense kies om onakkurate bronne te glo, dit wat hulle op sosiale media lees, ’n storie wat op hoorsê deur die buurvrou oorvertel is of om samesweringsteorieë te glo. Dit blyk duidelik hoe belangrik dit is om jou in te ent as ons kyk na wat in ontwikkelde lande aan die gebeur is,” sê Simone.

Simone (links) en haar kollegas dr Phindi Nzima en dr Jojo Wang moedig Suid-Afrikaners aan om vir die inenting te gaan.

Met die koms van die Delta-variant het nog ’n bekommernis kop uitgesteek.

LEES OOK: #covidkinders vertel húl stories (Deel 1)

“Met die Delta-variant sien ons al hoe meer jongmense wat ernstig siek word. Jongmense wat nie oorgewig is of ander onderliggende siektes het nie. Die teenpool hiervan is dat ons baie opgewonde is dat mense ouer as 35 vanaf 15 Julie kan registreer vir hul inentings en ons hoop is dat die inentingsprogram vinnig spoed sal optel,” vertel Simone.

LiG het verdere vrae aan Simone gevra.

LiG: Hoe lyk die situasie met Covid-19 tans in julle hospitaal?

Simone: Ons hospitaal is ’n vlak 1-staatshospitaal en lewer dienste aan ’n beraamde 100 000 mense. Dit sluit omliggende gebiede soos Herbertsdale, Ruiterbos, Vleesbaai, Gouritsmond en Glentana in. Ons beskik oor 90 beddens. Dit sluit in ’n vrouesaal (28 beddens), mansaal (30 beddens), kindersaal (12 beddens) en kraamsaal (14 volwassenes en 6 babas). Wat voorheen ons mansaal was, is nou ons Covid-saal en ons vrouesaal is onderverdeel in ’n mans- en vroue-afdeling. Ons beskik nie oor ventilators of hoëvloei-suurstof nie. So, ons verwys daardie soort gevalle na George Provinsiale Hospitaal.

Tans is baie van die pasiënte wat in die noodeenheid gesien word, pasiënte met Covid-19 of wat ondersoek word vir Covid-19. Die verbod op alkohol het ’n skerp afname in traumaverwante gevalle tot gevolg gehad. Ons het ongeveer 19 opnames wat met Covid-19 gediagnoseer is. Nie al hierdie pasiënte is egter op suurstof nie, aangesien sommige van hulle net toevallig positief getoets het. Dink byvoorbeeld aan swanger mammas of ander pasiënte wat getoets word omdat hulle teater toe moet gaan. Omdat beddens so ’n groot probleem is op hierdie stadium, beperk ons opnames tot mense wat suurstof benodig of ander komplikasies het. Daar sterf tussen een en drie mense daagliks in ons hospitaal van Covid-19 of Covid-19-verwante komplikasies. Dit klink nie na baie nie, maar vir ’n klein hospitaal is dit noemenswaardig. Ons hospitaal is nie vol nie, maar ons verwag eers die piek, na beraming, oor twee tot drie weke.

LEES OOK: #covidkinders vertel húl stories (Deel 2)

Op 8 Julie was daar 1 250 aktiewe gevalle in Mosselbaai. Ons het tans net kapasiteit om nood- en semi-noodprosedures uit te voer as gevolg van die geweldige druk op beddens en omdat ons nie wil hê mense moet onnodig hospitaal toe kom en dalk blootgestel word aan Covid-19 nie. Die meeste prosedures wat as nie-lewensreddend gesien word, word uitgestel. Hierdie werk verdwyn egter nie en maak dat ons teaterlyste snel groei. Waglyste by ons verwysingshospitaal is lank en raak by die dag langer. Daar is mense wat reeds meer as ’n jaar wag om byvoorbeeld ’n loslating te kry vir ’n senuwee in die hand wat knyp of om hul galblaas uit te haal omdat hulle galstene het. Van hierdie pasiënte het baie pyn en hul lewensgehalte is ’n groot probleem. Die meeste pasiënte is egter baie geduldig en tegemoetkomend as ons die situasie verduidelik. Ek moet daagliks om verskoning vra omdat ek nie kan help met iets wat ons onder normale omstandighede maklik sou kon doen nie.

LiG: Het die manier van hoe julle praktiseer sedert Covid-19 verander?

Simone: Daar is ’n glasversperring tussen my en my pasiënte. As ’n kind in my spreekkamer inkom, sien hulle ’n masker en nie ’n glimlag nie. Kinders is só afhanklik van ons gesigsuitdrukking om gemaklik te voel. Ek wil my hand kan neerlê op iemand wat met kanker gediagnoseer is. In baie opsigte is Mosselbaai nog ’n plattelandse dorp. Die tannies en ooms wil vir jou ’n drukkie gee en jou hand skud. Dit is mense met wie jy oor jare al ’n pad stap en dis moeilik om te sê, nee jammer, ons mag dit nie doen nie.

Pasiënte mag ook nie familielede saambring hospitaal toe nie. Siekte is in baie opsigte ’n familiesaak en dit is baie moeilik om pasiënte te isoleer van hul familie. ’n Gesin verwag ’n baba, dis nie net ’n vrou wat swanger is nie. Ek wil hê almal moet kan nader staan vir die sonarfoto’s, en sien hoe skop sussie of boetie of hoe suig baba sy/haar duim.

LEES OOK: Luister: Covid-19-verliese inspireer Ruan Josh tot roerende lied

Suikersiekte beïnvloed gesinne. Die bejaarde oom wat ’n beroerte gehad het en sukkel om te praat, het ’n familielid nodig om insette te lewer en te verduidelik hoe dit gaan. Dan het ons nog nie eens gepraat oor hoe psigiatriese probleme families beïnvloed nie. In baie opsigte het die manier van hoe ons praktiseer baie verander.

LiG: Wat gee jou die moed om elke dag voort te gaan ten spyte van die moeilike omstandighede?

Simone: Hoewel daar baie mense is wat nie vir die inenting gegaan het nie, is daar talle mense wat dit wel doen. Op 8 Julie is 450 000 inentings reeds in die Wes-Kaap toegedien. In Mosselbaai het meer as 67% van mense ouer as 60 jaar geregistreer vir hul inentings en as ’n mens die omliggende areas buite berekening hou het meer as 77% van mense geregistreer. Ons beskik oor vyf inentingsentrums, waarvan die een ’n mobiele eenheid is wat verafgeleë gebiede bedien om dit vir mense so toeganklik moontlik te maak met die hoeveelheid personeel wat ons beskikbaar het. Ons ontvang egter net ’n beperkte hoeveelheid entstowwe en in hierdie stadium is dit die grootste beperking op die hoeveelheid mense wat ons inent.

LEES OOK: As ’n angsaanval jou lamlê

Die Koronavirus is onvoorspelbaar, wreed en aanhoudend. Gesondheidswerkers ervaar gemengde gevoelens op enige gegewe dag. Maar ek moet regtig dankie sê dat ons pasiënte ons gereeld bedank en die situasie verstaan. Van ons dokters het gratis koffie ontvang by koffiewinkels en mense is baie simpatiek gegewe die situasie. Die virus het ’n manier om bande te smee en te versterk op vreemde maniere. Ek voel gereeld soos Jakob: “Waarlik, die Here is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie” (Gen 28:16).

LiG: Wat is jou raad aan mense wat twyfel oor die inenting?

Simone: Ek wil mense aanmoedig om, as hulle vrae het oor die entstof of onseker is, met ’n gesondheidswerker te praat en hulle nie na onakkurate bronne te wend nie. Ons beskik oor die kennis en navorsing om jou te help om ’n ingeligte besluit te neem. Ons word oorval met e-posse en nuwe protokol soos die navorsing verander.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img