DEUR HALRIKA BREYTENBACH

Die dag het aangebreek.  Suid-Afrika is aan die einde van algehele grendeltyd, ‘n streng maatreël wat ingestel is deur die regering om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Vir vyf weke lank is gesinne genoodsaak om saam in hul huise te verkeer, besighede is gesluit met slegs essensiële produkte soos kos en medisyne wat te koop is. En daarvoor besoek jy die winkel natuurlik gerat met ‘n masker en ontsmettingsmiddel.

Soos my kop lysies maak van dinge waarvoor ek dankbaar is tydens hierdie tyd, maar ook met die teenpool van dinge wat ek gemis het, kan ek sekerlik ook ‘n lysie maak van dinge wat ek as uitdagings ervaar het. Daarom het ek doelbewus probeer om my fokus elke dag op dankbaarheid te rig, eerder as om te broei oor watter probleme ons in die gesig staar.

En tog, kan mens nie die groeiende syfers van mense wat met die virus besmet is miskyk nie. Die feit dat mense geliefdes moes afstaan as gevolg van hierdie pandemie, is ‘n koue realiteit. Onsekerhede oor salarisse wat betaal of ontvang gaan word tydens die stol van ‘n maand se besigheid, is ‘n verterende werklikheid.

Wat op ons wag na hierdie grendeltyd, weet niemand nie. In die volgende fase gaan ons kinders dalk nog vir ‘n hele tydperk skool op ‘n alternatiewe manier beleef. Groot kerkbyeenkomste sal nog ‘n rukkie moet voortgaan op digitale maniere en sosiale netwerke. Troues en verjaarsdagpartytjies sal dieselfde pad moet stap.

Maar wat ek wel weet, is dat ek ‘n hele skatkis vol herinneringe bymekaar gemaak het in April 2020. Skitterblink juwele. Ons gesinnetjie wat in die oggend in pajamas saam ontbyt eet, kondensmelk-koffie drink en Rummikub speel. Ons tuisgemaakte befaamde ronde broodjies van oumagrootjie se resep. En dan die smul daaraan met kaas en konfyt terwyl ons na haar verlang.Vuur

Ons slaan die tent en kampstoele in die agterplaas op en maak vuur vir ‘n worsie en malvalekkers. Ons draf ‘n voetpad uit in ons tuintjie terwyl die res van die gras soos ‘n oerwoud lyk. (Ons maak gebruik van tuindienste en besit dus geen grassnyer nie!)

Ons lag saam vir al die grappies wat die rondte doen dat ons uit grendeltyd gaan rol! Maar ons eet tog nog ‘n stukkie vlakoek. Saans skryf ons dankie-briefies vir Jesus en gooi dit in ons grendeltyd-dankbaarheidsfles. Dan bid ons. Vir almal wat ons ken en nie ken nie.

Ek glo hierdie is ‘n tyd om nader aan God se hart leef. Ek glo nuwe drome is gebore en diep fonteine van kreatiwiteit is ontgin. Ek glo verhoudinge in gesinne is verstewig en dat ons geleer het om mekaar meer te waardeer.

Hierdie dagstukkie is deel van ‘n reeks. Ander dagstukkies:

Horisonne en dankbaarheid

Die skottelgoedwasser en dankbaarheid

Stories, prinsesse en dankbaarheid

Hoe keer ons terug na normaal? Dit gaan afhang wat ons as normaal sien. Dalk is dit tyd vir ‘n nuwe normaal. Wanneer ons weer terugkom in die rat van rondjaag en roetine, mag ons die dinge onthou wat ons waarlik ryk maak. Mag dit vir ons ‘n nuwe begin wees. Een sonder vrees, een waarin ons niks kortkom nie en een waarin ons altyd onthou om dankie te sê.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. – Psalm 23: 1-3

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring. – Jesaja 43:19

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail