‘Jy kan nie God se geduldige restourasiewerk met die blote oog sien nie,’ vertel berader ná haar eie winterseisoen

DEUR CONETTE LE ROUX

Verbeel jou die ses kilometer wat jy elke oggend op Gordonsbaai se strand kon draf, moet nou verruil word vir ’n kort skuifelstappie wat jy met behulp van ’n stapstok aanpak.

Verbeel jou die talle vroue wêreldwyd aan wie jy weekliks aanlyn berading vir post-Covid-19-depressie gee, moet nou eers wag.

Ontmoet Elzabé Meyer, berader. “Ek was gesond en het daagliks my seëninge getel. Toe tref Covid-19 my,” vertel dié aantreklike donkerkop.

Die invloed van dié koronavirus het haar lewe, soos vele ander s’n, skielik in ’n winterseisoen gedompel. Sy het nie, soos die meeste ander mense, goed van Covid-19 herstel nie. Omdat sy ’n paar jaar gelede ’n ligte beroerte gehad het, het die virus haar neurologies aangetas. Eensklaps was daar mikrogrootte klontjies in haar bloed wat haar moeg, verward en van balans gelaat het.

“Ek het eers later besef die aanhoudende gesing in my ore is ook deel van die nagevolge. Ek het gewonder of God my nie dalk van die pad af getrek het vir ’n spoedkaartjie nie. Of Hy my nie doelbewus stadiger en selfs stil kom maak het nie.”

LEES OOK: ‘Ná 16 jaar gee God my lewe vir my terug’

Sy onthou: “Psalm 23 het skielik vir my nuwe betekenis gekry. Ek het besef as die ‘staf’ – oftewel, stapstok – aan my linkerkant is, is God aan my regterkant.”

Kaap toe …

Elzabé se man het ’n werk in die Kaap gekry en sy moes net voor die Covid-19-golf Suid-Afrika getref het, die bekende in Pretoria agterlaat en by hom kom aansluit.

“Ek het gewonder wie is ek nou, noudat my rol skielik verander het. Ek worstel met donker gedagtes en kan nie meer ’n verskil maak soos voorheen nie. Ek is ’n inkommer in die Wes-Kaap …

“Dit het gevoel asof die berge my aangluur. My stiltetyd het net ’n sagte uitroep na God geword dat Hy my tog nie moet vergeet nie.

Elzabé saam met haar geliefde gesin en eerste kleinkind. Voor links is Alexander Melck; Aiden Melck Misha Melck. Agter Elzabé is haar man Ernst Meyer; Gaby Meyer; Annalie Meyer en Ruan Meyer. Foto verskaf

“Ek het in die oggendure wakker gelê en gewonder of ek ’n goeie ma vir my drie kinders was. Ek het na my ma verlang – wat reeds oorlede is. Ek het gewonder of my man altyd lief vir my gaan wees.

“Die wind in Gordonsbaai was soos ’n weeklag, en my gedagtes soos flentertjies papier wat weggewaai het. Dit was vir my ontstellend om te dink hoe duisende mense, aan ventilators gekoppel, lê en swaarkry.”

Eers later, vertel Elzabé, het sy besef sy was in die knelgreep van depressie vasgevang.

“Ek moes eers weer besef dat hoop nie ’n gevoel is nie, maar ’n Persoon. En stadig maar seker het ek weer die lig begin sien.”

Steeds winter

Maar Elzabé se winterseisoen was nog lank nie verby nie. Twee mense baie na aan haar het kort na mekaar gesterf.

“My jongste broer het drie dae ná sy 53ste verjaardag sy kort stryd teen Covid-19 verloor, alleen daar in die Ngwelezana-hospitaal in Zoeloeland. Presies agt weke later is my geliefde peetma ook dood.

“Weereens het winter homself aangekondig. Ek het soos ’n stuk dryfhout gevoel.”

Elzabé vertel sy het in dié donker tyd wel baie geleer. “Jy kan eenvoudig nie jou pyn uitstel nie. Jy moet daar deur. Vóél jou pyn. Huil saggies voor jou man en jou vriendinne. Ek het beleef hoe my gesin ’n vestingmuur om my geword het. Ek het geleer ek moet opstaan selfs wanneer ek stukkend is, ek moet uitreik na ander selfs as ek wil isoleer.

“Ek het geleer om dapper te wees en hulp te vra.”

‘Wat my definieer’

Haar stem straal nou ’n rustigheid uit as sy sê: “Die lewe is vol moeilike afdraaipaadjies. Ons leef in seisoene. As die winde begin waai, word jy gestroop en verloor jy iets van jouself. Ons is dan net bewus van die verlies of die verwerping, die siektes of diagnoses. Ons kan nie met die blote oog God se geduldige restourasiewerk raaksien nie.”

Sy vertel hoe sy nou, wanneer sy snags wakker skrik, probeer om die angsgedagtes te ignoreer en God se stem te hoor.

“Die klontjies in my bloed definieer my nie. Die post-Covid-19-sindroom wat my soms wil pootjie, definieer my nie.

“God se Woord definieer my.”

Elzabé vertel hoe mense wêreldwyd ’n soort winterseisoen ná die Covid-19-pandemie beleef. Behalwe vir die sterftes en die liggaamlike lyding sukkel baie mense ook om by hul nuwe omstandighede aan te pas.

“As ’n aanlyn terapeut het ek weekliks met vroue reg oor die wêreld te doen wat die tema van verlies, depressie en isolasie uiters moeilik vind om te hanteer. Ek besef dat Covid-19 die gemene deler geword het wat ons almal toestemming gee om oor ons geestesgesondheid te mag praat.”

En dít is Elzabé se vaste oortuiging: “Wat ook al jou omstandighede, daar ís hoop. Omdat God jou skild van beskerming is, en omdat Hy altyd weer jou kop kom oplig.”

Sy vertel hoe sy in haar lewe geleer het dat God se Woord bo alles staan, en daaraan hou sy onverbiddelik vas. “Ek is nie meer bang nie. Die Here loop saam ons deur elke donker vallei van die lewe.”

  • Elzabé Meyer het onlangs haar getuienis by die Crowned with Confidence-winterwerksessie buite Stellenbosch met die kursusgangers gedeel.
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img