Sunday, July 25, 2021

Jy mág soms die roetine breek

26 Mei 2021

DEUR SIMONE GAUCHE 

Ek onthou goed hoe ’n goeie vriendin my op ’n dag gevra het of ons saans met ons klein kindertjies uitgaan. En hoe ons dit benader.

“Wat van jou kinders se roetine?” het sy bekommerd gevra.

Sy het toe so pas haar eersteling in die wêreld gebring en het haar op daardie vreemde plek bevind waar moeder en gesin probeer om ’n nuwe ritme te vind.

Sy is een van daardie mense wat altyd alles onder beheer het. Sy het ál die belangrike boeke gelees – nadat sy noukeurig navorsing gedoen het watter boeke sy moes lees. Sy het haar slaap-skedule opgestel gehad. Sy het ’n plan vir alles gehad. Gereed. Paraat.

Soos ons almal egter weet, kan geen boek jou voorberei op presies hóé jou lewe gaan verander die dag wat jy kinders het nie.

LEES OOK: Al sou die virus ons nooit verlaat nie

My antwoord aan haar? Ja, ons gaan steeds saans uit. Ons woon steeds elke week ons selgroepbyeenkoms by. Ons gaan eet by vriende. Ons gaan braai. Ons maak doelbewus seker dat daar steeds ’n netwerk vriende is om ons toe te vou. Hulle is ons veiligheidsnet, hulle help ons om ’n gesonde balans te handhaaf.

Hoe doen ons dit? Ons neem ons kampbedjie oral saam met ons, en ons babas kan slaap waar ons ons ook al bevind. Om hulle aan die slaap te maak, is gewoonlik nie ’n probleem nie. Die oorskuif van ’n baba van die kampbedjie na die karstoeltjie is wel …

As jy ’n ouer is, weet jy waarskynlik waarvan ek nou praat. Hoe jy probeer om jou baba so stil en so saggies moontlik uit die bedjie te lig – en hoe jy dan per ongelukkig die boudsalf laat val. ’n Behoorlike ontploffing.

Jy oorleef dit net-net, maar wanneer jy met die een hand na die doekesak gryp terwyl die karstoeltjie in die ander hand is, val jou selfoon iewers uit. In jou kop klink dit soos ’n Griekse partytjie waar die borde gebreek word. Jou man kom later kyk waarom jy so talm. Per ongeluk skop hy die kampbedjie raak.

Eensklaps is jou pragtige, slapende baba wakker, en hy staar nou na jou met die groot oë van ’n bok wat in ’n geweerloop vaskyk. Hierdie baba sal dan al die pad huis toe in die kar sit en gesels, en selfs by die huis geen teken toon dat hy ooit vaak was nie.

Soms is dié uitganery dus wel ’n bietjie soos ’n lotery: Jy weet nooit wat wag nie. Soms verloop alles baie goed; ander aande is dit ’n doodgewone ramp. Boonop wag môre, en jy het géén idee hoe die nuwe dag gaan verloop nie. Daardie moeë lyfie …

Hoekom vertel ek hierdie storie?

Omdat ek, as ek die keuse het, keer op keer die gemeenskap met vriende sal verkies. Ja, jou kinders floreer as daar roetine is, maar hulle het dit ook nodig om te sien hoe en wat gesonde verhoudings is.

Ek sê dit weer: Dis inderdaad so dat navorsing daarop dui dat kinders veiliger voel as daar ’n voorspelbare roetine is. Hulle weet dan wat om te verwag, en hul gedrag wys dit. Hulle leer selfbeheersing aan, en verantwoordelikheid. Dit verlig spanning, en dissipline is gewoonlik nie ’n probleem nie.

Maar elke af en toe mag die roetine verander. Dit leer jou kinders aanpasbaarheid, veerkragtigheid en verdraagsaamheid. Hulle moet ook by jou leer wat prioriteite is. En een van daardie prioriteite is dié een: Roetine is belangrik, maar mense is belangriker.

LEES OOK: Jaap Durand: Ryke herinnering leef in skrywer wat bly soek

Buitendien het volwassenes, ook mammas en pappas, dit nodig om soms in volwasse geselskap te wees. Dis daar waar ons by ander mense oor ouerskap kan leer, en oor die lewe. Dis by sulke mense waar stories gedeel word, en dis daardie mense wat saam met ons die pad stap. Dit doen ons kinders goed om te sien dat verhoudings vir ons belangrik is.

Liewe Mamma, gee een of twee keer per week tog maar die kosbare roetine prys. Só sien jou kinders dat jy deel van ’n gesonde Christelike gemeenskap is.

HOOR WAT SÊ DIE BYBEL SE PREDIKER:

“Twee vaar beter as een. Saam bereik hulle meer in hulle werk. As een mens val, kan sy vriend hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm. Maar hoe kan een wat alleen is, warm word? Iemand kan die een aanval, maar die twee kan weerstand bied. ’n Driedubbele tou breek nie maklik nie” (Pred 4:9-12).

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die hoeksteen vorm vir ’n gesonde, gelukkige gesin met gesonde, gelukkige kinders.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img