‘Kinders moet meer as die jongste oor TikTok weet,’ sê skrywer

26 Februarie 2021


As jy soos die skrywer van Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika wil hê jou kinders moet méér weet as bloot die jongste oor TikTok, het jy die regte boek beet. In hierdie boek met die interessante titel kan jou kind meer leer oor ons land se eie olifanttandarts en erdwurmnavorser. En uitvind dat daar ’n pap-OTM in Potchefstroom is wat kos aan armes verskaf. Maar dis slegs enkele voorbeelde.

Die skrywer Engela Duvenage beantwoord vyf vrae oor haar merkwaardige boek:

Daar is min mense wat soveel moeite sou doen met ’n niefiksieboek vir kinders. Dis so omvattend! In 375 bladsye vertel jy oor meer as 100 mense in die een of ander studieveld wat iets uitgevind, ontdek of georganiseer het. Waarom het jy dit aangepak?

Daar is ’n paar redes. Dis ’n uitvloeisel van my werk as wetenskapjoernalis en die voorreg wat ek het om byna daagliks met passievolle, slim navorsers en medici en ander wetenskaplikes te mag gesels. Hulle is helde wat met hul breinkrag die lewe vir ons beter en interessanter maak.

LEES OOK: VIDEO: Vermoorde Charl Munnik se suster gesels oor sy nalatenskap

Dan is ek ook ’n ma wat wil hê my kinders moet belangstel in wat in die wêreld aangaan, en oor meer as slegs die jongste TikTok-neiging iets weet. Ek wil ook hê hulle moet weet dat daar in hul eie land mense was en steeds is wat wêreldleiers op hul onderskeie gebiede is. Dit is mense wat ontdekkings maak en deurbrake bewerkstellig, wat deur hul planne ’n groot impak maak, of wat die een of ander “eerste” behaal het.

Die skrywer Engela Duvenage (middel) saam met twee van die mense wie se stories in die boek verskyn. Hulle is die ingenieur prof Thinus Booysen van die Universiteit Stellenbosch wat ’n water- en elektrisiteitmonitor genaamd Geasy ontwerp het, en Rose Kransdorff van die voedsame e’Pap-program. Foto verskaf

 

Hoe lank het dit geduur om die boek te skryf?

Ek het sommige van die storie-idees seker vyf jaar lank in my agterkop gebêre voordat LAPA Uitgewers tot die idee vir so ’n boek ingestem het. Daarna het ek so twee-en-’n-half jaar lank aan die teks (en die verskillende weergawes daarvan) gewerk voordat dit in Oktober 2020 op die rakke verskyn het.

Daar het boonop ’n komplikasie opgeduik: Die teks was ongeveer voltooi toe Covid-19 uitbreek, en toe moes ek noodgedwonge bestaande stories aanpas. Byvoorbeeld oor mense soos die MIV/vigs-navorser prof Salim Abdool Karim, wat Suid-Afrika se wetenskappoging teen die koronaviruspandemie lei. Ek het ook ’n nuwe storie bygevoeg, dié oor proff  LJ Grobler en Danie Vorster van Potchefstroom se pap-OTM waarmee kos aan armes verskaf word.

En ek is tans besig met die Engelse vertaling, wat iewers vanjaar by die uitgewer Penguin Random House sal verskyn.

BESTEL UITVINDERS, PLANMAKERS EN ANDER SLIMKOPPE VAN SUID-AFRIKA HIER.

 Noem twee van jou gunstelingstories in dié boek.

Dis ’n onregverdige vraag; dis so goed soos om tussen jou kinders te moet kies! Kom ek antwoord effens breër: Ek hou veral van die afdelings waarin daar van mediese deurbrake vertel word, soos prof Chris Barnard se hartoorplanting en prof Mashudu Tshifularo se 3D-binneoor-oorplanting. Asook die vertellings oor ander uitvindings, soos die Kreepy Krauly, Pratley Putty, lasertegnologie, sementdolosse en kubersekerheidsprogramme.

Dit was vir my wonderlik om in die navorsing- en skryfproses die een ná die ander vindingryke mens se storie te ontdek. Daar is byvoorbeeld die 75-jarige Dirkie Jerling van Hennenman in die Vrystaat wat ’n toestel ontwerp het om windpompe mee te laat sak. Daar was Murendeni Mafumo en sy waterfilters, en Greg Galloway en sy babamonitors.

En wat weet ons van prof Daya Reddy van die Universiteit van Kaapstad, president van die wêreld se oorkoepelende organisasie vir wetenskaplikes? Is ons bewus daarvan dat John Burland, wat in Johannesburg grootgeword het, verhoed het dat die bekende Toring van Pisa so gevaarlik grondwaarts neig? Of dat daar vyf mans is wat in Suid-Afrika skoolgegaan het wat reeds ’n Nobelprys gewen het?

Ek hoor van jonger lesers dat hulle veral van die stories in die diere-afdeling hou, byvoorbeeld dié oor prof Gerhard Steenkamp wat ’n olifanttandarts is, en die erdwurmnavorser dr Thembeka Nxela.

LEES OOK: Gee jou (gerus!) oor aan die nostalgie

Ek het doelbewus ook stories oor minder bekende dierespesies ingesluit, soos oor fluweelwurms (prof Savel Daniels se storie) en langtongvlieë (oor Eugene Marinus, na wie ’n spesie uit Nieuwoudtville vernoem is) om die jong lesers sodoende ook oor die kleiner aspekte van die natuur te leer.

Hoe dink jy kan die boek met vrug in die klaskamer gebruik word?

Ek het die allerlieflikste video’s ontvang van leerders wat mondeling doen aan die hand van stories uit die boek. Die stories is doelbewus verhalend geskryf, maar dit bevat terselfdertyd genoeg feite sodat die leerders ’n sinvolle skooltaak met die nodige datums en ander besonderhede oor ’n wetenskap-held kan maak.

Taalonderwyers sal dit goed kan gebruik as ’n voorleesboek en vir begripstoetstekste, en om hul leerders aan nuwe woorde bloot te stel. Ek verduidelik soms waar die grondslag van sommige groot woorde soos “kardioloë” (hartkenners) en “entomoloë” (insekkundiges) lê.

Uiteraard verskaf die boek waardevolle stof vir die natuurwetenskappe en tegnologie. Dit bevat lekker gevallestudies as daar byvoorbeeld oor klimaatsverandering en fossiele geleer word, en oor MIV/vigs en ander siektes. ’n Onderwyser het laat weet sy lees eers die storie voor, en dan begin hulle google oor die onderwerp en die betrokke persoon om sodoende verdere foto’s en video’s op te spoor.

Die boek bied ook ’n soort geskiedenisles oor Suid-Afrikaanse wetenskap. Daar word byvoorbeeld van die eerste hartoorplanting vertel, oor die ontstaan van SASOL en die WNNR, oor die SALT-teleskoop by Sutherland en die grootse SKA-radioteleskoopprojek.

Die voorblad is treffend, nè?

Ek stem saam, dis lieflik! Dis die soort voorblad wat mý ’n boek sal laat koop. Die illustrasies is Tumi K Steyn se werk, en die voorbladontwerp en letterwerk op die voorblad is deur Zinelda McDonald gedoen. Op die voorblad is onder meer die gesig van die hartpionier Christiaan Barnard, die dinosouruskenner prof Anusuya Chinsamy-Turan wat al heelwat boeke oor fossiele vir kinders geskryf het, Marjorie Courtenay-Latimer wat die eerste selakant ontdek het, die chemikus en wetenskapleier prof Tebello Nyokong, en dr Jotello Soga wat in die 1880’s die eerste Suid-Afrikaans gebore veearts geword het.

Die boek kos R330 en kan hier bestel word.

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img