Koesterkos vir die winter

Winterkos is koesterkos. Vul jou kombuis in dié tyd met die geure van kerrie, speserye, gebakte poeding en vla. Jy kan jou gesin na hartelus bederf met die tipiese bestanddele van hierdie seisoen.

DEUR HELEEN MEYER; FOTO’S: ADEL FERREIRA

Aromatiese winterkerrie

Resep aangepas uit The AMC Book

Hierdie matige kerrie het ’n sterk Maleise invloed. Die kombinasie van komyn, kerriepoeier, kaneel en ’n tikkie brandrissie is heerlik. Dit kan selfs met hoender gemaak word, en dan verkort dit die gaarmaaktyd na 45 minute. Die gereg kan met ’n verskeidenheid bygeregte voorgesit word, van rys tot naanbrood of roti, en ’n vars salsa. Moenie die mengsel van jogurt, komkommer en koljanderblare weglaat nie; dis só lekker!

Lewer 6 porsies

Bestanddele

  • 20 ml (4 t) olyfolie
  • 1 kg lam- of beesstowevleis, in stukke gesny
  • 2 middelslag uie, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 10 ml (2 t) elk gemaalde koljander en borrie
  • 15 ml (1 e) elk gemaalde komyn en garam masala
  • 15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer, of 5 ml (1 t) gemaalde gemmer
  • 20 ml (4 t) matige kerriepoeier
  • 1 rooi brandrissie, ontpit en gekap, of na smaak
  • 2 lourierblare en 2 klein kaneelstokkies
  • 20 ml (4 t) gedroogde gemengde kruie
  • 1 klein (ongeveer 500 g) botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 3 middelslag aartappels, in blokkies gesny
  • 30 ml (2 e) koekmeel
  • 1 x 410 g-blik gekapte tamaties. Of 4 groot, ryp tamaties, geskil en gekap
  • 180 ml sterk Rooibostee, of flou hoenderaftreksel
  • Sout en peper

Metode 

  1. Verhit die olie oor matige hitte in ’n groot kastrol. Braai die vleis in sarsies tot goudbruin. Skep dit uit en herhaal die proses met die orige vleis. Skep dit uit.
  2. Soteer die uie en knoffel in dieselfde kastrol tot sag. Voeg al die speserye en gedroogde kruie by en soteer dit 3-5 minute lank of tot aromaties.
  3. Voeg die botterskorsie en aartappels by en roer dit met die meel deur tot daar geen droë meel sigbaar is nie. Roer die tamaties en tee (of aftreksel) by. Bring dit tot kookpunt.
  4. Voeg die vleis by en verlaag die hitte. Laat prut dit liggies 1½-2 ure lank met die deksel op, of tot die vleis sag is. Geur dit na smaak, maar moenie te veel roer nie.
  5. Om voor te sit: Meng die komkommer en gekapte kruie by die jogurt.
  6. Sit die kerrie met die jogurtmengsel, roti’s en nog koljanderblare voor.

Om voor te sit

  • ¼ komkommer, in blokkies gesny
  • ’n Hand vol vars koljanderblare of Italiaanse pietersielie, gekap
  • 1 x 150 g-bakkie ongegeurde jogurt
  • 6-8 warm, klein roti’s
  • Ekstra koljanderblare

LEES OOK: Heerlike, hartlike huis-hoender!

________________________________________________________________________

Groente-hutspot

Resep uit my boek Kos is op die tafel!

Hierdie vegetariese eenpotgereg met groente, speserye, kekerertjies en klappermelk is ideaal vir ’n koue dag. Sny die groente in ewe groot stukkies sodat dit egalig gaar word. Moenie die eiervrug te klein sny nie, want dit krimp heelwat.

Lewer 6-8 porsies

Bestanddele

  • 20 ml (4 t) olyfolie
  • 2 uie, grofgekap
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 15 ml (1 e) fyngerasperde vars gemmer
  • 1-2 klein rooi brandrissies, ontpit en gekap, of na smaak
  • 3 wortels, gehalveer en in dik diagonale skywe gesny
  • 15 ml (1 e) matige kerriepoeier
  • 20 ml (4 t) gemaalde komyn
  • 300 g patats, in blokkies gesny
  • 300 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
  • 250 g sampioene, in kwarte gesny
  • 1-2 middelslag eiervrug, met die skil, in blokkies gesny
  • 500 ml (2 k) sterk Rooibostee, of flou groenteaftreksel
  • 15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
  • 1 x 400 g-blik kekerertjies of botterbone, gedreineer (sien wenke)
  • Sout en peper
  • ½ x 400 ml-blik klappermelk (sien wenke)
  • 10 ml (2 t) suurlemoensap, of na smaak
  • 60 ml (¼ k) grofgekapte koljanderblare
  • Ekstra koljanderblare vir garnering

 Metode 

  1. Verhit die olie oor matige hitte in ’n groot kastrol of ’n wye, diep pan. Soteer die uie, knoffel, gemmer, brandrissies en wortels ’n paar minute lank. Voeg die kerrie en komyn by en soteer dit tot aromaties.
  2. Roer die patats, botterskorsie, sampioene en eiervrug by en soteer dit ’n paar minute lank. Roer die tee of aftreksel en suurlemoenskil by. Sit die deksel op en verlaag die hitte.
  3. Laat prut dit 35-40 minute lank liggies, of tot die groente net sag maar nie pap is nie. Roer die orige bestanddele by en geur dit na smaak.
  4. Laat prut dit tot deurwarm en sit dit in bakkies voor saam met die ekstra koljanderblare.

Wenke

  1. Klappermelk vries uitstekend. Bêre die res op dié manier vir ’n volgende ete.
  2. Vries die kekerertjies of bone se vloeistof en gebruik dit as aftreksel in ’n sop of bredie.

LEES OOK: Groenboontjiebredie en ander winterkos

________________________________________________________________________

Karringmelkpoeding

Resep uit my boek Onthoukos

Jare gelede het ek ’n boek met die naam Onthoukos geskryf. Hiervoor het ek mense vir hul “onthou”-resepte gevra. Hierdie eenvoudige maar heerlike poeding het ek op ’n keer by Marietjie Pauw-Conradie geëet. Sy het dit by haar niggie Maria Kroes gekry, wat dit weer uit haar ma, Mariëtta Heese, se resepteboek afgeskryf het. So duur die aangee-proses steeds voort. My bydrae is die bessiesous om dit mee voor te sit. Dis lipaflek-lekker!

Lewer 4-6 porsies

 Bestanddele

  • 100 ml (100 g) botter
  • 200 ml (160 g) suiker
  • 3 ekstragroot eiers
  • 250 ml (140 g) koekmeel, gesif
  • 10 ml (2 t) bakpoeier
  • 5 ml (1 t) vanieljegeursel
  • 2 ml sout
  • 1 liter (4 k) karringmelk

Bessiesous

  • 250 g gevriesde bloubessies, ontdooi
  • 75 ml (5 e) strooisuiker
  • 5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil
  • 15-30 ml (1-2 e) suurlemoensap, of na smaak

Metode 

  1. Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n vlak, tweeliter oondvaste bak liggies met botter.
  2. Klits die botter, suiker en eiers saam tot dit lig en donsig is. Klits die res van die bestanddele by.
  3. Skep die mengsel in die gesmeerde bak en bak dit 45 minute lank of tot dit gestol het en bo-op ligbruin is. Bedek dit met foelie vir die laaste deel van die baktyd as dit bo-op te donker word.
  4. Bessiesous: Meng intussen al die bestanddele met ’n stokmenger saam tot glad. Giet dit in ’n klein kastrolletjie en bring dit net tot kookpunt terwyl dit geroer word.
  5. Sit die bessiesous warm voor, of teen kamertemperatuur, saam met die warm poeding. Of sit dit met seisoensvrugte en ’n lekseltjie loperige heuning voor. Sitrus of appelliefies sal heerlik wees.

LEES OOK: Vegetaries eet, is lékker eet!

________________________________________________________________________

Appelpoeding met ’n krummelkors

Resep uit my boek Onthoukos

In my huis staan dit nou as “grendeltyd-nagereg” bekend. Dis maklik en eenvoudig om te maak, en dit gee jou gemoed beslis ’n hupstootjie. Die speserygegeurde neutekors en sagte appels laat selfs nie-poedingeters hul bakkies aangee.

Lewer 4-6 porsies
Bestanddele

Appels

  • 45 ml (3 e) sagte bruinsuiker
  • 45 ml (3 e) botter
  • 5 ml (1 t) gemaalde gemengdespeserye of kaneel
  • 6 middelslag pienk of rooi appels, met die skil aan, in dun wiggies gesny
  • 75-100 ml gedroogde rooibosbessies (cranberries) of rosyntjies

Krummel

  • 180 ml (100 g) koekmeel
  • 100 ml (100 g) harde botter, in blokkies gesny
  • 125 ml (½ k) hawermout
  • 75 ml (5 e) sagte bruinsuiker
  • 2,5 ml (½ t) gemaalde kaneel of gemengdespeserye
  • 50 g amandels of pekanneute, fyngekap
  • Tuisgemaakte vla (sien wenk), ongegeurde jogurt of vanieljeroomys om mee voor te sit

Metode

  1. Appels: Voorverhit die oond tot 200 °C en smeer ’n vlak, middelslag oondbak liggies met ’n bietjie botter.
  2. Smelt die suiker en botter oor matige hitte in ’n braaipan en roer dit deurentyd tot die suiker opgelos is. Roer die speserye en appels by en meng dit goed deur.
  3. Verlaag die hitte en laat die appels 15-20 minute lank liggies prut, of tot net sag. Roer die rooibosbessies by die warm mengsel en skep dit in die oondbak.
  4. Krummel: Berei intussen die mengsel hiervoor terwyl die appels prut. Meng die meel, botter en hawermout in ’n voedselverwerker tot dit soos broodkrummels lyk. Of vryf die botter met jou vingerpunte in.
  5. Voeg die suiker, kaneel en neute by en meng dit met ’n voedselverwerker of ’n houtlepel tot dit ’n sagte mengsel vorm.
  6. Krummel die deeg met jou vingerpunte eweredig bo-oor die appels. Bak dit 25-30 minute lank, of tot dit bo-op goudbruin is. Sit dit dadelik met die vla, jogurt of roomys voor.

Wenke

  1. Maak tuisgemaakte vla en geur dit met ’n skeutjie vanieljegeursel en die fyngerasperde skil van ’n halwe suurlemoen. Dit sorg vir ’n besonderse geur.
  2. Vervang die helfte van die appels met ryp, ferm pere. Of vervang die rooibosbessies met gevriesde bloubessies.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img