DEUR CARLENE VENTER

Dag 1 van afsondering. Maar dit voel eintlik soos ’n week. Ons bly tuis vir onsself, vir talle Suid-Afrikaanse gesinne en vir gesondheidswerkers wat elke dag met hierdie virus te doen kry. My man is een van hulle.’n Mediese dokter tans besig met sy ortopediese spesialisopleiding by Groote Schuur-hospitaal. Hy werk nie in die “frontline” nie, darem nog nie. Hy maak gebreekte femurs, arms, hande of skouers reg. Tans by Rooikruis-hospitaal sien hy gereeld kinders wat seergekry het. Of mishandel word. Dis genoeg om enige mens emosioneel uitgeput te maak.

Hy is nogsteeds blootgestel aan die “onsienbare vyand” – die koronavirus wat deur enige pasiënt ingedra kan word in trauma. Dis net ’n kwessie van tyd voor daar nie meer maskers is nie, voor daar té min beddens is, voor die ander dokters hulp nodig het. Voor almal emosioneel en fisies uitgeput raak. Ons wag nou dat hy huis toe kom, na die eerste aand van lockdown.

“Ek is my kinders se ‘frontline’, die eerste gesig wat hulle sien in die oggend, hulle het nodig dat ek sterk is. Ek is hulle slaansak, hulle valskerm, ek is hulle hoop. Terwyl my man moet doen wat hy moet doen, is ek die enkelouer. Of soms voel dit so,” vertel Carlene Venter. By haar is haar man dr Pieter Venter en hulle kinders Arian en Imke. Foto verskaf

Dis ons realiteit, elke dag word my man blootgestel aan een of ander gevaar. MIV, TB … en nou die Koronavirus.


Lees meer getuienisse hier.


Terwyl hy buite is, is ons binne. My kinders vra heeltyd wanneer pappa terugkom en hoeveel mense of kinders hy gehelp het. Hy is ons held. As hy nie “op roep” is nie, is hy nogsteeds by die werk. Ons sien hom baie min. Hy kom by die huis en gaan stort dadelik. Nadat hy die hospitaal afgewas het is hy ’n ander mens. Ek vra my man hoe hy voel oor hierdie nuwe virus wat die wêreld so siek maak: Hy voel gefrustreerd en baie bekommerd. Gefrustreerd oor die situasie waarin hy is as gesondheidswerker wat verplig is om te werk, terwyl mense so gemaklik is en vir geen noodgeval by die hospitaal inkom en hulle almal in die hospitaal in gevaar stel. Bekommerd dat hy ons kan blootstel aan die virus. Ons het al gepraat van isolasie en hoe dit gaan werk as hy siek word. Wat kan ons doen? Ons huis is klein. Ons kinders is nog klein. Hoe verstaan hulle dit? Ons sien net nie kans om mekaar vir so ’n onbeperkte tyd nie te sien nie, ten spyte van die risiko. Ek het hom ook nodig.

My stres, my emosies, my vrese, my gevoelens, moet ek vir myself hou want ons kinders is nog te klein om te verstaan. Ek is hulle “frontline”, die eerste gesig wat hulle sien in die oggend, hulle het nodig dat ek sterk is. Ek is hulle slaansak, hulle valskerm, ek is hulle hoop. Terwyl my man moet doen wat hy moet doen, is ek die enkelouer. Of soms voel dit so.

Wat is dit wat my krag gee deur hierdie hele storie? Ek lag want in die aand soek ek bitter graag net daai glasie rooiwyn voor ek moet kosmaak. Maar ons as gesin bid gereeld saam. Ons vat hande en ons bid. Ek glo dat God ons sterk hou, terwyl ek nie dink enige gesin kan sommer so funksioneer nie. God weet wat ons nodig het. Ons is dankbaar om gesond te wees. Ons is gelukkig om mekaar te hê, terwyl familie ver is en ons vir lank nie kontak met vriende kan hê nie. Elke oomblik saam is kosbaar.

LEES OOK: ‘Nooit het ek gedink dit was ons laaste groet nie’

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail