KYK: Irma en Jan-Jan Joubert oor politiek, deernis en dat ’n saak áltyd twee kante het

Hul skryfwerk sal waarskynlik nie op dieselfde rak in ’n biblioteek beland nie, maar hierdie ma en seun se woorde maak menige leser en luisteraar se hart warm. Die bekende Irma en Jan-Jan Joubert vertel oor hul gedeelde liefde vir taal, vir geskiedenis en vir reis.

DEUR FRANCINE PRINS; FOTO’S: ROBERT CABLE

“Vroegmôres, wanneer ons by my ouma en oupa in die bed gaan klim, het hulle vir ons briewe voorgelees wat ons oupagrootjie as student uit Londen geskryf het.”

So vertel Jan-Jan oor kleintyd se kuier op die Bosveldplaas by sy Moerdyk-grootouers.

Die befaamde briefskrywer was oupagrootjie Gerard Moerdyk, wat onder meer die Voortrekkermonument ontwerp het, asook talle kerke. Sy vernuftige woordspel het vir baie vreugde gesorg. Jan-Jan vertel: “Sy briewe is vol humor. Hy kon lekker met woorde speel en so met die mense op die skip die spot dryf.”

Dis onder meer ook die woordspel in Jan-Jan se werk wat ’n mens opval. Die gevatheid waarmee hy politieke begrippe toelig. Die behendige spitsvondigheid. Sy ma skerts: “Hy verduidelik só goed dat selfs ek die politiek kan verstaan!”

Dié soort taalvernuf vloei breed in die Jouberts se are. “My pa is baie lief vir woordspel,” sê Jan-Jan. En lesers van Irma se boeke weet dat ook sy besonder knap is met stories, met woorde, met vertel.

LEES OOK: Sangeres vind berusting in die wete dat haar pa vry is

“My ma skryf die beste dialoog wat ek al ooit teëgekom het,” sê Jan-Jan. “En sy het ’n besonderse begrip vir hoe ’n familie funksioneer.”

Irma kom dan ook uit ’n groot familie: Haar ma en twee van die tantes het elk ses kinders. Irma is self ma van vier, en ouma van vyf (amper ses) kleinkinders.

Sy vertel: “Al ons niggies en nefies het steeds kontak met mekaar – en begrafnisse is vir ons die heel lekkerste.

“Ek bedoel nou nie die begrafnis self nie. Ons huil, want dis baie hartseer. Maar ná die tyd kuier ons so lekker! Ons het op ’n keer met my groottante Esta se begrafnis só lekker gekuier dat my oom opgemerk het: ‘Ek wens Esta was hier, sy sou haar begrafnis só geniet het.’”

Die liefde vir geskiedenis

Waar kom Jan-Jan se belangstelling in die politiek vandaan?

Irma lag: “Hy was nog jonk, toe hoor hy van Eugene Terre’Blanche wat in die Durbanse stadsaal sou praat. En hy oortuig sy pa om hom daarheen te neem. Hy was baie beïndruk met hierdie oom wat so goed kon voordra. Jan-Jan het destyds self by kunswedstryde voorgedra; hy het dus geweet hoe dit gedoen moet word.”

LEES OOK: ‘Al moet jy drome laat vaar, hoef jy nie hoop te verloor nie,’ vertel pa van outistiese seun

Jan-Jan onthou sy eerste kennismaking met die politiek as veel vroeër: “Dit was in 1981, toe ek in standerd een was. Ons het in ’n nuwe kiesafdeling geval en enige party kon daar wen. Ons is toegegooi met inligting. Daar het my belangstelling begin, en my arme pa moes my na báie openbare vergaderings neem. Die eerste een was die stigtingsvergadering van die Konserwatiewe Party.

“Daar was ook vergaderings van die PFP en Inkhata. Ons het ’n hele spread gedoen.”

Irma en Jan-Jan Joubert.

Ook sy ma het ouers en grootouers gehad wat haar belangstelling in geskiedenis help vorm het. “My ouma Sylva Moerdyk het vir ons régte stories uit die geskiedenis vertel, en my oupa Gerard het my saamgeneem wanneer hulle retensiewerk aan die Voortrekkermonument gedoen het.

“Ek was maar twee jaar oud toe die monument ingewy is. My oupa het egter vier of vyf jaar daarna steeds afrondingswerk daaraan gedoen. Hy het graag die friese se storie vertel. Hulle het regte mense as modelle gebruik om dit te kon maak. My ouma Sylva was ’n model. My ander ouma, Tienie Holloway, was een. Soos my ouers en my twee tantes. Selfs ons ou hond, Leeu, was ’n model.

“Ek het dus die storie van die Groot Trek van kleins af geken. Dit was geskiedenis, ja, maar vir my was dit ’n werklikheid. Om die waarheid te sê, ek het gedink my ma-hulle was in die Groot Trek!”

Irma vertel ook van haar grootoom Charles Holloway wat stories uit die Tweede Wêreldoorlog vertel het. En haar ma se oom, Baden Purchase, wat in die Eerste Wêreldoorlog gewond is en ook sý stories vertel het.

“Op laerskool het ek Heinz Konsalik se boeke ontdek, en ek kon my Duitse ouma vra of die stories waar is. Geskiedenis was dus vir my lewendig; dit was nooit net datums en slagvelde nie.”

Ook vir Jan-Jan is die geskiedenis meer as datums en slagvelde. “Die geskiedenis is die verhaal van die mensdom wanneer hy ontmasker of ontredderd staan. Dis die handeling van die mens in spesifieke omstandighede. As jy dít verstaan, leer jy ook lesse vir vandag. Dis wat vir my lekker aan die geskiedenis is. Dit strek dieper as bloot droë feite.

LEES OOK: ‘Deel van my sterf saam met my baba, maar God bring weer vreugde deur surrogaatma’

“Toe die Covid-19-pandemie uitbreek, het ek teruggedink aan wat my ouma Moerdyk my oor die Tweede Wêreldoorlog vertel het. ‘Aanvanklik was dit interessant, want alles was nuut,’ het sy vertel. ‘Binne weke word dit baie vervelig. Almal is bekommerd, want daar kom geen geld in nie. En jou hele sosiale lewe is tot niet.’

“En hierdie stukkie geskiedenis het my op die inperking voorberei. Toe president Ramaphosa met die eerste inperking sê dat hierdie pandemie ’n oorlog is, het ek geweet waarop dit sou uitloop. Ons sien nou dat gewone mense se stories in dieselfde bane verloop as diegene wat tydens ander oorloë geleef het.”

Saam reis

“Jan-Jan,” het Irma in 2006 vir haar oudste seun gesê, “kom ons gaan oorsee en gaan kyk na die konsentrasiekampe in Europa.

“Hy het geantwoord dat hy regtig nie ’n behoefte daaraan het nie. Maar ek het hom gesê hierdie moeder is nou oud. Boonop kon ek hom vertel dat ek dikwels soggens tweeuur vir my kinders moes opstaan. Nou het die wiel gedraai.”

Oor dié toer vertel Jan-Jan: “Ons het uiteindelik twee konsentrasiekampe besoek – en darem méér as konsentrasiekampe.”

Dit was in werklikheid ’n eerste navorsingstoer waar hulle die plekke besoek het waaroor Irma later in haar veelbekroonde boek Tussen stasies sou skryf.

“Ons werk gemaklik saam,” vertel Irma. “Hy verstaan moltreine en sulke dinge. En ek bly kalm.”

Sê Jan-Jan: “’n Mens kry soms die gevoel dat sy ’n ongegronde blinde vertroue in haar reismaat het …”

Vir Immer Wes is hulle Berlyn toe. “My ma sou byvoorbeeld sê sy soek ’n straat waar welvarende mense woon, met ’n skool daar naby. En met ’n plattelandse atmosfeer, maar steeds in Berlyn. Of gaan soek ’n huis met ’n ordentlike aartappelkelder wat naby die Gedenkkerk is.”

“Dan gaan soek ek so ’n straat of ek vind die huis.”

Maar hoe?

“’n Mens begin mos maar … Kyk, die grootste deel van Berlyn is in die Tweede Wêreldoorlog platgevee. Ek moes dus gaan soek na ’n plek wat behoue gebly het. Uit my kennis van hoe die kommunistiese stelsel werk, het ek geweet dat die Oos-Duitse leierskorps die beste deel van Berlyn vir hulleself sou kies om in te bly.

“Dit neem my toe na Pankow, ’n baie deftige buurt net buite Berlyn. My logika het gesê dat ek hiér die straat sou vind wat my ma soek.”

“Jy sien,” las Irma by, “jy kan nie eintlik navorsing doen as jy nie reeds die geskiedenis ken nie.”

“En die menslike in die geskiedenis,” sê Jan-Jan.

Jan-Jan se insig in die geskiedenis maak dus van hom ’n perfekte navorser vir sy ma se boeke. Sy sê: “As Jan-Jan so ’n huis of straat vind, kan ek my karakters in daardie ruimte gaan neersit, en begin om die storie te vertel.”

Goeie feite, goeie fiksie

Irma doen wel die grootste gedeelte van haar navorsing self. Sy is baie noukeurig met die feite in haar verhale.

LEES OOK: ‘Gryp die dag – môre is minder gewaarborg as ooit’

Sy vertel: “Vir Ver wink die Suiderkruis wou ek my karakters van Pretoria tot by die diamantvelde neem, en dit was in die depressietyd. Ek praat toe met ’n tante wat uit daardie wêreld kom en sy vertel dat die mense tot op Potchefstroom met die trein moes ry, en dan die melktrein tot by hul bestemming.

“‘Maar onthou,’ het die tante bygevoeg, ‘hulle moet kos saamneem!’

“Een aand laat bel sy my en vra: ‘Irma, wanneer ry jou kinders?’ Ek het nie dadelik gesnap waarvan sy praat nie, maar toe ek haar oplaas die dag en datum kon gee, sê die tante: ‘Weet jy dat daar ’n ontploffing by Leeudoringstad was? ’n Groot deel van die treinspoor is weggeblaas. Jou mense moet dus by die stasie voor Leeudoringstad op die spoorwegbus klim, hulle moet óm die stasie ry, en dan weer verder met die trein.’

“As die gebeure in my boeke waar is, ervaar mense ook dat die karakters waar is. So word feit en fiksie met mekaar vermeng. As die feite nie korrek is nie, val die storie plat.”

Jan-Jan sê oor sy ma se skryfwerk: “Ek dink nie ek sou by my ma se skryfwerk betrokke geraak het, en so lank daar betrokke gebly het, as ek nie gedink het dis goed nie. Vir my is dit meer ’n taalkundige as ’n emosionele oefening. Ek gaan die geskiedkundige feite na en ek sorg dat die kousale verbande reg lê.

“Hier help my politieke joernalistiek baie, want ek maak seker dat die karakters se oggend- en aandpraatjies met mekaar strook.”

Irma is vol lof vir Jan-Jan se werk.

“Ek dink hy is verskriklik slim! En ek is elke keer verstom – of dit nou met sy radiowerk of TV-werk of in sy skryfwerk is – hoe hy hom kan uitdruk. Hoe hy ’n gevatte antwoord kan gee, hoe hy kan aanhaal. Sy geheue is uitstekend. En ek verwonder my aan sy logika en humor.”

Van waar die naam Jan-Jan?

Irma vertel: “Sy oupa was Jan, en sy pa ook. Toe is ek bevrees hy word ‘Jannie’ of ‘Kleinjan’. Ek het hom Jan-Jan begin noem toe ek hoor van John F Kennedy se John-John. Ek het gedink as hy skool toe gaan, kan hy ‘Jan’ word. Maar toe hy skool toe is, het hy vir almal gesê hy is Jan-Jan. En so het die naam gebly.”

  • Dié artikel verskyn in die Lente-uitgawe van die gedrukte LiG.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img