20 April 2021


Dis reeds ’n jaar dat die gewilde sanger en liedjieskrywer Jak de Priester nie ’n inkomste het nie. Hy is nou ’n Kapenaar en hy bou hard aan ’n loopbaan as eiendomsagent in Stellenbosch. Hy leef dag na dag in die geloof dat God op die reis sal voorsien.

DEUR DEONETTE DE KOCK

“Jou bekendheid en die applous tydens jou optredes kan jou maklik op ’n fantasie-wolk laat leef. Maar die lewe sonder konserte het my baie gou terug aarde toe gebring. Dit was ’n groot emosionele omwenteling wat my angstig gemaak het, en depressief.”

Só gesels Jak de Priester. Hy praat openhartig oor die nuwe paadjie wat hy noodgedwonge in die pandemietyd moes inslaan nadat sang en musiek nie meer vir brood op die tafel kon sorg nie.

Slapelose nagte

“Toe ek in die grendeltyd nie kon reis of optree nie, het ek besef dat ek nie meer op my beroep as sanger en musiekmaker kon staatmaak nie. My vrou Michelle het my daarop gewys dat ek steeds dieselfde mens is, al is dit sonder ’n verhoog om op te staan.”

Hy bieg: “Dit het my slapelose nagte besorg. Ek het my na God gewend. Soms het ek 4:00 in die oggend wakker geskrik. Dan het ek met Hom gepraat. Ek het begin om ’n blog te skryf met die naam Koppieteefontein waarin ek my emosies kon uitdruk. Dis ’n uitlaatklep vir my gevoelens, my angs. Ek het dit met ander mense begin deel. Ek skryf so een keer per maand hier. Dit het ook ’n vorm van gebed geword.

LEES OOK: Marinda oor planne in moeilike tye: ‘As jou arms lam raak, vra jy God vir krag’

“Ek het besef dat ek maniere moes vind om geld te verdien. Die verhuising na ons strandhuis in Kleinmond was vir my ’n simbool van ’n nuwe lewe wat aangebreek het. Dit was ’n groot stap.”

Jak de Priester en vrou en seuntjie

Jak de Priester en sy gesin het eers in Kleinmond gewoon voordat hulle vroeër vanjaar na Somerset-Wes verhuis het. Hier geniet hulle een van die vele wandelpaadjies tussen die rotse op Kleinmond. Foto verskaf

God se plan

Jak het nog altyd in die eiendomswêreld belanggestel. Hy sou dikwels ’n woonstel koop, dit regmaak, verhuur en uiteindelik verkoop.

Toe hy op 8 Desember 2020 by die eiendomsagentskap Chas Everitt se jaareindfunksie in Grabouw optree en die eienaar Dean Meijer ontmoet, is die pad oopgemaak dat hy by hulle kon begin werk. En op 4 Januarie vanjaar het hy in Stellenbosch as eiendomsagent begin. Die gesin het Somerset-Wes toe verhuis.

Jak vertel: “Die eiendomsmark is van so ’n aard dat jy nie aan die einde van die maand ’n salaris ontvang nie. Ek moes leer hoe om huise op ’n verkooplys te kry, hoe om vreemde mense te bel en te hoor of hulle hul huis wil verkoop. Dis ’n groot uitdaging. Jy is só afhanklik van God se genade.

“Daar kom baie tye dat ek onseker is, dat ek steeds nie in ’n fantastiese finansiële posisie is nie. Dis al meer as ’n jaar dat ek nie juis ’n inkomste het nie. Maar dis ’n wonderlike maatskappy, ek het ’n Christen-leermeester en goeie mense vir wie ek werk. Wanneer ons op ’n Dinsdag vergadering hou, begin ons met gebed.”

Sy geloofspad en sy vertroue op God word elke dag getoets. “Ek het juis vandag weer ’n dag beleef waarin ek my moes afvra of ek steeds ’n sanger is, iemand wat op ’n verhoog tuis is. Ek loop in die mooie Stellenbosch rond en ek is so verward, ek wonder waarom ek op hierdie aarde is. My talent is om liedjies te skryf en musiek te maak. Nou doen ek iets heeltemal anders.

“Ek word dikwels met leë hande weggestuur. Ek bel mense … en niemand wil ’n huis verkoop nie. Ek slaag amper … en dan val die koop deur die mat.

“Dis fantasties om in Somerset-Wes te woon. My kinders pas stadig maar seker aan, en hulle word ál gelukkiger in hul omgewing. My seun Jamie (11) vaar goed met sy tennis, en my dogtertjie Mija (9) geniet die dansklasse. Sy het ook met branderry-lesse begin. Mika (5) is in graad R, en hy geniet sy skool.

Jak de Priester en gesin

Om gereeld roomys te gaan eet is ’n moet vir dié gesin, vertel Jak. Foto verskaf

“Ek besef dat ek binne 20 jaar vir hulle ’n fantastiese lewe in die Kaap kan bied, as ek net op my knieë bly en glo. Ek tree die afgelope tyd in klein vertonings op. Al gaan dit nie die wa deur die drif trek nie, weet ek ook dat wanneer ek daardie eerste verkoopkommissie kry, ek ’n tweede been sal hê om op te staan.

“Ek weet dat God ’n plan met my lewe het. Ek probeer ’n voorbeeld vir my kinders wees, sodat hulle eendag sal onthou hoe hul pa in ’n moeilike tyd nie tou opgegooi het nie. Ek leer baie lesse. Ek het ’n lang geloofspad met God gestap. Eendag sal ek hierop terugkyk en ’n goeie storie kan vertel.

“Ek het ’n Godgegewe talent, en ek gaan soveel moontlik sing. God bly my Lig. En ek is dankbaar dat ek ’n vangnet in Hom kan hê. Hierdie is my reis met God.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *