KYK: ’n R100-noot mishandelde atleet se kaartjie na hoop

Deur Conette le Roux; Video: Robert Cable

Björn Alexander het grootgeword in Chicago. Dis nou in Paarl-Oos en nié Amerika nie, vertel hy met sy kenmerkende vrolike lag.

KYK DIE VOLLE VIDEO-ONDERHOUD:

Dáár gaan pa’s glo winkel toe om melk te koop, net om dikwels nooit terug te keer nie. Trauma en geweld is deel van die elkedagse bestaan.

En, onthou Björn, oomblikke van totale hooploosheid is ongelukkig net so volop.

“Ek het op laerskool ’n wit rot as ’n troeteldier gehad. Ek het hom oral saamgeneem. Hy was regtig my buddy, my vriend. Een dag het my ma saam met vriende by die huis sit en drink. Om haar vriende te vermaak het sy dié dag my rot in ’n plastieksak gesit en toegeknoop. Toe slaan sy hom voor my en my vriende teen die muur dood.

“Daardie gevoel van totale hooploosheid sal ek nooit vergeet nie.”

LEES OOK: ‘Ek moes eers álles verloor voor ek besef het ek het nét God nodig,’ vertel Alwyn Uys

Maar daardie hooploosheid het nie die laaste sê gehad nie. Björn is tans besturende direkteur van Hilltop Legacy, ’n niewinsgewende organisasie wat die afgelope agt jaar hoop in swaarkrygemeenskappe van die Paarl bring.

Daar was vele ander traumatiese ervarings. “Ek het báie mense sien sterf. Mense wat voor my met messe doodgesteek is. Ek onthou byvoorbeeld ’n kind wie se ouer doodgesteek is omdat hy nie ’n sigaret vir iemand wou gee nie. Of vroue wat duidelik sopas verkrag is.”

Wanneer jy Björn vra hoe hy as kind met al dié trauma geleef het, is sy antwoord eenvoudig: “Jy druk hom in ’n hoekie.” Hy verduidelik dat hy nooit geleer is hoe om emosies te verwerk nie. “Die realiteit waar ons grootgeword het, is dat jy nie geleer word hoe om emosies te express nie.

“Al wat jy maar gedoen het, was om dit diep weg te bêre. Niemand het jou help verstaan wat verskillende emosies, soos woede en hartseer, beteken nie. Later word jy so gemaklik met woede, want dit is eintlik die enigste emosie waaraan jy blootgestel word,” verduidelik hy.

Gelukkig het Björn in sy graad 8-jaar iets gevind wat hom gehelp het om sy moeilike omstandighede te hanteer. Sy neef het hom blootgestel aan landloop en dít, vertel Björn, het om gehelp om te cope.

Ongelukkig was dié ontvlugting van korte duur. “My ma wou nie gehad het ek moet sport doen nie. Sy het altyd gesê dis vir wit mense. As alkoholis, enkelma en met haar eie trauma was sy baie abusive. As ek ná wedlope by die huis gekom het het sy my geslaan, gewurg en selfs my T-hemp van my lyf afgeskeur. Die mishandeling het te erg geraak, en ek moes ophou met die sport.

’n R100-noot vir Kersfees was egter ’n 17-jarige Björn se kaartjie na hoop. In ’n gemeenskap waar almal se rolmodelle “big shot gangsters” was, het hy presies geweet by watter gang om ’n paar goeie hardloopskoene met dié R100 te kry.

Toe wink die Boland-landloopspan, en hy word daarvoor gekies. Vir die eerste keer in sy lewe reis hy uit die Wes-Kaap – Pretoria toe. Daarna het hy aan tweekamp begin deelneem en later Suid-Afrika by die wêreldkampioenskappe in Kanada verteenwoordig.

Kyk na die video-onderhoud hierbo om meer uit te vind oor hoe Björn uiteindelik die eerste een in sy familie was wat kon gaan studeer. Ook hoe hy vandag nie meer hardloop om te cope nie. Sy sport is nou ‘n manier om lewenslesse, met Jesus as anker, aan leerders op die atletiekbaan én in die klaskamer te leer.

 

 

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img