Laat Hy jou bouprojekte goedkeur

DEUR SIMONE GAUCHE

“Kyk, Mamma! Ek bou ’n hoog toring!” roep my seuntjie uitbundig.

Die blokkies lê gesaai oor sy kamervloer. Dis ’n beroepsgevaar wat elke mamma ken. Ek trap dit versigtig mis en gaan kyk na die “hoog toring”.

Hy frons ’n diep sloot oor sy voorkop soos hy konsentreer. Elke blokkie word sorgvuldig gemeet en gepas en gebalanseer.

LEES OOK: Wanneer jy worstel …

Met dié kom Jonger Boetie ingehardloop en skree: “Klaa!” (Ja, ons kort nog ’n “r” in ons letterskat …) En met een goedgemikte hou stamp hy die toring om.

Dis ’n tranedal. Ek moet hard werk om die verhouding te herstel.

’n Hoë toring

Ons lees in Genesis van die toring van Babel. Die mense het besluit om ’n stad te bou met ’n toring wat tot aan die hemel reik, “sodat ons vir onsself ’n naam maak”. Dis die oersonde: Die mens wil homself verhef. Hy wil soos God wees.

Hiervoor gebruik die mens die beste boumateriaal tot sy beskikking. Hy begin bou aan ’n toring wat veronderstel is om die toppunt van sy tegnologiese ontwikkeling te verteenwoordig. Almal sal kan sien hoe ver hy gevorder het en hoe belangrik hy eintlik is.

Hy het gewerskaf, geswoeg en gesweet. Al sy energie en krag is aan die toring gewy. Hy was ingenome met homself – maar hy het hopeloos misluk. Die Here moes steeds afkom om na die “hemelhoë” toring te kyk wat sy mensekinders gebou het.

Nou volg daar ’n Babelse verwarring. Daar is geen eer of aansien nie. Hulle word oor die aarde verstrooi. Hulle moet van voor af te begin, dié keer hopelik met meer wysheid. Hopelik bou hulle voortaan slimmer.

 Al ons torings

Die toring was nie die Here se plan nie en ook nie vir die Here beplan nie. Hy het nie die mens gevra om ’n toring te bou nie. Die toring se doel was om die mens te verheerlik, nie die Skepper nie.

Terwyl die torings om ons intuimel, wonder ek waarmee ék besig is. Waaraan bou ek? Wat neem al mý krag en energie in beslag? Verheerlik ek God se Naam met wat ek doen, of soek ek my eie eer? Bou ek saam met God, of bou ek teen Hom?

LEES OOK: Sing ’n loflied in die storm

Of bou ek dalk aan iets waarvan die seisoen lank reeds verby is? Dis reeds tyd om aan te beweeg, maar ek klou aan my geliefde bouprojek vas.

Ek weet uit ondervinding dat as ek hard werk aan die verkeerde soort toring, ’n Babelse verwarring my ook sal tref. Dan moet ek weer van voor af begin, want hoogmoed kom tot ’n val.

“As die Here die huis nie bou nie …”

Ek word daaraan herinner dat ek gereeld moet selfondersoek doen. Dat ek moet let op wat ek besig is om te bou. Soms is die groot, opvallende torings makliker om uit te ken as die klein torinkies wat my aandag van God af weglei.

Ek moet my Vader gereeld vra watter bouprojekte deur Hom goedgekeur is en watter nie. Ek weet ek moet my bouplanne by Hom indien sodat Hy dit kan goedkeur. Dan sal ek Hom verheerlik – in my planne én in die uitvoering daarvan.

Dié Bybelvers steek by my vas: “As die Here die huis nie bou nie, swoeg dié wat daaraan bou, tevergeefs” (Ps 127:1).

Dalk wil jy vandag weer kies om slimmer te bou. Vra dan die Here om jou daarmee te help.

 Gaan lees gerus weer Genesis 11.

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img