Lag ’n slag!

Ja, lag ’n slag – dis goed vir jou én vir die mense om jou. Nee, ek maak regtig nie grappies oor so ’n ernstige saak nie. Wetenskaplikes het inderdaad bewys dat ’n lekker skaterlag ’n belangrike en ’n noodsaaklike deel van jou lewe is. Dat dit boonop jou geheime wapen teen vele ongesteldhede is.

Deur MARETHA BOTES

Daar gebeur wonderlike dinge in jou lyf wanneer jy jou lagkraantjie oopdraai. Dit verbrand kalorieë sonder dat jy myle hoef te draf, dit verlig stres én dit verbeter jou immuniteit.

As jy boonop saam met jou maat of vriendinne lag, help dit gesonde verhoudings bou. En as jy lag voor jy eksamen skryf, sal jy die feite makliker herroep. Dis dus glad nie vreemd dat die Spreukedigter destyds al gereken het dat ’n vrolike mens ’n gesonde mens is nie.

Prof Ignatius Gous van Unisa help studente en kollegas om navorsing oor die brein te gebruik om beter te leef. Hy sê lag is nodig om ’n gesonde, gebalanseerde lewe te kan hê. Lag is ’n universeel-menslike aksie by alle kulture in die wêreld. Almal weet as jy lag … en as jy nié lag nie.

Volgens hom kan jy bewustelik beheer van jou lagspiere neem en dit op ’n betekenisvolle manier aanwend.

Dr Sabrina Romanoff is ’n kliniese sielkundige in New York wat navorsing gedoen het oor hoe lag tot voordeel van jou algemene gesondheid gebruik kan word. Sy sê ons beskou die uitwerking van ’n goeie, gereelde lagbui as vanselfsprekend. Ons is nie altyd bewus van die potensiële positiewe impak van die krag wat dit in ons lewe uitoefen nie.

“Ons moet meer bewus wees van lag,” sê sy, “sodat ons dit elke dag ten volle kan gebruik. Dis ’n noodsaaklike stuk gereedskap om stres teë te werk, om bande met ander te smee, om jou gesondheid te verbeter.”

Wat gebeur as jy lag?

Verskeie dele van die brein werk saam om uiteindelik ’n glimlag op jou bakkies te sit wanneer iets vir jou snaaks is: (i) As iemand ’n grap vertel, sal jou brein se korteks die grap se woorde analiseer. (ii) Nou sorg die frontale lob vir jou emosionele respons. (iii) Die regterkant van die korteks kom met die boodskap dat jy die grap snap. (iv) Die oksipitale lob analiseer die visuele tekens. (v) Ten slotte word die fisieke respons, die lag self, deur die brein se motoriese gedeelte geaktiveer.

LEES OOK: Gewoontes wat help

Dié hele proses duur minder as vier tiendes van ’n sekonde.

So ’n goeie lagbui het ’n beduidende invloed op jou sogenaamde goedvoel-hormone. Dís die rede waarom jy opgeruimd voel, ontspanne is en selfs beter op pyn reageer nadat jy gelag het.

Wanneer jy lag, skei jou brein dopamien af. Dis ’n belangrike chemiese boodskapper wat verantwoordelik is vir die gevoel dat jy beloon word, vir motivering, konsentrasie en selfs vir sommige liggaamsbewegings.

Wanneer dopamien in groot hoeveelhede afgeskei word, beleef jy die soort plesier en beloning wat jou motiveer om die gedrag wat daartoe gelei het, te herhaal. Dit kan jou leervermoë, jou konsentrasie en motivering verbeter. Te min dopamien lei tot verlaagde vlakke van motivering en entoesiasme vir dié dinge wat die meeste mense opgewonde sal maak.

Wanneer jy lag, skei jou brein ook oksitosien af. Wanneer dié hormoon in jou bloedstroom beland, lei dit tot ’n gevoel van “behoort”. Dis waarom dit waardevol is – en alte lekker – om saam met ander te lag.

Ook endorfien, oftewel die plesierhormoon, word tydens ’n lagbui afgeskei. Navorsing het uitgewys dat mense wat voor ’n pynlike mediese prosedure lag, danksy die einste endorfien tot 15% meer pyn kan verduur as diegene wat nie voor die tyd gelag het nie.

LEES OOK: Hooploos? Jy is gebore met veerkragtigheid …

Ander gesondheidsvoordele sluit in: verbeterde immuunfunksionering, stresverligting, beter hartgesondheid, verlaagde angsvlakke, ’n gevoel van veiligheid – én ’n bui wat beter word …

Geniet dit net!

Die vermoë om te lag en te speel en pret te hê, maak die lewe soveel lekkerder. Boonop help dit jou met probleemoplossing en om bande met ander te bou, en dit wakker jou kreatiwiteit aan.

Heinrich Visser, ’n lagterapeut in Durban, sê mense wat humor in hul daaglikse lewe insluit, vind dit makliker om buite die boks te dink en om met nuwe oë na probleme te kyk. Volgens hom is dit noodsaaklik om elke dag tien tot vyftien minute lank uit volle bors te lag.

Heinrich sê sedert hy begin het om lagterapie aan ander mense te bied, pluk hy self die vrugte daarvan. “Ek is nou meer ontspanne, ek is ’n meer spontane mens. My probleme verdwyn nie, maar ek verkies om my struikelblokke vanuit ’n positiewe oogpunt te benader, eerder as om my daardeur te laat verswelg.”

Michelle Saaiman (47) is ’n vryskut-grafiese kunstenaar in Pretoria. Naweke speel sy graag gholf om te ontspan. Sy het onlangs besef dié spel veroorsaak meer stres as wat dit haar help om haar stresvlakke te verlaag. Sy het oplaas aan haarself erken dat sy dit nie meer geniet om gholf te speel nie.

“Ek het besef ek is besig om die doel van die spel te mis. Ek het destyds daarmee begin omdat dit my gehelp ontspan het. Maar hoe meer ek gespeel het en hoe meer my vaardighede verbeter het, hoe feller was die selfkritiek op my spel. Dit het so ver gegaan dat ek woedend geword het as ek nie ’n goeie dag op die baan gehad het nie.”

Hierna het sy twee dinge gedoen om die situasie te beredder: Sy het begin om slegs saam met mense te speel wat nie te ernstig oor hul spel is nie. En sy het haar doelbewus daarop toegelê om pret te hê en om baie te lag wanneer sy speel.

“Nou is gholf weer lekker,” sê sy. “Ek ontspan. Dit maak regtig ’n verskil as jy vir jouself kan lag, en as jy saam met ander kan lag. My spel het trouens verbeter noudat ek doelbewus die lekkerte daarin soek.”

Kry jou mojo terug

Maar hoe gemaak as jy jou spontaneïteit verloor het? As jy sukkel om te lag? As jou lag nie meer uit ’n eerlike plek kom nie?

Daar is maniere om jou lag-mojo terug te kry as jy dit verloor het. En dit begin by jou emosies.

Ignatius sê: “Jy kan, en jy moet, jou emosies beheer ten einde ’n gebalanseerde mens te wees. Daarom is dit nodig om te weet in watter van jou emosies lag ’n rol speel.”

Hy verduidelik dit só: “Lag is die vokalisering van ’n emosie. Dis soos wanneer jy gil as jy skrik, huil as jy hartseer is, of snork wanneer jy verontwaardig is.

 

“Wat lag ánders maak, is dat dit nie slegs aan een emosie uitdrukking gee nie, maar ’n hele rits emosies in sy repertoire het. Jy kan saam met ander lag en daardeur aanvaarding wys. Jy kan in ’n stresvolle situasie lag, wat jou dan laat ontspan en met ander oë na die probleem laat kyk. Jy kan vír iemand lag – en op hierdie manier wys dat jy met die persoon die spot dryf.

“Hou rekord van watter emosies jy deur die loop van die dag beleef. Met ander woorde: Doen ’n emosie-analise as jy agterkom jy lag nie gereeld nie. Jy sal dan kan sien watter emosies die oorheersende rol in jou dag speel.

“Die doel van só ’n analise is om aanpassings te maak. Wanneer jy van bepaalde tendense bewus is, kan jy ’n oordeel vel oor wat gesond is en wat nié.

“Dis ongesond om heeldag angstig, woedend of onvergenoegd te voel. Maak dan aanpassings in jou gedrag. Verkry beheer oor jou emosies, eerder as om onnadenkend te leef, of om te voel jy is aan jou lot uitgelewer.

“Jy kan besluit hoe jy meer kan lag. Jy kan dit oefen. Dis nie so moeilik nie. Luister byvoorbeeld na opnames van mense wat lag (daar is báie hiervan), of nooi iemand om ’n snaakse fliek saam met jou te kyk.

“Die doel is nie om heeldag vir alles en almal te loop en lag nie, maar daar moet ’n gesonde balans wees.”

Nóg ’n manier om jou vreugde terug te kry, is om ’n dankbaarheidsjoernaal te hou. Skryf doodgewoon aan die einde van elke dag alles neer waaroor jy op daardie dag dankbaar is.
Bloot dié eenvoudige roetine sal jou lewensuitkyk verander. En jy sal weer kan glimlag en hardop lag. Dit sal jou help om ’n gesonde, gebalanseerde emosionele lewe te hê.

Doen dít om meer te lag

  • Belê in humor deur: na humoristiese programme op TV te kyk; humoristiese verhale te lees; humor op jou selfoon byderhand te hou.
  • Doen meer prettige dinge saam met jou gesin. Maak ’n punt daarvan om saam na snaakse flieks te kyk; om grappe vir mekaar voor te lees; om dinge saam te doen waarvan julle almal hou.
  • Moenie jou lag onderdruk omdat jy dink jou tande lyk snaaks of omdat jy dalk tussen die gelag deur snorkgeluide maak nie. Dit word maklik ’n gewoonte om liewer nié in snaakse situasies te lag nie.
  • Prioritiseer jou smaak in humor. Humor is ’n persoonlike saak en jy moet tyd maak vir dit wat jóú lagspiere kielie. Dalk is dit ’n spesifieke kome­diant of skrywer.
  • ’n Lagterapeut kan jou help om weer jou spontane lag terug te kry as jy daarmee sukkel. Terapie vind gewoonlik in groepe plaas, en dit gaan gepaard met baie oogkontak en heelwat prettige spel.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img