Leef ligter-luisterreeks: Kyk met God se oë

DEUR MILANIE VOSLOO

Kom ons wees eerlik oor verhoudings. Kom ons sê maar vir mekaar dat net so lekker en bevredigend soos wat dit kan wees, net so dikwels beleef ons onvrede, onbegrip. Ons leef tussen mekaar, elk met ons eie gebrokenheid.

Ystervarkies

John Ortberg het my geleer dat ons almal eintlik maar ystervarkies is – met ’n klomp penne. En dié penne is elk in iets ingebed: vrees, onsekerheid, persoonlike verwagtinge, dinge wat in die verlede gebeur het …

As iemand anders dan op die verkeerde tyd en verkeerde manier aan ’n bepaalde pen raak, spring dit regop. En ons maak seer of val aan. Of ons hardloop weg.

MIskien moet ons, wanneer iemand op ’n onverklaarbare manier optree, aan bogenoemde beeld dink. En dan die volgende oorweeg:

Dalk spruit daardie persoon se optrede uit vrees, of ’n diep seer, of uit minderwaardigheid. Dalk moet ons met meer deernis en begrip na mekaar kyk.

LUISTER

Ons moet God vra om ons te help om deur sy lens na mekaar te kyk – dié van vergifnis, deernis, liefde en omgee.

Kom ons probeer om ander mense te hanteer soos God dit sou doen. Al verstaan ons dikwels nie hul optrede nie.

Vra jou ook af: Wie is die ystervarkies in jou lewe?

Wie weet, dalk wil die Vader jou gebruik om ’n ander ystervarkie met sagtheid aan te raak.

Dalk wil Hy jou gebruik om deur die vlymskerp penne te breek en daardie ystervarkies bewus te maak van God se sagte liefde in hul lewe.

Ons is in en deur Christus se liefde nuutgemaak. En daarom kan ons vanuit sy oë ander omhels vir wie hulle is.

LEES EN LUISTER OOK: Leef ligter-luisterreeks: Word jy deur gebrokenheid oorweldig? Kyk dan op …

Kom ons bid elke dag dat die Gees van God ons met sy genade-liefde sal vul. En dat ons dit dan sal uitleef. Ongeag.

GEBED

Here, U ken ons. U weet wie ons is, hoe ons is. U ken ons grootste seer, pyn, verwagtinge, vrees. Maar U het ons steeds lief. U kom elke dag met u genade en omhels ons. Leer my iets daarvan. Leer my om myself met meer liefde te omhels. En om na ander mense met u oë en u begrip te kyk. En, al verstaan ons nie altyd nie, om hulle te omhels met u soort genade-liefde. Gee my u soort hart. Vandag. Elke dag.

  • In dié nuwe luisterreeks wil Milanie Vosloo gelowiges aanmoedig om in 2022 ligter te leef.
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img