Leer om met liggaam en siel in die oomblik te wees

Die koronaviruspandemie het ons van baie dinge ontneem – en ons waarskynlik selfs meer geleer. Dalk is die grootste les dié om opnuut oor ons leefwyse na te dink. Of, in sommige gevalle, om hoegenaamd daaroor te dink.

DEUR LIZETTE MURRAY

In 2020 het die koronavirus ons lewe stilletjies binnegesluip. Eers was dit onbereikbaar ver, ondenkbaar ver. Toe kruip dit ál nader, en uiteindelik kom skrop dit nes in ons werkplek en vriendekring en selfs in ons eie huis.
Die skielike besef dat niemand teen die pandemie gevrywaar is nie, het ons onkant betrap. Ons lewe het tot stilstand geknars. Ons is stom en onhandig en onmagtig gelaat. Ons het nie geweet hoe om ons nuwe werklikheid te hanteer nie.
Daarby is ons, ongevraag, met stilte gekonfronteer. Die stilte buitekant, oftewel die afwesigheid van vriende. Die afsny van die kommunikasie met die breër gemeenskap. Die opskort van ’n vertroude, intieme saamwees en aanbidding met medegelowiges.
Daar is ook die nuwe binnestilte, met ons eie gedagtes as enigste gespreksgenoot.
Ons het besef: Ons kan nie van onsself ontvlug nie.
Ons is gedwing om ons aandag op die ongemaklike stilte in ons te rig en om ’n vriendskapsverhouding met ons eie stilte te sluit.
Ons moes weer leer om aandagtig te lewe.

’n Leefwyse
Die teoloog Beverly Lanzetta sê: “Om aandagtig te lewe, is ’n lewensingesteldheid. Mense wat volledig in die ‘hier en nou’ is, sien dinge soos dit werklik is. Hul hart is ontvanklik, hul oë en ore oop, hul gedagtes sonder vooroordeel. Hulle is liggaam en siel ‘in die oomblik’.”

Winnie Nel is ’n mindfulness-instrukteur en sy lei kursusgangers tydens haar WeesNet-kursus, wat oor agt weke strek, om die volgende beginsels hul eie te maak:

  • Wees nét in hierdie oomblik
  • Ontspan
  • Moenie vasklou aan dinge wat verby is nie
  • Moenie beangs raak oor wat môre mag inhou nie
  • Gee skiet
  • Haal asem

In dié kursus is daar ’n klompie eenvoudige tegnieke wat jy moet baasraak, waarvan asemhaling deurlopend deel is. Só werk dit:

  • Asem diep in. Hou dit ’n paar sekondes so. Asem stadig uit. Probeer om aan niks anders as jou asemha­ling te dink nie. Wanneer daar wel gedagtes verbykom, kyk sonder oordeel of kritiek daarna – en laat dit verbygaan.
  • Dis belangrik om te weet dat jy nié jou gedagtes is nie; jy kan kies wat jy met jou gedagtes doen.
    Winnie gebruik die beeld van ’n boom waarvan die wortels diep geanker is. Die voëls kom sit op sy takke en die wind waai daardeur.
    En dan vertrek die wind en voëls weer, net soos gedagtes wat kom en gaan.

Die eenvoud van tot rus kom
Ons het tydens die pandemie op ’n manier ons lewensritme verloor. Ons roetine van opstaan, werk, eet, ontspan en slaap, is omvergegooi.
Ons verloor ons houvas op tyd. Ons malende gedagtes is dikwels ’n donker kolk waarin ons afgetrek word. Ons gryp rond en bont na vastighede waaraan ons ons kan anker.
As gelowige vra ek tereg: Waar begin ek om weer my treë in pas met God s’n te kry?
In sy dagboek, Hosting the presence every day, vertel Bill Johnson dat hy hom elke aand wanneer hy gaan slaap aan God se liefde oorgee. Hy sing nie lofsange of vertel God wat hy alles nodig het nie. Hy bied bloot sy woordelose liefde aan Hom – totdat hy beleef hoe sy hart deur die Heilige Gees se teenwoordigheid verwarm word.
En wanneer hy in die loop van die nag wakker word, probeer hy bewustelik om ‘in God se liefde te rus’. Totdat hy weer aan die slaap raak.
Johnson skryf: “Die nag loop uit op die dag. Begin jou dag dus reeds in die donker ure van die nag deur jou liefde aan God te bied. Wanneer hierdie bewustheid van sy erbarming en liefde deur die nag volgehou word, loop dit oor na jou dag.”

Soms wanneer ons bid, dwaal ons gedagtes, of ons raak in woorde verstrengel, of ons gebruik oor en oor dieselfde frases sonder dat ons hart in ons gebed is. Dan help dit om ’n ankergebed te bid waarna ons kan terugkom wanneer ons gedagtes hul eie koers kies.
In die psalms anker Dawid sy gedagtes met refreine wat ’n mens dwing om dit weer te lees. Om weer daaroor te dink.
Die refrein in Psalm 136 en Psalm 138 “aan u liefde is daar geen einde nie” is ’n vaste anker in ’n see van woorde. Aanvanklik mag dit dalk na ’n geykte uitdrukking klink, maar mettertyd sink die betekenis daarvan tot diep in ’n mens se gees. Jy eien God se liefde vir jouself toe. Die tydloosheid daarvan. Die oneindigheid daarvan. En die wete: Hierdie liefde is vir my bedoel.
Ons moet onsself weer anker aan God se Woord. Ons moet ons dae in Hom begin, in die eenvoud van tot rus kom by Hom en sy Woord.


LEES OOK: Vergewe, hou op vergelyk, wees dankbaar en ander pandemielesse


Ons werk aan onsself
Tydens Winnie se WeesNet-kursus word baie klem gelê op die feit dat aandagtig leef ook van ons vra om genadig teenoor onsself te wees. Ons moet let op wat ons dink en wat die uitwerking van ons denke op ons emosies en liggaam is.
Ons moet ons selfkritiek en oordeel opsy skuif. Die subjektiewe belewing van ons eie ervarings moet plek maak vir ’n objektiewe buite-oog, sodat ons na onsself kan kyk soos ons na ’n geliefde kyk: met aanvaarding, geduld, liefde en deernis, asook dankbaarheid vir wat mooi en goed is.
In haar boek The Wisdom Jesus: Transforming heart and mind skryf Cynthia Bourgeault: “Eers wanneer ons leeg word van onsself en ons vertroetelde eie ek, en selfs van ons eie onsekerhede en gebrek aan eiewaarde, kan ons ons hart en siel se deure en vensters wyd oopgooi en ander innooi om by ons te vertoef.
“Dan kan ons terselfdertyd ons medereisigers sonder oordeel of kritiese gees aanvaar.”

‘God se werk met ons . . .’
Swaarkry en verlies maak dit dikwels moeilik om beskutting in God se liefde te vind. Die ou, vertroude Bybelse beloftes maak dan eensklaps nie meer sin nie. God se stilte word soms as sy afwesigheid beleef.
’n Ma wie se kind gesterf het, vertel dat sy in haar stomme verlatenheid by
die Here se voete gaan sit en treur het, al het dit vir haar gevoel Hy is ver en onbetrokke.
Sy skryf: “Soos die tyd verbygegaan het, het Hy my vrae wat ek diep weggebêre het en nie wou formuleer nie die een ná die ander beantwoord. Hy het my baie saggies op waarhede uit die Woord gewys wat ek nie wou deurdink nie. Hy het my onuitgesproke vrae beantwoord.
“Deur bloot in stilte by Hom te vertoef en te treur, het ek insigte gekry waarna ek nie gesoek het nie. Hy het my met sy onuitspreeklike liefde en goedheid gevul. En my getroos soos niemand anders kan troos nie.”
In dié vreemde inperkingstyd het ons weer intens bewus geword van God se inwoning in ons. Hy is, in ons hedendaagse begrip, nader aan ons as ’n WhatsApp of ’n stemboodskap op ons foon.
Hy is, in Martin Luther se woorde, nader aan jou as jou hemp of rok.

“God se werk met ons begin in stilte,” sê ’n vriendin onlangs. “Ons moet daardie stilte weer en weer opsoek, sodat ons sy stem kan hoor en leer wat sy hartsverlange vir ons lewe is.
“Ons moet leer om ons ore vir die gedruis om ons te sluit en ons aandag op God, en sy stilte in ons, te vestig.”
In sy stilte ontdek ons wat dit beteken om aandagtig te lewe. Dit gebeur nie vanself nie. Dit gebeur net wanneer ons Hom opreg soek.

  • Winnie Nel is ’n Stellenbosse drama-onderwyseres en dogter van die vermoorde skrywer Winnie Rust. Sy het haar kwalifikasie in MBSR (Mindfulness Based Stress Reduction) aan die Universiteit Stellenbosch se mediese fakulteit verwerf. Sy is ’n gesertifiseerde MBSR-instrukteur.
    Vir meer inligting: info@weesnet.co.za en www.weesnet.co.za.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

#2 Dokter se winterpad met kanker: ‘Slegs die Here kan my hiervoor krag gee’

DEUR ADRI COETZEE So breek my eerste chemoterapiesessie aan. Teen die muur in die onkologie-afdeling staan dié teksvers geskryf: Neh...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img