Deur Jana du Plessis Müller

Twee onderwysers en hul twee dogtertjies van die Strand in die Wes-Kaap woon sedert 2018 in Hangzhou, China. Hulle deel met LiG hulle reispad na China, terug na Suid-Afrika, en wéér terug na China. En ook meer van hoe Covid-19 hulle lewe verander het.

Oos, wes, tuis in China

“Ek wou altyd in die buiteland werk en ander lande verken, terwyl Danielle eers nie oop was daarvoor nie,” vertel Eurice van Zijl vanuit hulle woning in Hangzhou.

Eurice en Danielle reis gereeld vanaf China. Hier is hulle saam met hulle dogtertjie Lea in Vietnam. Foto verskaf

Danielle is ’n gekwalifiseerde onderwyseres en Eurice was oortuig dat sy beter werk in die buiteland sou kry. Na hulle getrou het en ’n tydperk in Johannesburg gewoon het, het die paartjie besluit om ’n kans te vat deur aansoek te doen vir werk in die buiteland.

“Ons het ons hart gehad op Dubai,” vertel hulle, “maar toe gebeur China. Ons het glad nie in China belanggestel nie, omdat ons geglo het die kultuur is nie vir ons nie, want dis net te anders as ons eie kultuur.”

Die agent wat met hulle aansoek gewerk het, het hulle aangeraai om navorsing te doen oor China voor hulle ’n finale besluit neem. So het die Van Zijls met Suid-Afrikaners gesels wat in China gewoon het en reeds hulle gesinne daar gevestig het.

“Ons was verbaas om te hoor dat baie gesinne vreeslik gelukkig in China woon en die plek geniet,” sê Eurice.

Nie net is China se doeltreffende sisteme vir hulle gemaklik nie, maar die werksgeleenthede is ook volop, vertel Eurice en Danielle. Foto: Krystle Carr

“Daar is dele in China wat regtig mooi is. Daar is minder mooi dele, maar oor die algemeen is dit regtig ’n mooi, groen en skoon plek.”

Nie net is die land se doeltreffende sisteme vir hulle gemaklik nie, maar die werksgeleenthede is ook volop. Eurice het kort ná Danielle werk gekry by dieselfde skool, en vinnig-vinnig het die paartjie ’n nuwe lewe begin bou. Hulle eersteling, Lea, het goed aangepas by haar Engelse skooltjie en in 2019 vind hulle uit dat Danielle swanger is met hul tweede dogter.

Covid-krisis

Aan die begin van 2020 het die Van Zijl-gesin uitgesien na die koms van hulle tweede dogtertjie, Mira, sowel as ’n kort vakansie in Suid-Afrika.

“Maar toe gebeur Covid,” vertel hulle. “China was reeds ingeperk en internasionale vlugte het al hoe minder geraak. Ons moes vinnig spring en vlugte bespreek, omtrent ’n maand vroeër as wat ons beplan het.”

Eers het Danielle en die 4-jarige Lea gearriveer, en Eurice ’n paar weke later. Wat eers ’n geboorte en ruskans in Suid-Afrika moes wees, het ’n agt maande lange inperking en ’n tyd van ontwrigting geword.

“Aan die begin van Suid-Afrika se inperking het ek nog aanlyn klas gegee vir die skool in China waarvoor ek toe gewerk het,” sê Eurice. “China het weer begin funksioneer, maar die grense was gesluit vir buitelanders. Ek en my vrou het ons werk verloor.”

Die Van Zijl-gesin het eers by familie op Somerset-Wes gewoon en later by familie op Middelburg.

“Die lockdown-tyd het ons baie van onsself geleer. Dit was erg om saam met familie in beknopte omstandighede te probeer funksioneer, maar terselfdertyd kon die kinders tyd saam met hulle familie spandeer. As jy so op mekaar woon, kan jy nie wegkruip nie, so jy moet met mekaar praat. Dit was ’n tipe blessing.”

Eurice vertel dat ’n vriend hom gekontak het vir werk op Middelburg. “Dit was net God se genade om ’n geleentheid te kry. Ons het sak en pak Middelburg toe getrek en daar het ek vir vier maande gewerk.”

Na die werkskontrak geëindig het, was die gesin weer tussen die boom en die bas. Waarheen nou? Internasionale lugrederye het beperkte vlugte beskikbaar gestel en daar was die uitdagings rondom visums en Covid-toetse.

“Dit was chaoties,” sê Eurice. “Ek moes deur ’n agentskap werk wat vir ons werksgeleenthede gereël het, briewe geskryf het en gehelp het met die hele proses om ons visums uit te sorteer. Dan moes ons ook Covid-toetse laat doen wat geldig is vir 72 uur, en dan moet dit boonop na die Suid-Afrikaanse konsulaat gestuur word vir goedkeuring voor ’n mens mag reis.

“Om nie eens te praat van die koste van die vlugte nie.”

Dit het ’n stewige bedrag gekos vir vier vliegtuigkaartjies en die goedgekeurde, gestempelde toetse het gearriveer minute voor die gesin op die lughawe aangeland het.

Eurice saam met hulle tweede dogtertjie Mira. Foto verskaf

Na 33 ure van reis het die gesin in Hangzhou aangekom, waar hulle eers vir 14 dae in ’n hotel in kwarantyn moes bly.

“Die hotelkamer was mooi, maar ook stresvol,” vertel hulle. “Want hier sit jy in een kamer saam met jou gesin en twee kinders onder vyf jaar.

“Ons moes ook daagliks ons temperatuur op ’n WeChat-groep deel. En al het ons ’n oulike stoepie gehad, mag ons nie daarop uitgegaan het nie.”

“Maar ten spyte van alles, is ons só dankbaar en geseënd om terug te wees,” sê Eurice beslis.

Die Van Zijls is lief daarvoor om hulle area te verken en hulle klim graag naweke op ’n trein en ry die vreemde in. “Ons ry op e-fietse werk toe wat jy kan huur vir so min as R2, en dan ry ons trein as ons verder wil gaan. Alles werk net hier. Dis effektief en alles is op tyd.”

Boere-Kersfees in China

Die gesin beplan ’n tradisionele boere-Kersfees saam met ander Suid-Afrikaners.

“Kersfees is oor die algemeen nie groot in China nie. Hier woon wel baie Westerlinge, so China akkommodeer mense wat dit vier.

“Ons is erg oor familie en om tyd saam met geliefdes te spandeer, so ons gaan ons vriende oornooi na ons ruim huis in Hangzhou hierdie jaar. Ons beplan ’n Kersboom met geskenke, ’n skaapboud in die oond, en malvapoeding …”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail