‘Gebruik die Blou Feetjie om met kinders oor die dood te praat,’ sê Lizette Rabe

DEUR ENGELA DUVENAGE

Met die verskyning van Blou Feetjie (Naledi, R175) voeg Lizette Rabe nou ook “kinderboekskrywer” by haar reeds indrukwekkende CV. Dit sluit dus aan by inskrywings soos eertydse redakteur van die vrouetydskrif Sarie en professor in joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. En die persoon wat die Ithemba Stigting geloods het, ’n belangrike stem vir diegene wat aan psigiese siektes ly.

Met haar blinkblou vlerkies en ’n hart so groot soos ’n hotel wil Blou Feetjie altyd sorg dat alles en almal gelukkig is. Dié vrolike siel oortuig selfs Son, Reën, Wind en Tarentaal om te help om die aarde ’n gelukkige plek te hou. Haar gunstelingspeelgoed is haar tien Baie Spesiale Stene – wat elk “’n wysheid in hulle binneste” het: die Stene van Wees, Respek, Wysheid, Eerbied, Verantwoordelikheid, Eerlikheid, Barmhartigheid, Dankbaarheid, Blydskap en Rus.

“As ’n mens ’n kind verloor, het jy alles verloor. Jy sterf saam met jou kind. As nuwe mens moes ek nuwe hoop soek. As hierdie soort psigiese siektes die siektes van wanhoop is, moet ons vashou aan hoop. Daarom is die kleur van die bewusmakingstrikkie vir depressie en verwante siektes blou, want blou versinnebeeld optimisme, positiwiteit, harmonie. Bowenal vrede. Daarom, natuurlik, is dit die Blou Feetjie, met haar hemelsblou-vir-hoop-hartjie …” vertel Lizette Rabe.

Lizette het dié keurige 37-bladsye-boekie geskryf met haar kleindogter in gedagte. Haar wens is dat die ligvoetse Feetjie en haar slim Stene klein en groot sal help om die mensdom se morele kompas te herontdek, en om begrippe rakende omgewingsbewaring, die dood, en psigiese siektes beter te verstaan.

Hoe het vorige skryfwerk en belewenisse tot Blou Feetjie bygedra?

Hierdie is eerder ’n geval van ’n omgewing betree waar engele versigtig trap. Ek skryf joernalisties en akademies. Ek is immers in wese ’n joernalis wat ook akademies navors en skryf.

Ek is seker nie heeltemal onskuldig aan kinderboek-skryf nie. Met ons eersteling se eerste wisseltandjie het ek vir hom ’n storie oor die tandemuis geskryf. Op stemdag op 27 April 1994 (nou Vryheidsdag) is ek deur my drie kinders geïnspireer, wat elk op hul magie lê en ons nuwe landsvlag teken, om ’n storie te skryf oor ons Suiderland en al haar mense en diere wat hopelik in harmonie ’n nuwe heelheid sal kan vorm.

LEES OOK: ‘Jou moeilike emosies is nie sonde nie,’ sê skrywer ná man se parkinsonstryd

Maar eintlik kan Blou Feetjie op soveel vlakke gelees word, want inherent het dit ’n Nietzschiaanse wysheidsbeginsel van die “ewige wederkeer van dieselfde” as grondslag. Dis danksy my liewe Filosofieprofessor, prof Willie Esterhuyse, wat reeds sedert my eerstejaar vir my ’n mentor is.

Die dieper gelaagdheid in Blou Feetjie gaan eintlik oor die siklus van die lewe en, ja, my interpretasie van die ewige lewe. Dit sluit ook aan by die woorde wat oor en oor in een van my gunstelingdigters, TS Eliot, se magistrale Four Quartets eggo: “What we call the beginning is often the end / And to make an end is to make a beginning. / The end is where we start from.”

Hoe hoop jy sal jou verhaal kinders sowel as volwassenes se hart raak?

’n Mens kan sekerlik net hoop dat dit ’n bydrae kan lewer tot hoe hulle dalk met meer deernis na hul medemens begin kyk en meer vir ons planeet begin omgee. En dat die doodsbegrip weer deel van die moderne mens se lewe word – as iets natuurliks, eerder as iets wat daar ver in ’n hospitaal gebeur.

Vertel van ’n stukkie hoop wat in Blou Feetjie opklink.

Die boek se sentrale tema is eintlik hoop. Hoop dat ons mekaar beter sal behandel, beter sal verstaan. Hoop dat ons die aarde beter sal behandel. Ons moet vir die aarde sorg, anders kan dit nie vir ons sorg nie. Hoop dat ons ’n beter begrip van ons plek in die heelal het en hoe die Ewige deel van ons “hier en nou” is.

LEES OOK: Reisjoernaal volg ma se pad ná dogter se selfdood

Nadat ons een van ons geliefde kinders aan ’n depressie verloor het wat fataal ontwikkel het, het ek, om te probeer sin vind in wat nie sin maak nie, die Ithemba (“hoop” in Xhosa) Stigting tot stand gebring. Dit het twee openbare doelwitte: bewusmaking van depressie en verwante siektes – soos die hele angsstoornis-kontinuum – ten einde die stigma en stilte te breek. En om navorsing te steun.

As ’n mens ’n kind verloor, het jy alles verloor. Jy sterf saam met jou kind. As nuwe mens moes ek nuwe hoop soek. As hierdie soort psigiese siektes die siektes van wanhoop is, moet ons vashou aan hoop. Daarom is die kleur van die bewusmakingstrikkie vir depressie en verwante siektes blou, want blou versinnebeeld optimisme, positiwiteit, harmonie. Bowenal vrede.

Daarom, natuurlik, is dit die Blou Feetjie, met haar hemelsblou-vir-hoop-hartjie, wat nooit nie ooit nie kan vergaan, want die liefde vergaan nooit.

Hoekom het jy juis hierdie spesifieke boek geskryf?

Buiten dat ek ’n boekie vir ons kleinkind wou skryf, glo ek ook aan skryfterapie*. Die idee daaragter het lank voor haar ontstaan, soos wat stories hulle maar kom tuismaak in ’n mens se kop.

Die skryf van Blou Feetjie was dus ’n tweeledige impuls: Daar is my eie skryfterapie oor die verganklikheid van alles, maar tog ook die wederkerigheid van alles, die ewige siklus van lewe. En tweedens ’n storie vir ons kleinkind wat hopelik haar generasie sal help om daardie morele kompas te herontdek en ons aarde en samelewing in ’n liewer, beter, gesonder, barmhartiger bestaan te omskep.

Sonder psigiese gesondheid ís daar nie gesondheid nie. Dis die grondslag van ons menslike funksionering. Ons kán nie funksioneer as ons brein, ons belangrikste orgaan, wanfunksioneer weens ’n kliniese, biologiese siekte nie – ongeag in watter ontwikkelingsfase die siekte is en watter soort psigiese siektes ter sprake is.

Dis belangrik dat die stigma en stilte rakende psigiese siektes verbreek word. Sodoende kan mense wat daaraan ly, leer om ’n gehaltelewe te lei. Net soos iemand wat aan ’n siekte soos diabetes of asma ly en dit volgens die jongste mediese wetenskap kan bestuur. Dit kan net gedoen word deur die onkunde, wat stigma tot gevolg het, teen te werk – met inligting en kennis. Die soort inligting en kennis dat psigiese siektes net sulke kliniese, biologiese siektes is soos enige ander siekte.

In hierdie geval, soos gesê, is dit ons belangrikste orgaan wat wanfunksioneer omdat die nodige neuro-oordragstowwe nie afgeskei word nie.

Ek verkies “psigiese siektes” omdat dit meer wetenskaplik is as die argaïese “geestessiektes” of “geestesgesondheid”. Hierdie siektes het niks met die mens se gees – hoe jy dit ook al definieer – te make nie, maar alles met die mens se belangrikste orgaan, die brein.

Hoe kan volwassenes die boek in hul gesprekke met kinders gebruik?

Buiten dat feetjies deel is van die verbeeldingswêreld van kinders (en grootmense), vorm die tien wyse stene met hul universele waardes en beginsels ’n morele kompas vir die 21ste eeuse mens. Daarmee saam, op ’n ander vlak, is daar ook die verganklikheid van die lewe: dat die feetjie ook weer stof word, maar dat sy tog deel bly van die ewige.

Tog vergaan die liefde – haar hartjie – nooit nie.

Mense kan die boek dus gebruik om met kinders oor dood te praat, veral in dié Covid-19-tyd. Hierdie “sagter” omgang met die verganklikheid van alles wat lewe, en tog weer deel word van alles wat lewe, is vir my veel meer aanvaarbaar as die brutale geweld en dood in byvoorbeeld sprokies, of selfs in die woorde van die Afrikaanse kinderliedjie “Siembamba”.

Wat het jy in die skryfproses geleer?

Dat skryf die grootste avontuur bly.


Vertel iets oor van die terugvoer wat jy reeds ontvang het.

Iets wat ek nie verwag het nie is dat die Feetjie nogal bewonderaarspos  sou kry! Kinders én grootmense skryf wat die boek vir hulle beteken. Volwassenes vertel ook oor hul kinders se gunstelingstene.

Vertel meer oor die illustrasies.

Ek is so dankbaar dat Mandi Fuchs dadelik die idee van die Feetjie gesnap het. Mandi en ek het saam by Sarie gewerk, waar sy in die grafiese kunsspan was en ook ons agterblaaie geïllustreer het. Toevallig is ons kleinkinders ewe oud, albei drie. Die twee poppedyntjies verskil net ses weke van mekaar, dus is hulle op dieselfde ontwikkelingsvlak.

Mandi het die idee van ’n soort rabbedoe-feetjie dadelik gekonsepsualiseer. Ons het ook besluit om plek-plek emoji’s te plaas om iets van deesdae se digitale wêreld by die illustrasies in te bou.

Ek hoop kinders – en grootmense – ontdek ook al die elemente in die illustrasies: die spirale, wat die ewige siklus van lewe voorstel. En, byvoorbeeld, dat by die Steen van Barmhartigheid die hele illustrasie se “raam” ’n hart is.

* Lizette Rabe se boek Om tot verhaal te kom handel juis oor skryf as terapie. Dit het in 2019 by LAPA-uitgewers verskyn.

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img