Lasagne, frikkadelle, bolognese, tuisgemaakte burgerpatties – dis almal maalvleis se maaksels. Jy kan met hierdie basiese vleissnit vir elke gesinslid se smaak iets voorberei. En sommer vir vriende en kuiergaste ook.

DEUR HELEEN MEYER; FOTO’S: BERNA COETZEE

Basiese maalvleismengsel
Resep uit Maak vyf
Lewer 4-6 porsies

Jy benodig

  • 15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
  • 500 g maer beesmaalvleis
  • 1 groot ui, gekap
  • 2 knoffelhuisies, gekneus
  • 2 wortels, grofgerasper
  • 1 lourierblaar
  • 10 ml (2 t) gemaalde koljander
  • 1 x 50 g-pakkie tamatiepasta
  • 1 x 410 g-blik gekapte tamaties
  • 125 ml (½ k) rooiwyn of sterk Rooibostee
  • 80 ml (¹∕³ k) gekapte vars kruie wat jy verkies, byvoorbeeld Italiaanse pietersielie, origanum, roosmaryn of tiemie
  • Suurlemoensap, sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Jy maak só

  1. Verhit ’n bietjie van die olie oor matige hitte in ’n groot kastrol en braai die maalvleis in sarsies tot goudbruin. Skep uit en hou eenkant.
  2. Verhit die res van die olie in dieselfde pan en soteer ui en knoffel ’n paar minute lank. Roer die wortels, lourierblaar en koljander by en soteer 3-5 minute. Roer die tamatiepasta by en soteer 1-2 minute tot effens verdik.
  3. Roer die maalvleis met die tamaties by en spoel die leë blikkie met die wyn of tee uit. Roer die vloeistof en kruie by en geur na smaak met suurlemoen, sout en peper.
  4. Verhit tot kookpunt, stel die hitte laer en laat prut 30 minute met die deksel op, of tot gaar. Geur na smaak en gebruik op enige van die voorgestelde maniere.
    (Sien die resepte hiernaas.)

Griekse maalvleis-en-eiervruggebak

Resep uit Maak vyf

Lewer 4-6 porsies

Griekse maalvleis-en-eiervruggebak

Jy benodig

  • 1 x basiese maalvleismengsel (Resep hierbo)
  • 30 ml (2 e) elk grofgekapte vars kruisement en origanum
  • 150 g kersietamaties
  • 30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
  • 2 groot eiervrugte, in die lengte in skywe gesny
  • 50 g wit cheddar- of pecorinokaas, fyngerasper

Jy maak só

  1. Berei die maalvleismengsel soos hierbo beskryf. Roer die ekstra kruie en kersietamaties by en geur.
  2. Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan en braai eiervrug tot ligbruin en byna gaar. Skep uit en herhaal die proses, maar moenie te veel olie gebruik nie.
  3. Voorverhit die oond tot 180 °C. Skep die maalvleis in lae met die eiervrug in ’n 15 x 23 cm oondvaste bak. Eindig met ’n laag eiervrug.
  4. Strooi die kaas bo-oor en bak tot goudbruin.

Basiese maalvleismengsel op patats
Rooster heel patats in die skil tot dit gaar en goudbruin is. Sny ’n diep keep in elke patat en vul met die maalvleis. Strooi grofgerasperde wit cheddarkaas oor en sit met slaai voor.Herderspastei van basiese maalvleismengsel
Lewer 4-6 porsies

Jy benodig

  • 1 x basiese maalvleismengsel (resep op bl 59), maar sonder die blikkie tamaties voorberei, en met die
  • volgende bestanddele:
  • 125 g sampioene, in skyfies gesny
  • 375 ml (1½ k) bevrore groente, afgespoel
    Bolaag
  • 750 g botterskorsie, in blokkies gesny en gaargemaak
  • gemaalde neutmuskaat na smaak, plus ’n ekstra knippie vir garnering
  • 10-15 ml (2-3 t) olyf- of avokado-olie of na smaak
  • Suurlemoensap, sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Jy maak só

  1. Berei die maalvleismengsel soos op bl 59 in die basiese maalvleisresep beskryf, maar soteer die sampioene
    saam met die ui en knoffel.
  2. Volg die resep soos in stap 2 en 3. Roer die maalvleis by, maar laat die blikkie tamatie uit. Roer die vloeistof by.
  3. Prut die maalvleis 30 minute lank oor matige hitte, roer die bevrore groente by en prut tot deurwarm. Geur na smaak.
  4. Bolaag: Dreineer botterskorsie deeglik en druk fyn. Geur met neutmuskaat, olie, suurlemoensap, sout en peper, maar moenie die mengsel te loperig maak nie. Voorverhit oond tot 180 °C.
  5. Verdeel die maalvleismengsel tussen 4-6 individuele oondvaste bakkies of een groot oondbak. Skep die botterskorsie bo-op en versprei eweredig, strooi nog neutmuskaat oor en bak dit 30-40 minute lank of tot goudbruin bo-op.

Maak ’n slag dié klein frikkadelletjies op pastarys as ’n geurige manier om dit voor te sit. En terwyl jy frikkadelletjies maak, kan jy dié deel van die resep sommer verdubbel. Klein frikkadelletjies is ewe lekker warm of koud en ideaal vir ’n kosblik of om vir ’n volgende ete te vries.

Varkfrikkadelle met suurlemoen en kruie op pastarys
Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer 4-6 porsiesVarkfrikkadelle

Frikkadelle

  • 500 g maer varkmaalvleis
  • 1 groot knoffelhuisie, fyngedruk
  • 20 ml (4 t) fyngerasperde vars gemmer
  • 10 ml (2 t) elk fyngerasperde suurlemoen- en lemoenskil
  • 10 ml (2 t) gemaalde koljander
  • 15 ml (1 e) gemaalde komyn
  • 60 ml (¼ k) gekapte vars koljanderblare
  • ½ klein tot middelslag ui, fyngerasper
  • 1 groot eier
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • Olyfolie om in te braai

Pasta

  • 300 g pastarys (“orzo”) of penne
  • Sap en skil van 1 suurlemoen
  • 30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
  • 80 ml (¹∕³ k) suurroom of volroom ongegeurde jogurt
  • 2-3 groot hande vol babaspinasie
  • 1 groot hand vol Italiaanse pietersielie en koljanderblare
  • Ekstra suurlemoenskil en olyf- of avokado-olie om mee voor te sit

Jy maak só

  1. Frikkadelle: Plaas maalvleis in ’n groot mengbak en breek met ’n groot vurk uitmekaar. Voeg al die orige bestanddele behalwe die olie by, en meng goed deur. Geur na smaak en rol in klein balletjies.
  2. Verhit intussen die helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan. Verbruin helfte van die frikkadelle aan albei kante tot goudbruin, maar nog nie gaar nie. Herhaal die proses en plaas al die frikkadelle
    terug in die pan.
  3. Laat prut frikkadelle 5-8 minute met die deksel op. Of tot net gaar, maar steeds sappig.
  4. Pasta: Kook intussen die pasta volgens die aanwysings op die verpakking tot net sag, maar nie pap nie (dit wil sê “al dente”). Dreineer deeglik en plaas dit dadelik terug in die warm pot.
  5. Roer die sap en skil van die suurlemoen met die olie en suurroom of jogurt by.
  6. Roer die spinasie en kruie by en geur met sout en peper. Skep pasta op ’n warm opdienbord met die warm frikkadelle bo-op. Sit dit met die ekstra suurlemoenskil en olie voor.

Wenk
Vra jou slagter om varkvleis vir jou te maal as dit nie reeds vooraf verpak beskikbaar is nie. As jy regtig sukkel om dit in die hande te kry, sal beesmaalvleis ook werk.

Elkeen het ’n eie manier om ’n hamburger te maak, maar die belangrikste element bly die pattie. Niks kan by die tuisgemaakte weergawe kers vashou nie. Dit bly die lekkerste en beste manier om te verseker dat die pattie sappig en geurig is.

Bou ’n hamburger
Resep aangepas uit Kos is op die tafel!
Lewer 4 porsies

Jy benodigHamburger
Patties

  • 500 g maer beesmaalvleis
  • 5 ml (1 t) gemaalde koljander
  • 30 ml (2 e) fyngekapte Italiaanse pietersielie en origanum
  • 20 ml (4 t) goeiegehalte blatjang
  • ½ klein ui, gerasper of baie fyn gekap (druk alle oortollige vloeistof uit)
  • 1 ekstragroot eier
  • Suurlemoensap, sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
  • Olyf- of avokado olie om die patties in te braai

Om mee voor te sit

  • broodrolletjies
  • tuisgemaakte gekaramelliseerde uie
  • agurkie-, tamatie- en komkommerskyfies
  • slaai- en kruieblare soos julle verkies
  • blatjang, tamatiesous, jogurt, suurroom

Jy maak só

  1. Plaas maalvleis in ’n groot mengbak en breek met ’n groot vurk uitmekaar.
    Voeg al die orige bestanddele behalwe die olie by en meng goed met jou hande deur om dit saam te bind.
  2. Geur na smaak en vorm maalvleis in 4-5 groot patties (ongeveer 180-200 g elk). Laat die patties ’n paar minute lank staan voordat dit gebraai word.
  3. Verhit intussen ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n groot braaipan.
    Verbruin die patties aan albei kante tot goudbruin, maar nog nie heeltemal gaar nie.
  4. Verlaag die hitte en sit die deksel op.
    Panbraai patties 5-7 minute lank of tot net gaar, maar steeds sappig.
  5. Sit die patties op broodrolletjies voor en met ander bestanddele wat julle verkies.

Siedaar – ’n heerlike burgerete!
Dis ekstra gesellig as elkeen ’n eie burger kan bou.

Wenk
Bobotie-burgers is ’n vinnige idee as jy lus het vir bobotie maar nie tyd het om dit te maak nie. Voeg 10 ml elk kerriepoeier en gemaalde komyn met die koljander by die maalvleis. Vervang die blatjang met appelkooskonfyt en die Italiaanse pietersielie met vars koljanderblare as jy wil. Sit dit met suurroom of blatjang en nog koljanderblare
voor.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail