8 Februarie 2021


DEUR RENÉ BADENHORST

“Wie het julle getoor? Christus is dan só duidelik vir julle beskryf dat julle Hom as ’t ware aan die kruis kon sien hang! Ek wil net dit vir julle vra: Het julle die Gees ontvang deur die wet te onderhou, of deur te glo wat julle gehoor het? Hoe kan julle so dwaas wees? Wil julle dit wat die Gees in julle begin het nou uit eie krag probeer klaarmaak?” (Gal 3:1-3 – Nuwe Lewende Vertaling).

Ai, Paulus kon darem reguit wees! Tog slaan hy die spyker telkens op die kop. Die Galasiërs het bly vashou aan die geloof dat die onderhouding van wette hul saak met God sou regmaak.

LEES OOK: Maandag-inspirasie: Jy sal gedra word!

Ons raak ook maar soms deurmekaar. Ons aanvaar Jesus as ons Redder en sê sy krag werk in ons, maar in werklikheid haak ons vas in ’n patroon om in ons eie krag geestelik te probeer groei, en die lewe só aan te durf.

Dan word ons baie moeg.

Jim Yost, ’n dissipelmaker in Papoea Nieu-Guinee, se raad aan jonk en oud, oerwoudbewoners en stedelinge, is dieselfde: Om in ons verhouding met God te groei en Hom in ons lewe te laat werk, is soos om asem te haal:

Asem uit. Dank en prys God. Kry jou gewete skoon. Bely jou sonde so gereeld moontlik teenoor God. Vertel Hom wat jou pla. Hiermee stem jy daartoe in dat Hy daardie dele in jou lewe nuut maak.

Asem in. Nooi God in jou hart en gedagtes in. Bring tyd by Hom deur, en by sy Woord. Wat leer jy oor God? Wat hoor jy Hom sê?

LEES OOK: Kategese: Nou aanlyn beskikbaar

Oop oë. Wees gehoorsaam en soek na geleenthede om te doen wat God jou gesê het om te doen. Wanneer jy besig is om sy wil te doen, is jy soos ’n instrument waardeur sy Gees werk.

Is jy bereid om dit te waag op ’n plek waar God jou verder as jou eie vermoëns kan neem?

 

Bid saam met my

Here, ek wil na aan U wees, sodat u teenwoordigheid my met u liefde en krag vul. Wys my as daar iets in my lewe is waarvan U ontslae wil raak. Vul my met u Gees, sodat ek meer soos U kan wees. In Jesus se Naam.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail