Maandag-inspirasie: Elke ledige oomblik

DEUR FRANCINE PRINS

Beurtkrag. My foon is pap en die internet af. Eensklaps voel my wêreld leeg. Wat bly oor? Sal ek begin om die huis skoon te maak?

Of sal ek die ontoelaatbare doen – sommer net sit en dink? Oor die lewe en oor my mense en oor die wêreld?

 

 

Wat van die Bybel? Welgeluksalig, sê die digter van Psalm 1, is die mens wat die woord van die Here dag en nag oordink.

Ons besige lewe en alomteenwoordige skerms weerhou ons daarvan om hierdie welgeluksaligheid te beleef. Tog is daar in elke dag ’n paar oomblikke waartydens ons kan kies om sommer net te sit. Te sit en dink. Om ons gedagtes in die rigting van God se woord te stuur.

Daardie twee minute terwyl ek tande borsel. Die drie minute wat dit duur om ’n koppie koffie te maak. Die kort rukkie wat my kleuter tevrede op haar eie speel. Of die tydjie wat ek werk of winkel toe ry. Dis alles geleenthede om die woord van die Here te oordink.

Dit gaan oefening kos, maar dit sal die moeite werd wees. God is in elk geval elke oomblik hier. Ons het die voorreg om Hom hier te ontmoet, om te ontdek waarmee Hy besig is. Om te hoor wat Hy fluister, wat dikwels woorde uit die Bybel is.

Hoe meer tyd ons inruim om Bybelgedeeltes te memoriseer, hoe ryker en dieper gaan daardie ledige minute wees waarin ons kies om God se woord te oordink. Die uiteinde is ’n lewe van oorvloed. Ek word ’n mens wat gedy “soos ’n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak” (Ps 1:3).

Francine Prins is verantwoordelik vir LiG se sosiale media en aanlyn gemeenskap. Sy is ook die redakteur van die gedrukte LiG.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img